praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Friday, 10. February 2012

Bygewerk op:09:59:45 AM GMT

Jy is hier: Dan Roodt Poskaart uit Jerusalem

Poskaart uit Jerusalem

E-pos Afdruk PDF

Die afgelope paar dae is ek op uitnodiging hier in Jerusalem. Ek is aangenaam verras deur hierdie ou, ou stad met sy sandkleurige, geometriese geboue van Jerusalemsteen, die versamelnaam vir allerlei soorte kalksteen wat al eeue lank hier vir bouwerk gebruik word. 'n Mens dink onwillekeurig aan D.J. Opperman se "engel uit die klip", want hier bou die mense geboue om vir ewig te hou.

Op straat sien 'n mens vele ortodokse Jode, die mans met hul kenmerkende breërand, swart hoedens en die vroue met kopdoeke. Blykbaar is die geboortesyfer van ortodokse en sogenaamde ültra-ortdokose" Jode gelykstaande aan meer as sewe kinders per vrou, met die gevolg dat reeds 70% van die stad se inwoners uit polities regse, ortodokse Jode bestaan. Die laer gradeklasse op skool is reeds deur hierdie groot aantal godsdienstige kinders oorgeneem.

Ook die Afrikaner beskik, anders as die meeste Christene, oor 'n sin en 'n liefde vir die Ou Testament, die verhaal van die Israeliete se swerftog in die woestyn nadat Moses hulle uit Egipteland uitgelei het. Dan is daar die jaar 1948 wat sowel die aanvang van die staat Israel as die bewindsoorname van die Nasionale Party in Suid-Afrika gesien het. Gedurende die sewentiger- en tagtigerjare was daar militêre samewerking tussen Israel en Suid-Afrika. Met die val van die Afrikaner in Suid-Afrika ná die De Klerk-oorgawe, het ons land een van die mees anti-Israelse state ter wêreld geword met die ANC wat openlik vir die Palestyne teen die Jode kant kies.

Afrikaners en Jode het vele dinge in gemeen, onder andere dat ons in die wêreld ongewild is. Die Afrikaner se politieke selfmoord het hom nie gewilder gemaak nie. Inteendeel, terwyl ons voorheen in 'n mate deur ons vyande gevrees en dus gerespekteer is, word ons tans net geminag en is veronderstel om ons ondergang en verdwyning as volk en kultuur met blybmoedigheid tegemoet te gaan. Vandag gaan die grootste radiostasie in Israel met my 'n onderhoud voer en dit is een van die dinge waarteen ek die luisteraars wil waarsku, naamlik dat oorgawe terwille van vrede aan jou vyande soos die Afrikaner dit gedoen het ten alle koste deur Israel vermy behoort te word. Dis beter om ongewild te oorleef as om te sterf.

Die Afrikaner, wat tans op soek is na sy Nuwe Jerusalem of 'n nuwe volkstaat waar ons uiteindelik veilig en voorspoedig sonder diskriminasie sou kon leef, kan egter ook vele lesse by die Israeli's leer. Golda Meir het op 'n stadium gesê: "Ons beskik oor 'n geheime wapen; ons het nêrens anders om heen te gaan nie." Is dit nie ook die geval met ons nie? Die ander Europeërs in Afrika - Britte, Franse, Portugese - kon almal na hul lande van oorsprong terugkeer toe hulle deur revolusionêre swart bewinde verdryf is, maar ons staan met ons rûens teen die see.

Ek is verras deur die groot aantal mense in Israel wat ons steeds goedgesind is. Vele Afrikaners is geneig om Jode aan die hand van radikale, kommunistiese Jode van die SAKP en ANC gelyk te stel, maar Israel is oorwegend 'n konserwatiewe land en raak by die dag meer konserwatief, vanweé die hoë geboortesyfer van die ortodokses.

Terwyl Jerusalem die godsdienstige en politieke hoofstad van die land is, verteenwoordig Tel Aviv die sekulêre handelsentrum'n soort Johannesburg met hoë geboue, banke en ander maatskappye. Die Ben Gurion-lughawe is 'n pragtige gebou, met iets monumentaals daarin, 'n soort eietydse weergawe van die Bauhaus. Onderweg na Tel Aviv in die bus en omring deur klipwande langs die snelweg, sien ek skielik 'n olyfboord wat hom in Bybelse simboliek aan my opdring. Dis belangrik om vrede na te streef, sowel vir Jode as Afrikaners, maar indien jou vyand nie tot vrede bereid is nie, is daar geen ander keuse as om self paraat te wees nie.

Oral in Israel by winkelsentrums word 'n mens vir potensiële bomme of wapens gekontroleer, net soos in Suid-Afrika in die tagtigerjare ná die Kerkstraatbom toe die ANC stedelike terreur teen ons gepleeg het. Vandag vrees ons nie meer b omme in die winkelsentrums nie, maar wel die konstante aanvalle deur rassemoordenaars, verkragters en rowers wat blykbaar kenmerkend van "vrede en demokrasie" in Suid-Afrika geword het. Ek vra myself af wat nou eintlik die beste is: om 'n eksterne vyand te hê wat bereid is om terreur te pleeg of om jou vyand aan die boesem te druk sodat hy jou in jou garagepad, in jou huis of op jou plaas kan kom aanval? Op straat in Israel voel ek veel veiliger as in Suid-Afrika, want geweldsmisdaad is hier laag en die bevolking is min of meer homogeen Joods, met Arabiere wat apart in hul eie buurte woon.

Die Duitse politieke filosoof Carl Schmitt het beweer dat vyandskap 'n mens se politieke verhoudinge met ander bepaal en dit is baie waar. Daar gaan nie 'n dag in Suid-Afrika verby dat ons nie daarvan bewus raak, hetsy deur die uitsprake van Malema, hetsy deur die arsenaal rassewetgewing wat die ANC voortdurend teen ons ontplooi, dat ons steeds in 'n staat van vyandskap met die radikale swart elite van Suid-Afrika leef nie. Al is daar geen bomme in supermarkte meer nie.

Opvallend oor Israel is die wyse waarop Hebreeus as nasionale taal gehandhaaf word. Weliswaar is die meeste openbare tekens tweetalig in Hebreeus en Engels, maar die Hebreeus staan altyd bo om die prioriteit aan te dui. Ander kennisgewings is geheel en al net in Hebreeus en almal praat dit op straat, in winkels en restaurante.

Anders as die Jode van Israel, het die Afrikaner nog nooit sy openbare ruimte behoorlik kon verafrikaans nie en sedert 1994 het ons natuurlik net die agteruitgang van Afrikaans as openbare taal beleef. Tog beskik Afrikaans steeds oor dieselfde potensiaal om in ons toekomstige volkstaat of Afrikaanse republiek 'n volwaardige nasionale taal te word wat ons mense kan saamsnoer en saambind.

Hier in die Midde-Ooste, die geboorteplek van godsdienste en kultusse, raak 'n mens bewus van die opkoms van godsdiens - en godsdiensoorlog - in ons tyd. Die sekulêre wêreld van Wes-Europa wat sedert die Franse revolusie in 1789 kerke en staat apart gehandhaaf het, is sienderoë besig om te vergaan terwyl Islam veral besig is om 'n nuwe teokrasie op die wêreld af te dwing. Dat Europa uiteindelik, juis vanweë die dalende geboortesyfer van agnostiese en sekulêre Europeërs, 'n Moslem-kontinent mag word, lyk feitlik onafwendbaar.

Terwyl ek so verby die olyfboord en die rotswande in die Heilige Land reis, dink ek weer aan Afrikanerrevolusie, 'n begrip wat so tien jaar gelede veral deur Carel Boshoff IV voorgestaan is. Soos Israel, sal die Afrikaner sy eie oorlewingsmodel moet vind en moet besef dat politiek, godsdiens en demografie alles ineengestrengel is, sonder die netjiese intellektuele afbakenings wat die filosowe van die Europese Verligting aan ons nagelaat het. Soos vele politieke wetenskaplikes en ontleders al aangedui het, is die tydvak van die Verligting besig om ten einde te loop. Ons word meer en meer gemotiveer deur, hetsy geloof in die klassieke sin, hetsy deur 'n soort herrese primitiwisme en heidense barbarisme wat in die plek van die gestorwe Verligting gekom het. In Suid-Afrika beleef ons wreedheid en 'n bloedlus op 'n vlak soos dit kwalik onder die Asteke van Meksiko bedryf is toe mense daagliks aan hul songod geoffer is. Ons word as't ware op die maat van ritmiese Amerikaanse popmusiek vanuit Amerika waarmee die massamedia die land oorspoel, uitgemoor. Voorwaar 'n postmoderne geroffel van tromme.

Indien die Afrikaner hoegenaamd gaan herstel, sal ons radikaal en revolusionêr moet begin dink oor hoe ons, op die rand van ons huidige ondergang, 'n nuwe identiteit en leefwyse kan smee wat ons kan vrywaar van Europese pessimisme en pasifisme.

Miskien gaan die dag kom dat die Afrikanergeboortesyfer, soos dié van die ortodokse Jode in Jerusalem, die swartman s'n gaan verbysteek. Ek het 'n broertjie dood aan "Israelvisie" en soortgelyke sektariese idees, maar ons sal na die wortels van ons kultuur en geloof moet terugkeer. Die soort oppervlakkige Amerikaane geloofsherlewings wat ons tans in Suid-Afrika via 'n figuur soos Angus Buchan ervaar, toon dat daar by 'n groot aantal mense 'n soeke na standvastigheid en 'n toenemende afkeer van die sekulêre, liberale wêreldbeskouing bestaan.

Soos hier in die Heilige Land waar daar geen grense tussen godsdiens en politiek bestaan nie, sal ons 'n model moet vind wat die Afrikaner in sy totaliteit as mens aanspreek. Die Afrikaner as verbondsvolk wat by Bloedrivier 'n gelofte afgelê het, sal opnuut na vore moet kom.

Daar is vele Afrikaners wat dink dat die ANC-bewind en die geweldenaars wat ons tans teister deur God gestuur is om ons te teister en te straf omdat ons, soos vele dit stel, "die naam van die Allerhoogste uit die grondwet geneem het", Sondagsport en ander vorme van sabbatsontheiliging begin toepas het en op baie maniere dekadent geraak het.

Daar is egter ook 'n ander interpretasie van dié "toorn van God" wat op die Afrikaner neergedaal het. Gister in 'n hotel in Jerusalem ontmoet ek mnr. Jan Willem van der Hoeven, 'n Nederlander en Christen-Sionis wat in die besette gebied woon en 'n vurige onderteuner van Israel is. Volgens hom gaan dit sleg met ons in Suid-Afrika omdat ons Afrikaners ons rug op die uitverkore volk van Israel gedraai het. Die ANC-bewind is erg anti-Israel en Suid-Afrika se buitelandse standpunt is so te sê dieselfde as die Arabiese en Moslemlande s'n.

Van der Hoeven is 'n evangeliese Christen, asook vriend van die huidige eerste minister van Israel, en preek regoor die wêreld, veral in die VSA, waar hy die booskap uitdra dat God slegs diegene seën wie se verhouding met die Heilige Land reg is. Blykbaar glo Amerikaanse Christene toenemend dat met Obama, 'n "halwe Moslem", in die Withuis, is God besig om een ramp na die ander na Amerika te stuur, waaronder die finansiële krisis en die BP-olielekkasie.

Suid-Afrika het op 'n stadium, veral onder Vorster, 'n uitstekende verhouding met Israel gehad. Ná Mandela Jasser Arafat gesoen en Ghadaffi omhels het, is ons definitief in die kamp van die Jode se vyande.

Is Van der Hoeven reg en word ons tans deur God gestraf omdat ons 'n regering finansier en ondersteun wat Jerusalem vir Islam wil herower?

Dit kan 'n interessante teologiese en politieke debat word.

Die Afrikaner smag in sy huidige isolasie en staatloosheid na bondgenote. Myns insiens kan ons slegter doen as om die vele historiese bande wat ons met Israel het weer te verstewig. Op die vooraand van die sesdaagse oorlog in 1967 het 'n Israelse afvaardiging Suid-Afrika besoek om duidendpondbomme te koop waarmee hul vegvliegtuie uiteindelik die Egiptenare se hele lugmag op die aanloopbaan vernietig het.

Toe PW Botha destyds as minister van verdediging vir Vorster gevra het hoe hy oor die verkoop van die bomme aan Israel voel, het dié geantwoord: "Wel, ons lees uit dieselfde boek, al lees hulle net die eerste helfte. Waarom nie?"

Ek sien dit as my taak om die vriende wat ons hier in Jerusalem het - vandag is daar 'n moontlikheid dat ek die hoof van die buitelandse komitee in die Knesset gaan ontmoet - van ons volgehoue empatie en ondersteuning te verseker.

Elke Afrikaner behoort vir Israel in hierdie tye te bid waar hulle ook soos ons deur die wêreldmedia verguis word. Miskien reik hulle op hul beurt ook die hand van vriendskap na ons uit en help ons om uit ons eie verknorsing te kom.


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: