'n Briefskrywer op LitNet, François le Roux, stel my voor as iemand wat lukraak drome droom oor 'n volkstaat wat nie op die werklikheid gegrond is nie. My stukkie oor Mecklenburg-Voorpommere was uiteraard 'n verbeeldingsvlug, bedoel om Afrikaners uit die kerker van politieke korrektheid te skud. Soos Anton Rupert gesê het: "As jy nie 'n droom het nie, is jy nie 'n realis nie."
Het ons voorouers wat in klein skepies van Nederland af gekom het of in ossewaens oor die Drakensberg getrek het, nie 'n bykans onmoontlike droom nagestreef nie? Vandag aanvaar ons die bestaan van 'n ontwikkelde land met infrastruktuur as vanselfsprekend, terwyl enigiemand wat in 1850 sou voorspel het dat 'n stad soos Pretoria uit die veld gaan verrys, waarskynlik as 'n naïewe idealis uitgekryt sou gewees het.
Ons probleem tans is nie te veel drome en verbeelding nie, maar 'n gebrek daaraan. Sedert 1994 word mense elke dag oor die kop geknuppel dat ons niks aan die fait accompli wat Roelf Meyer vir ons gegee het, kan verander nie. Ons moet alles maar net aanvaar: misdaad, besoedelde drinkwater, verengelsing, regstellende aksie en transformasie. Demografie is alles en omdat die swartman sedert 1950 sy getalle met vier laat vermenigvuldig het, moet ons vir altyd sy onderdaan en sy melkkoei wees. Watter volk in die geskiedenis het al ooit so 'n onregverdige situasie met gelatenheid aanvaar?
Te midde van hierdie byna psigopatiese konformisme ten opsigte van die huidige stelsel (wat maar 15 jaar oud is), ly Afrikaners soos jy, FW de Klerk en almal wat vas glo in die Britse leuen dat 'demokrasie die genees-al vir al Afrika se probleme is" aan 'n vorm van werklikheidsontkenning. Persoonlik dink ek FW de Klerk het destyds oorgegee omdat hy 'n Christen was en vas geglo het dat die Here Afrikaners gaan beskerm en ons dus niks het om ons oor te bekommer nie, al is die grondwet teen ons geskryf en al word ons stelselmatig uit elke moontlike mags- of gesagsposisie uitgewerk.
De Klerk en Roelf Meyer het die bevel van die ou Weermag aan Umkhonto we Sizwe oorgedra! Was daar al enige leier in die geskiedenis wat so naïef was dat hy beheer oor sy eie leër aan sy geswore vyand oorgedra het?
Ek is baie realisties oor wat ons op politieke gebied kan vermag. Dis waarom ek ook nie die DA se absurde fantasie dat hulle met behulp van swart stemme 'n meerderheid by die stembus gaan verkry, ondersteun nie. Nietemin het 'n miljoen Afrikaners in die afgelope verkiesing vir mev Helen Zille gestem.
In weerwil van Zimbabwe en al die ander voorbeelde van post-koloniale Afrika-lande wat misluk het, glo veral liberale Afrikaners in hul naïwiteit dat dit "hier anders gaan wees". Oor die linkses praat ek nie eens nie, want hulle fantaseer helder oordag oor kommunisme of 'n samelewing van absolute gelykheid en sosialisme wat weer uit die niet te voorskyn gaan kom.
Die Afrikaner is so verswak deur diegene wat in hul waan geglo het dat ons geen vyande meer het nie, dat ons daarvan moet afsien om hoegenaamd die nasionale politiek van Suid-Afrika te beïnvloed. Al wat ons kan regkry, is om op plaaslike vlak - soos veral in Pretoria, maar ook in ander dorpe en stede - enkele "bevryde sones" te skep waar ons misdaad en die demografie kan stabiliseer en daarna kan begin om vir groter outonomie te beding. Dis presies wat die Vryheidsfront Plus beoog en ek kan nie op daardie idee verbeter nie.
Die terminale pessimisme op voetsoolvlak dat ons "weens die getalle" niks kan regkry nie, moet egter ook beveg word. Mense is óf besig om te emigreer, óf hulle trek hulself terug agter die mure rondom hul Toskaanse veiligheidsbuurt en verbeel hulle dat alles gaan regkom as hulle maar net Gods water oor Gods akker laat loop. En af en toe saam met Angus Buchan vir 'n beter bestel gaan bid.
Dis nie Calvinisties nie, dis nie eens Christelik nie, dis wêreldvreemd en werklikheidsontkennend.
Om my met Adolf Hitler te vergelyk, verwerp ek met die minagting wat dit verdien. Anders as die HNP, byvoorbeeld, staan ek nie voor dat ons "die hele land moet terugvat" nie. Ons verlies, territoriaal en wat instellings betref, is rampspoedig en feitlik onomkeerbaar. Danksy 'n konformistiese fantas soos FW de Klerk wat - soos Helen Zille - vas geglo het dat tienmiljoene swart kiesers vir 'n blanke gaan stem, is ons vandag eintlik vlugtelinge in ons eie land. Trouens, die Zimbabwiese vlugtelinge wat oor ons grense stroom, geniet meer regte as ons, want hulle kwalifiseer vir regstellende aksie.
Klein drome, soos om een of twee persent van die land se oppervlak by die stembus terug te vat en agterna goed te bestuur en stadigaan weer ons vryheid en ons trots terug te kry, is egter moontlik. Diegene wat dit nie glo nie, moet nou dadelik Australië toe gaan, want as jy dink dat die multi-kulturele samelewing in Suid-Afrika gaan slaag, gaan jy op 'n dag genadeloos ontnugter word. Ten spyte van wat die wensdenkers ons vertel, is daar geen enkele teken dat die stelsel werk nie.
Selfs in Kanada en Nederland, twee van die liberaalste lande op aarde, het die kiesers reeds die multi-kulturele ideaal by die stembus verwerp omdat hulle dit gesien het vir wat dit is: 'n gevaarlike hallusinasie.
| < Vorige | Volgende > |
|---|
Klein drome




