Sedert die oorgawe van FW de Klerk en Roelf Meyer aan die ANC, asook die oorhandiging van die Suid-Afrikaanse Weermag aan die bevelstruktuur van Umkhonto we Sizwe, bevind die Afrikaner hom in die situasie van 'n oorheersde volk wie se grondgebied feitlik vanuit die Ooskusgebiede van Suid-Afrika deur ander groepe beset word.
Die aanstelling van dr. Pieter Mulder, leier van die Vryheidsfront Plus, as adjunkminister van landbou het uit verskeie oorde kritiek ontlok omdat dit enersyds as die soveelste voorbeeld van Afrikanerverraad - soortgelyk aan dié van De Klerk en Meyer - gesien kan word en andersyds tot verlies aan kiesersteun vir die VF Plus kan lei.
Die afgelope twee jaar reeds is daar sprake van toenadering tussen Jacob Zuma en Afrikaners, wat begin het met die braaivleis wat onder beskerming van die tydskrif De Kat in Houghton gehou is en waar Steve Hofmeyr, ekself en ander teenwoordig was.
Die huidige strategie is dat Afrikaners moet poog om groter invloed op die ANC uit te oefen, teenoor die Engelse en kommunistiese intellektuele, asook die Britte en Amerikaners, wat tot dusver die party se denke en optrede bepaal het. Daarmee saam moet Afrikanerselfbeskikking die hoogste prioriteit geniet aangesien die huidige grondwet en bestel besig is om tot ons ondergang te lei.
Onder die omstandighede het Pieter Mulder dus die regte besluit geneem om in die ANC-leeukuil in te stap. Alles hang nou af van hoe hy hom daar laat geld, maar ook: in watter mate die Vryheidsfront Plus, tesame met die breër Afrikanerbeweging met sy kultuurorganisasies, intellektuele en instellings, nuwe denke oor ons land en ons vasteland kan verwoord.
Ten eerste moet sulke denke onder ons eie mense gepropageer word. Die tragiese blindheid waarmee die meerderheid Afrikaners in die afgelope verkiesing gestem het vir die liberale Engelse party, die DA, wat miskien nog meer as die ANC tot Afrikanerondergang en -verdwyning verbind is, toon dat daar nog 'n groot taak voorlê.
Die gevaar bestaan dat 'n steriele debat oor samewerking of nie-samewerking met die ANC verdeeldheid in die VF Plus kan veroorsaak, wat daartoe kan lei dat die party die weg van alle regse Afrikanerpartye volg deur herhaaldelik te skeur totdat daar niks van oorbly nie.
Terwyl robuuste debat en kritiek rondom die kwessie 'n goeie ding sal wees, moet ons daarteen waak om gedurig twis en verdeeldheid aan te wakker.
Een swaeltjie maak geen somer nie, kan mens wel sê. Maar dit beteken ook dat Pieter Mulder vanuit sy party en vanuit die breë Afrikanerbeweging met idees en inligting ondersteun moet word. Die ideologiese stryd teen Suid-Afrikanisme, nasiebou en die miskenning van die Afrikaner se volkskap moet juis nou in felheid toeneem.
Hierdie toegewing van die ANC of voortsetting van Jacob Zuma se toenadering, moet nie as 'n aalmoes gesien word wat ons as dankbare bedelaars by die politieke banket huistoe stuur nie, maar as die begin van 'n reeks toegewings wat op eie strukture vir onderwys, gesondheid, veiligheid en uiteindelik 'n eie staat moet uitloop.
Soos Johann Wingard egter onlangs hier geskryf het: 'n volkstaat gaan nie uit die lug val nie. Ons vryheidstryd kan baat by Pieter Mulder se aanstelling of dit kan daardeur belemmer word. Op sigself is dié gebeurtenis egter nie bepalend nie.
Die keuse berus by elke Afrikaner wat by die politiek betrokke moet raak en veral moet sorg dat Afrikaners nie meer - soos in die afgelope verkiesing - hul kruisie by die liberale Engelse party moet trek nie.
Die Vryheidsfront Plus behoort ook riglyne aan Pieter Mulder te gee ten einde seker te maak dat hy nie soos Marthinus van Schalkwyk sonder meer deur die ANC en sy nasiebou-ideologie opgeslurp word nie. Indien Mbeki deur die ANC vanuit die presidentskap "herroep" kan word, kan die VF Plus sekerlik onder bepaalde omstandighede dieselfde met Pieter Mulder doen indien sy posisie as adjunkminister van landbou nie meer strategiese sin het nie.
| < Vorige | Volgende > |
|---|
Pieter in die leeukuil




