Onder De Klerk se vele beloftes tydens sy kruiperige oorgawe aan die ANC, was daar mos eie skole en die behoud van Afrikaans. Vir baie mense is dit te abstrak, maar die gesig van rou riool wat in ons spruite en riviere instroom en ook ondergrondse water besoedel, is 'n newe-effek van die Nuwe Suid-Afrika wat hulle binnekort aan eie bas gaan voel.
Verlede Vrydag het ek bietjie "riooltoerisme" saam met mnr Jaap Kelder van die Nasionale Belastingbetalersunie bedryf en die rioolplase en watersuiweringsaanlegte van die volgende Vrystaatse dorpe besoek:
Kroonstad, Heilbron, Frankfort en Villiers.
PRAAG beskik oor twee ure se videomateriaal, asook stilfoto's daaroor, maar indien enigeen nog so optimisties is om te dink dat hy of sy die "nuwe Suid-Afrika gaan maak werk", hoef hy net enigeen van die 260 dorpe wat intussen by die NBU aangesluit het se rioolaanlegte te gaan besoek.
Veral Kroonstad, die naasgrootste stad in die Vrystaat, se rioolplaas verkeer in 'n haglike toestand en riool beland in spruite, vleie en in die Valsrivier (van waar die drinkwater gepomp word!). Die voormalige stadsingenieur wat in 1996 as blanke sy pos verloor het toe transformasie begin het, het aan ons die werkinge van die hele aanleg verduidelik. Dit het soos 'n argeologiese toer van 'n verlore beskawing gevoel, met die pompstasie wat lankal nie meer werk nie en deur onkruid oorgroei is. Die een besinkingsdam is verstop deur 'n kors ontlasting wat agtien meter dik is. Bo-op die sandfilters wat geen water meer sien nie, groei 'n paar fris bome.
By die pompstasie wat drinkwater uit die rioolbesoedelde Valsrivier na die reservoirs moet pomp, het slegs een uit ses pompe gewerk. Op pad uit kom ons 'n vername swartman teë wat vir ons vra wat ons daar maak. Hy was uitgevat in duur ontwerpersklere, baie modieus en buite het sy blinknuwe, pikswart Mercedes-Benz-viertrekvoertuig gestaan. Na ietwat vae verduidelikings oor ons riooltoerisme, vra ons hom wat hý daar maak.
Nee, antwoord die verhewe heer, ons moet sulke vrae aan die munisipaliteit rig wat ons sal antwoord. Hy is nie by magte om te sê wie hy is of wat hy daar maak nie.
Die absurditeit is natuurlik dat, wetlik gesproke, ons seker oortree het deur as blanke Afrikaners installasies te besoek wat deur ons mense ontwerp, opgerig en betaal is. Binne hierdie stelsel van absurde "demokrasie" is dit die swart munisipaliteit se reg om ons drinkwater en die omgewing te besoedel en die toerusting na goeddunke te laat verval, ons kinders aan e.coli, cholera en ander bakterieë bloot te stel, en ons mag niks konkreets daaraan doen nie. Behalwe om te kla.
Jaap Kelder en sy NBU het egter getoon dat daar 'n grys gebied in die reg bestaan wat dit vir vrywilligers moontlik maak om, indien nodig, by jou plaaslike rioolplaas te gaan inbreek om te probeer red wat daar te redde is. Daar bestaan reeds 21 munisipaliteite waar belastingbetalersverenigings hul eiendomsbelastings terughou en soos op Sannieshof dit aan die herstel van riolering en watersuiwering bestee.
Intussen het die munisipaliteit van Tswaing, wat oor Sannieshof regeer, aangekondig dat hy 'n hofsaak teen die plaaslike inwoners gaan maak wat hul rioolplaas sonder sy toestemming herstel het en wat ook weier om vir dienste te betaal wat Tswaing nie kan of wil lewer nie. Terwyl die dorpenaars hul sente omdraai om pompe vir die rioolplaas aan te koop, het die burgemeesteres van Tswaing vir haar nog 'n swart Mercedes CLK van 1,2 miljoen rand aangeskaf, blykbaar op munisipale onkoste. Ons lag vir Idi Amin en Robert Mugabe, maar is Suid-Afrika se "burgemeesters" beter?
Lande word uit rioolbesoedelde damme en riviere besproei en diere drink daaruit; so beland afvalstowwe in ons voedselketting. Binnekort gaan die EU geen Suid-Afrikaanse landbouprodukte meer in Europa toelaat nie, vanweë ons vuil water. Indien Kroonstad se rioolwater op 'n enkele perske iewers in die EU tydens 'n laboratoriumtoets verskyn, gaan die hele sagtevrugtebedryf op hul swartlys geplaas word. Die skade aan ons landbou gaan binnekort miljarde rande beloop, om van die menslike gesondheidsrisiko's nie eens te praat nie.
Die korttermynoplossing is 'n goeie waterfilter aan jou kraan en om op jou plaaslike dorpbelastings in 'n trust in te betaal soos die NBU se belastingbetalersverenigings maak. Die langtermynoplossing is 'n volkstaat voordat ons soos Zimbabwe volkome verafrikaniseer.
| < Vorige | Volgende > |
|---|
Die NSA verdrink in sy eie riool




