Miskien moet 'n mens effe terugstaan en na die groter prentjie kyk, sover dit die huidige histerie rondom Julius Malema betref. Indien Malema regtig die myne wil nasionaliseer, behoort ons hom daarin te ondersteun.
Dis waarskynlik 'n gemeenplaas om te sê dat die Suid-Afrikaanse geskiedenis oor die afgelope 200 jaar bestaan het uit 'n nimmereindigende mededinging tussen die Afrikaners, swart stamme en dít wat 'n mens losweg die "Uitlanderelement" kan noem.
Die koloniale mynhuise het tradisioneel die toppunt van Uitlander- en Britse mag in Suid-Afrika beliggaam. Sedert die Jameson-strooptog aan die einde van 1895, het die Uitlanders 'n aktiewe rol in die politiek gespeel. Iewers in die laat sewentigerjare het hulle besluit dat die Nasionale Party ontsetel behoort te word en deur 'n "progressiewe" swart-oorheersde regering vervang behoort te word. Vandaar hul ononderbroke steun vir die ANC en die idee van 'n gesentraliseerde, "wenner-vat-als"-tipe stelsel wat ons in 1994 ontvang het.
Sonder twyfel is daar baie fassinerende redes waarom die myne ten dele die opkoms van neo-Marxistiese denke aan die Engelse universiteite in ons land gefinansier het en oor die algemeen die ANC se gryp na totale mag in Suid-Afrika geondersteun het. Onder andere is ons mense, asook die blanke middelklas, gekant teen mynbesoedeling en moraliseer hulle oor die waarskynlik korrupte verhoudings tussen die myne en ANC-politici.
Interne stryd, verraad en die blote onnoselheid van hul leiers het die doodsklok vir Afrikanerdeelname aan die Suid-Afrikaanse politiek gelui en die enigste oorblyfsel van hul vorige rol is die Vryheidsfront Plus wat maar 140 000 stemme by die stembus trek.
In die onlangse verlede was Suid-Afrika waarskynlik die enigste land waar groot maatskappye geld aan 'n Kommunistiese Party geskenk het. Indien ons vir Jeremy Cronin kan glo, ondersteun die Kommunisteparty nie nasionalisering nie. Verduidelik dít aan Marx en Lenin.
Toe verskyn Julius Malema, die swart massa se kampioen, op die toneel, gereed om die ANC se voormalige bondgenoot teen die Afrikanerdom, die koloniale mynmaatskappye, teen te gaan!
Moontlik is Malema se oë groter as sy maag aangesien sy nasionaliseringsplan 'n grootskaalse reaksie van die magtige Uitlanders mag ontlok, asook die gewone vertoë aan Brittanje en Amerika om dit te keer. Of miskien gaan die myne eenvoudig vir Malema afkoop deur aan hom 'n voordelige SEB-transaksie aan te bied terwyl hulle Rhodes se slagspreuk mompel: "Elke man het sy prys."
Alreeds aanskou ons 'n intense mediaveldtog wat teen Malema gevoer word, met toespelings op sy onverklaarbare rykdom, moontlike belastingontduiking en dergelike. Helaas, revolusionêre floreer gewoonlik op negatiewe publisiteit en dit sal ook die geval vir Malema wees.
Malema, meer as Mandela, kan dalk ons geskiedenis vir altyd verander. Met niks meer om te verloor nie, gaan vele Afrikaners in die armblanke plakkerskampe of laag besoldigde poste waarskynlik ook vir Malema toejuig.
Indien die mynhuise as 'n politieke faktor in ons geskiedenis verdwyn, kan die moontlikheid om 'n Afrikanervolkstaat teenoor die Malema-faksie te beding, net verhoog aangesien Brittanje se invloed op ons daarmee grotendeels geneutraliseer sal wees.
| < Vorige | Volgende > |
|---|
Malema kan geskiedenis meer as Mandela verander




