In vandag se Rapport verskyn daar 'n artikel deur ene Henry Cloete in Kaapstad wat beweer dat ek "die laaste rassis in Suid-Afrika" sou wees. Dít, na aanleiding van die Amerikaanse TV-program The Daily Show wat onlangs 'n onderhoud met my kom voer het.
Die onderhoudvoerder van The Daily Show was John Oliver. Hulle het omtrent die heel dag hier by my deurgebring en ons het seker maklik tussen vier en ses uur se videomateriaal geskiet. Hiervan is slegs ses minute uitgesaai en is dit so geredigeer dat dit lyk asof ek 'n pleidooi lewer dat "rassiste in Suid-Afrika vir die nageslag bewaar moet bly".
Intussen het die meeste van die vrae wat daar aan my gevra is, glad nie oor "rassiste" gehandel nie, maar oor Afrikaners. Waar ons praat oor "mense soos ek" wat moontlik bestem is om in Suid-Afrika uit te sterf, het dit gegaan oor die etno-kulturele groep van Afrikaners wie se taal, kultuur en voortbestaan om die volgende redes bedreig word.
- Daar word teen ons gediskrimineer op grond van taal en ras;
- ons word ekonomies uitgerangeer;
- ons grond word onteien;
- ons kinders word met propaganda op skool bestook;
- ons word op gruwelike maniere aangeval, verkrag, gemartel en vermoor;
- en les bes, ons word in die plaaslike en internasionale media verguis.
Hoe meer die multikulturele projek van die "reënboognasie" - 'n misleidende term as daar al ooit een was - misluk, hoe desperater word sommige joernaliste en propagandiste om die Afrikaner by te kom.
Eers was daar Mandela en toe sokker om "nasiebou" te verseker. Môre gaan die vlaggies gebêre word en leef ons steeds in die land van Malema en "Skiet die Boer!"
Een van die vele boeke wat ek nog wil skryf indien ek net die tyd kan vind, sou iets wees in die trant van: Ras - die Suid-Afrikaanse dilemma. Daar was nog nooit so 'n groot paradoks in die geskiedenis soos die huidige grondwet wat trots in sy eerste artikel verklaar dat die Republiek van Suid-Afrika op "die beginsels van... nie-rassigheid en nie-seksisme" gegrond is.
Wanneer sedert 1994 was Suid-Afrika al ooit "nie-rassig"? Deur wetgewing, ideologie, propaganda en die algemene kultuur, word elke faset van ons lewens op een of ander manier deur ras bepaal. Suid-Afrikaanse "transformasie" verteenwoordig een van die mees radikale programme van sosiogeniëring sedert kommunisme.
Eie aan elke totalitêre samelewing is 'n ideologiese vyand. Onder die Katolieke heerskappy en die Spaanse Inkwisisie is hulle ketters genoem. In die voormalige Sowjetunie is daar van "fasciste" of "vyande van die staat" gepraat. En in Suid-Afrika is die grootste ketter van almal: die "rassis". Selfs moordenaars en verkragters verdien ons begrip, want omdat hulle meesal swart is, verseker die sosioloë en kriminoloë ons dat hulle ook iewers "slagoffers van blanke rassisme" is.
Is daar iewers ook blanke slagoffers van swart rassisme? Diegene wat 'n pos geweier word omdat hulle wit is, wat op universiteit aan ander toelatingsvereistes moet voldoen omdat hulle tot die minderheidsras behoort, blanke vroue wat as "wit tewe" uitgeskel word alvorens hulle verkrag word? Hieroor swyg ons skoothondjiekoerante in alle tale, maar wee Dozi of enigiemand anders wat die K-woord gebruik.
Enigeen wat die anomalieë, onregte en afstootlike geweld van hierdie samelewing uitwys, word met die teerkwas van "rassisme" bygekom. Ek het reeds voorheen al geskryf dat die term "rassis" semanties leeg of sinloos is. 'n Stellings soos: "99% van alle geweldsmisdaad in Suid-Afrika word deur jong swart of bruin mans gepleeg" is "rassisties", maar ook waar. Volgens Henry Cloete van Rapport sou dit egter 'n "rasfilosofie" wees, want volgens amptelike "nie-rassigheid" is dit kleurlose mense wat geweldsmisdaad of gruweldade teen ander kleurlose mense pleeg. Ons is "almal saam" skuldig.
Is die waarheid "rassisties"? Is die natuur en evolusie, wat verskillende rasse van homo sapiens geskep het, "rassisties"? Is die globale ekonomie waarin Afrika suid van die Sahara met sy enorme bevolking van 600 miljoen mense so 'n geringe rol speel "rassisties"? Volgens die gangbare definisies van "rassisme" moet ons ongetwyfeld "ja" op al hierdie vrae antwoord. Die waarheid, natuur, evolusie en die globale ekonomie is "rassisties". In die gevleuelde woorde van Mbeki tydens die Durbanse Wêreldkonferensie teen rassisme in 2001, "word mense volgens ras in poste en woonbuurte geplaas, met swartmense onder en witmense bo".
'n Hele klompie jare gelede het ek 'n artikel in die Mail & Guardian gepubliseer, in antwoord op Malegapuru Makgoba se siening dat "blanke mans nou vir swart mans moet plek maak" omdat hulle deur natuurlike evolusie te lig bevind is. Ek het die nogal amusante - binne die konteks - Engelse titel gekies, wat net so deur die Mail & Guardian gebruik is: "You can't have your banana and eat it".
Feit is dat die swartman in Suid-Afrika op alle gebiede oorheers. Suiwer op grond van sy demografiese voorsprong en in 'n politieke stelsel waar demografie en demokrasie blykbaar uitruilbare begrippe is, verdien hy om ons te regeer, te administreer, te reguleer, te intimideer, te breinspoel en op die duur te verdryf en te vernietig. As daar vandag rassisme in Suid-Afrika bestaan, is dit teen blankes gemik. Ons as Afrikaners, lede van die minderheidsras en die minderheidskultuur, is die slagoffers van hierdie groteske rassestelsel wat in die naam van demokrasie en menseregte op ons afgedwing word. Terselfdertyd word ons, wat oor geen politieke mag of invloed in die land meer beskik nie, verantwoordelik gehou vir alles wat skeefloop. Dis om jou piesang te hê en om hom te wil eet.
In die VSA is daar in 'n wetenskaplike opname bevind dat 60% van alle sielkundiges en akademici wat professioneel met die meting van IK gemoeid is, glo dat daar meetbare verskille in gemiddelde intelligensie tussen rasse bestaan. Hierteenoor glo slegs 30% van joernaliste dat dit die geval is. Die waarheid is "rassisties", daarom moet dit onderdruk word. Soos wat die pous vir Galileo aangesê het om sy teorie dat die aarde om die son te draai te verwerp, anders gaan hy brandstapel toe, net so moet ons alle getuienis van swart wanprestasie in Suid-Afrika, of dit nou in die matriekuitslae of die bestuur van munisipaliteite manifesteer, as sintuiglike bedrog afmaak.
Of die gewraakte gevolge van apartheid, wat altyd met ons sal wees.
Verskeie joernaliste en rubriekskrywers van Nasionale Pers-publikasies, onder ander Leopold Scholtz, het my al 'n "rassis" genoem. Binne ons konteks is dit suiwer laster, waarvoor ek dan ook 'n hofaansoek teen Die Burger, Leopold Scholtz en verwante instellings en individue gebring het.
Op 5 Oktober vanjaar sal Die Burger en Leopold Scholtz in die hof moet verduidelik wat hulle onder die term "rassis" verstaan en waarom dié teerkwas en belediging op my van toepassing sou wees.
Gedurende my hele lewe het ek nog nooit enigiemand op grond van ras benadeel nie. Wel is ek al verskeie kere benadeel omdat ek 'n blanke is. Insgelyks het ek nog nooit enigiets kwetsends oor lede van ander rasse kwytgeraak nie, behalwe om ooglopende feite en verskynsels uit te wys wat daagliks in die koerante en in misdaadverslae geverifieer kan word. Vele swart intellektuele en meningsvormers het al presies dieselfde gesê.
Waarom word ek van alle mense, wat nie eens die vorige bewind en sy segregasiebeleid ondersteun het nie, dan deur joernaliste van Nasionale Pers as "rassis" verguis? In die geval van die "Today Show" het dit bloot gegaan om Afrikaners en blanke Suid-Afrikaners volgens die heersende stereotipe as "rassiste" voor te stel en deur die onderhoud met my selektief saam te flans, het hulle daarin geslaag om dit te laat voorkom asof ek besorg is oor die bewaring van die blanke rassistiese tradisie, pleks van die Afrikanertradisie waaroor die vrae meesal gegaan het.
Myns insiens spruit die verwronge denke en interpretasies van die anti-rassiste uit 'n grondliggende onverdraagsaamheid en fundamentalistiese ontkenning van die werklikheid. Pleks van beskaafd en akademies oor ras te redeneer, word dit enersyds as 'n "sosiale konstruk" ontken en andersyds gebruik as 'n stok om die toenemend verdrukte blankes en Afrikaners mee te slaan.
Die vader van swart nasionalisme, W.E.B. Dubois, het binne die Amerikaanse konteks gesê dat "die probleem van die twintigste eeu die probleem van die kleurskeidslyn is". Met die afskaffing van apartheid en stamverdelings in die land, het ras ook in Suid-Afrika die vernaamste politieke en maatskaplike merker en probleem geword. Vir elke mislukking of tekortkoming van die heersersras in ons land, sal daar 'n sondebok by die minderheidsras gesoek word. Selfs die teoretici van "rassisme", soos Albert Memmi, is baie helder hieroor.
Terloops, volgens Memmi en ander spruit 'n rassistiese houding uit 'n gevoel van mag. Per definisie kan die magteloses - dis nou ons blanke Afrikaners - nie rassisties wees nie.
Ek praat gedurig met buitelandse joernaliste van regoor die wêreld en ek het geen beheer oor die samestelling of inhoud van hul uiteindelike berigte nie. Nou die dag was Dominique Derda van die tweede Franse TV-kanaal (France 2) hier by my en het ons 'n baie interessante gesprek oor die verhouding tussen Afrikaners en Nederland n.a.v. die sokkerwêreldbeker gehad. Die onderhoud sou op die hoofnuus in Frankryk uitgesaai word. In die onderhoud het ek baie redelik en selfs polities korrek oorgekom, suiwer uit hoofde van die feit dat Derda 'n eerlike joernalis is en nie oor bymotiewe beskik het om met my te praat nie.
Joernaliste van die "Today Show"-tipe of van Die Burger wat my en alle Afrikaners wil verguis en belaster, sal egter altyd met ons wees. Dis waarom lasterwette bestaan en ons sal moet sorg dat om iemand sonder rede 'n "rassis" te noem strafbaar gemaak word.
Om hierdie mense en die magtige mediagroepe wat hul vuige boodskappe uitdra, aan te vat, gaan egter heelwat moed en baie geld kos.
Dus vra ek al my lesers om, hetsy by Praag aan te sluit, hetsy 'n donasie te maak sodat ons met mening onder hierdie gewetenlose propagandiste kan inklim.
Die stryd om vryheid van spraak in hierdie land is nog lank nie gewen nie, terwyl die waarheid toenemend daar uitsien soos 'n meisie wat onder 'n tipies Suid-Afrikaanse groepsverkragting deurgeloop het.
Sluit hier by Praag aan.
Bankbesonderhede vir 'n donasie vir my lastersaak teen Die Burger en Nasionale Pers: ABSA Fourways, takkode 632905, tjekrekeningnr. 4052326604. Gebruik u van as verwysing.
| < Vorige | Volgende > |
|---|
Rassisme en laster




