praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Tuesday, 22. May 2012

Bygewerk op:07:38:23 AM GMT

Jy is hier: Dan Roodt Vir 'n nuwe kultuurpolitiek

Vir 'n nuwe kultuurpolitiek

E-pos Afdruk PDF

Die Franse geskiedkundige Bernard Lugan, het onlangs op TV gesê dat ons land se nasionale kultuur uit "Marxistiese mistiek" bestaan. En dit is baie waar: sedert die revolusie van 1994 is daardie "Suid-Afrika" wat in Die Stem van C.J. Langenhoven besing word, vervang deur 'n nuwe entiteit wat uit die Marxisme put. Sentraal by die denke van Karl Marx, Wladimir Lenin en ander staan die idee van: revolusie - of, soos dit hier genoem word - transformasie.

Die transformasie van Suid-Afrika het 'n vernietigende uitwerking op die Afrikaner en Afrikaans gehad. Dis veel erger as sou ons 'n oorlog verloor het. In oorloë staan volkere grondgebied of hulpbronne soos geld of grondstowwe af, maar in die huidige transformasieproses moet die Afrikaner sy taal, kultuur, identiteit, selfs sy menswaardigheid, prysgee. Uit plaasmoorde en ander geweldsvoorvalle is dit duidelik dat ons menswaardigheid ten diepste aangetas is en dat ons nie net as ongewens nie, maar as sub-menslik deur die heersende bestel behandel word. In my boek Scourge of the ANC het ek van plaasmoordenaars as die Einsatzgruppen van die ANC gepraat. Deel van elke volksmoord is verontmensliking, dít waaraan soveel Afrikaners daagliks blootgestel word.

Die skaal van die nederlaag wat ons in 1994 toegedien is, asook die oorname deur die ANC van alle staatsinstellings soos die weermag, polisie, SAUK, Reserwebank, Transnet, Eskom, ens., laat die Afrikaner in 'n posisie van intense magteloosheid, nee, weerloosheid, jeens 'n gewapende en magtige verdrukker. Blykbaar word die topstruktuur van die polisie beheer deur oudlede van Umkhonto we Sizwe wat van ons korrupte polisiediens as't ware 'n ANC-milisie gemaak het. Slegs 'n briljante militêre en politieke strateeg wat die hele volk agter hom sou moet versamel, sou ons uit die kake van die ANC kon red. Maar natuurlik het ons nie so 'n persoon nie en is ons mense vandag meer verdeeld as ooit, met die meeste wat 'n wesentlik Engelse, mulitikulturele party, die DA, by die stembus ondersteun.

Dit wil voorkom asof die meerderheid Afrikaners, soos die Kapenaars in die negentiende eeu, hulself by oorheersing aangepas het. Erger, soos Roelf Meyer tydens die onderhandelings in die vroeë negentigerjare gesê het, verteenwoordig "die regses", oftewel die Afrikaners met 'n nasionale identiteit, die "gemeenskaplike vyand" van sowel die ANC as die meeloper-Afrikaners (of "-Afrikaanses", want self het hulle opgehou om na hulself as "Afrikaners" te verwys). Dan het ons nog 'n irrasionele klomp "Boere" vir wie die vyand nie soseer die ANC is nie, maar die Afrikaners wat hulle met behulp van Siener van Rensburg, hul Israelvisie en ander idees wil verketter. Diegene wat "die Boer" van die Afrikaner wil afsonder, pleeg Boeremistiek, in antwoord op die ANC se Marxistiese mistiek wat deur die term "reënboognasie" uitgedruk word.

Soos Huntington en ander gesê het, is die politiek van die een-en-twintigste eeu gelyk aan identiteitspolitiek. Dit is 'n stryd tussen Christen en Mohammedaan, tussen modernis en tradisionalis, tussen Afrikaner en Afrikaan, tussen burger en wêreldburger. Dit gaan oor taal, kultuur, godsdiens, plekname en rassekwotas.

Die Afrikaner het nie op die slagveld verloor nie. Wel het hy die propagandaoorlog in die internasionale en plaaslike media verloor. Weens sy kolossale magsverlies word sy identiteit en menswaardigheid van dag tot dag in Suid-Afrika aangeval. Dis 'n meedoënlose proses en gaan nie ophou totdat ons vernietig is en in wese óf geassimileer óf verdryf is nie.

In die ou dae is daar van "sielkundige oorlogvoering" gepraat. Die berig oor die Suidlanders wat op die voorblad van verlede Sondag se Rapport verskyn het, is 'n voorbeeld van sielkundige oorlogvoering. Maak die vyand belaglik, sodat sy eie volgelinge hulle vir hom skaam. Breek sy selfvertroue en identiteit af totdat daar geen weerstand meer is nie. Die Amerikaners praat van "psyops", oftewel "psigologiese operasies" en dit kan só omskryf word: "Psigologiese operasies is beplande operasies om bepaalde inligting en aanwysers aan vreemde gehore oor te dra sodat hul emosies, motiewe, objektiewe redenasievermoë en uiteindelik die gedrag van vreemde regerings, organisasies, groepe en individue beïnvloed word." (Wikipedia)

Daar is geen militêre of selfs politieke respons teenoor sielkundige oorlogvoering of beplande identiteitsvernietiging nie. 'n Mens beveg vuur met vuur. Net so moet 'n mens die huidige aanslag met soortgelyke middele beantwoord.

Eintlik is dit 'n proses wat al langer as twee eeue duur, vandat die tweede Britse besetting in 1806 begin het. Vele mense het al op die ooreenkomste tussen die swarte ommegang van 1811 en die ANC se waarheids- en versoeningskommissie van 1996 gewys. Albei was groteske oefeninge in laster, oordrywing en valse aanklagte.

Ná die Tweede Vryheidsoorlog, toe die Afrikanervolk sy noordelike republieke moes prysgee, het Hertzog, De Wet en ander vir kultuurpolitiek gekies en het die merkwaardige opbloei van Afrikaans en die Afrikaneridentiteit in die twintigste eeu gevolg. Die feit dat ons vandag nog hoegenaamd oor 'n begrip van eie vryheid en onafhanklikheid beskik, is hieraan te wyte. In die Suid-Afrikaanse Marxistiese literatuur en geskiedskrywing, is "kultuurpolitiek" boonop 'n vloekwoord, want dit verteenwoordig die hindernis wat die Marxistiese beweging in ons land soveel jare lank verhoed het om hul huidige hegemonie te bereik.

Wat is kultuurpolitiek? In ons geval gaan dit oor "die heel maak van die Afrikaner". Soos ná 1902, is ons vandag 'n stukkende volk. Ons is gerysmier en gebreek deur vyandelike "psi-ops", verontmenslik deur geweld, verengels en gebreinspoel deur aanhoudende, slim propaganda wat met miljarde rande van ons eie belastinggeld teen ons gevoer word.

Kultuurpolitiek moet die Afrikaner weer 'n wil en identiteit gee, soos dit in die eerste helfte van die twintigste eeu gedoen is. Toe het die Afrikaner uit die as opgestaan deur 'n trots in sy eie taal, letterkunde, kultuur en geskiedenis te ontwikkel.

'n Handjie vol intellektuele en leiers het daardie grootse kultuurbeweging geskep. Van Wyk Louw en sy mede-Dertigers het in die poësie en die letterkunde getoon dat die Afrikaanse taal tot dieselfde skoonheid en status as die groot Europese tale in staat is. Die Duitse filosoof Peter Sloterdijk het in sy belangwekkende lesing "Reël vir die mensepark" gesê: "Wat is moderne nasies anders as die werksame fiksies van lesende openbare liggame wat deur dieselfde geskrifte tot 'n gelyksgestemde bond van vriende moet raak? Die algemene diensplig vir die manlike jeug en die algemene plig om die klassieke te lees vir jeugdiges van albei geslagte kenmerk die klassieke burgerlike periode..."

Vóór 1994 was dit ook by ons die geval: jong Afrikanermans, soos alle blanke jongmans, het diensplig verrig en op skool is al ons kinders blootgestel aan Celliers, Totius, Van Wyk Louw, Opperman, C.M. van den Heever, Van Melle, ens. In 'n neutedop: militêre diensplig en poësie op skool was die basis van daardie vervloë Afrikaneridentiteit.

Die uitdaging is vandag om daardie verlore Afrikaanse wêreld ter herskep waarin ons almal, ongeag ons individuele identiteite, so geborge gevoel het. Slegs 'n kultuurpolitieke beweging is tot so iets in staat. 'n Kersvlammetjie wat lewend gehou word, kan uiteindelik die groot vuur word wat ons van oorheersing gaan bevry.

Danksy die internet en globale kommunikasie, het die Afrikaanse identiteit baie vloeibaar en selfs globaal geword. Terwyl die ANC-bewind die belangrikste tradisionele kommunikasiemiddele beheer en tot die uiterste vir eie propagandadoeleindes aanwend, het die internet die bron en die lokus van die nuwe Afrikanervryheidstrewe geword.

Die begeerte, die versugting na vryheid bestaan wel by die Afrikaner. Hoe verdeeld, verward en verslae ons mense ook al mag wees. Die grootste probleem is dat daar nie genoeg inhoud aan daardie begeerte na vryheid gegee word nie. Vra mense oor 'n volkstaat, dan antwoord hulle "Orania", terwyl daardie dorpsontwikkeling in die Noord-Kaap maar 700 siele tel wat in die praktyk volkome ondergeskik aan die ANC se brute magsoorheersing verkeer.

Die nuwe kultuurpolitieke beweging moet die volgende verrig:

  1. Die volkstaatgedagte as 'n intellektuele en politieke werklikheid beredeneer waarsonder Afrikanervoortbestaan inderdaad onmoontlik is. Pleks van huidige voorstellings - en hiermee vat ek niemand in die gesig nie, ek praat van ons vyande se voorstellings - waar 'n klompie bejaarde, bebaarde mans op die haai vlakte 'n verlepte vierkleur rondswaai, moet die volkstaat as 'n toekomstige eerstewêreldstaat uitgebeeld word. Ook die staatkundige en filosofiese argumente rondom die volkstaat moet volgens internasionale norme aangebied word, sonder 'n oorwig van Calvinistiese of Boeremistiek.
  2. In ons letterkunde en filosofie moet die "ongemaklike" temas rondom ras, taal en identiteit met onverskrokkenheid aangepak word. Dit gaan moed verg om die multikultus as 'n gruwelike, mislukte maatskaplike eksperiment aan die kaak te stel. Want nie net gaan ons deur die ANC se skoothondjiemedia verguis word nie, maar ook die akademiese en sake-elite sal die rug op ons keer, omdat hulle vir hul brood en botter van die staat of staatswelwillendheid afhanklik is. In die woorde van Roelf Meyer, sal ons as "die vyand" gereken word wat hul knusse akkomodasie teenoor die bestel bedreig.

Die gedagte dat 'n klein groepie Afrikanermanne en -vroue met besielde en skeppende kultuurpolitiek ons totale omgewing in Afrikaans, maar ook in Suid-Afrika en selfs in die wêreld kan verander, is voorwaar opwindend. In baie opsigte word Suid-Afrika met 'n arendsoog dopgehou omdat die "oplossing" vir ons probleem van etniese en kulturele naasbestaan, naamlik die smeltkroes, universeel as die panasee vir die huidige etniese en beskawingsbotsing in die wêreld voorgehou word. Die geleentheid bestaan dat ons ook aan die internasionale debat rondom hierdie kwessies kan deelneem, enersyds om die onhoudbaarheid van ons pseudodemokrasie te verduidelik, maar andersyds om aan die opkoms van alternatiewe vir die multikultus mee te doen.

Uiteindelik sal die gisting onder 'n klein groepie Afrikaners met durf en insig wyer uitkring en die politiek in dié land onherroepelik verander. Die enigste rede waarom dit tot op hede nog nie gebeur het nie, is omdat die bestaande talent onder ons mense nie genoegsaam gemonster is nie en omdat ons te veel onder die indruk van tradisionele bemarking in die hoofstroommedia verkeer. Dit lê ons lam en veroorsaak dat ons nie 'n denksprong buite hierdie afbrekende stelsel en ideologie kan neem nie.

Die Afrikaanse kultuur en politieke of intellektuele lewe is klein, selfs intiem. Indien tien mense oor die wil beskik om dit onherroepelik te verander, kan dit binne 'n ommesientjie gedoen word.

As PRAAG enige bydrae hoegenaamd te lewer het, is dit juis om hierdie Afrikaanse omwenteling te vermag. Deur ons internetmedia en boekpublikasies moet ons die nuwe rigting skep en aandui. Die res sal agterna vanself volg.

blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: