praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Tuesday, 22. May 2012

Bygewerk op:07:38:23 AM GMT

Jy is hier: Dan Roodt Volksplakkerskamp? Nog nooit nie!

Volksplakkerskamp? Nog nooit nie!

E-pos Afdruk PDF

Ferdi Greyling  van Beeld verwys neerhalend na ‘n “volksplakkerskamp” as die moontlike aanskyn van ‘n toekomstige volkstaat. Al wat Ferdi hoef te doen, is om na gebiede met Afrikanermeerderhede te kyk: Pretoria, groot dele van die Oos- en Wesrand, die Suid-Kaap, ens. en te vra of hulle soos “plakkerskampe” daar uitsien?

Om te beweer dat “volkstate in geweld en vernietiging gebore word”, is nie juis nie. ‘n Mens kan net sowel enkele voorbeelde kies soos Nazi-Duitsland of Zimbabwe en beweer dat demokrasie tot hetsy oorlog, hetsy hongersnood lei, aangesien sowel Hitler as Mugabe demokraties ingestem is.

Die modelle vir vreedsame afstigting is Québec, Vlaandere en Katalonië. Al drie hierdie gebiede het reeds ‘n groot mate van selfbeskikking van onderskeidelik Kanada, België en Spanje verwerf. Katalonië het selfs in 2006 sy eie topvlakdomein op die internet (.CAT) – iets waarvoor slegs state kwalifiseer – verkry.

Interessant is ook dat al drie hierdie provinsies se versugting na onafhanklikheid aanvanklik met ‘n taalstryd begin het, net soos wat Afrikaners oor die afgelope sestien jaar of so ‘n taalstryd teen die nuwe Engelstalige owerheid in Suid-Afrika voer.

Die Tamil-tiere se uitgerekte guerilla-oorlog teen die Sinhalese meerderheid van Sri Lanka is weliswaar ‘n ongelukkige voorbeeld van ‘n gewapende opstand wat in ‘n neerlaag geëindig het. Maar dan is daar talle internasionale voorbeelde van suksesvolle nasionale bevrydingsoorloë.

Slowenië het byvoorbeeld in Junie 1991 ‘n geslaagde onafhanklikheidsoorlog van slegs tien dae teen die ou sentrale regering van Joego-Slawië geveg – met ‘n baie swakker weermag en téén die wense van die VSA en die EU wat nie wou hê dat die Slowene onafhanklik word nie.

Slegs 18 Slowene is in die gevegte dood en 182 is gewond, wat waarskynlik ‘n geringe prys is om vir vryheid te betaal.

Hierteenoor is 30 000 tot 40 000 Afrikaners sedert 1994 vermoor en honderde duisende is beseer, verkrag of beroof. Die prys wat sogenaamde demokrasie en die multikulturele samelewing van ons eis, is veel hoër as wat die Slowene vir vryheid en onafhanklikheid betaal het.


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: