In die rekenaarwese praat hulle mos van: WJSIWJK, oftewel "wat jy sien, is wat jy kry". In die Suid-Afrikaanse politiek geld presies die teenoorgestelde: wat jy sien, is juis nie wat jy kry nie.
Laat ek verduidelik.
Woensdag se verkiesingsuitslae toon duidelik dat Suid-Afrikaners stem vir die party van hul eie rasse- en kultuurgroep, met die moontlike uitsondering van Afrikaners wat óf nie gestem het nie óf hul lot by dié van die Engelse liberale party, die DA, ingewerp het.
In vandag se Business Day beaam Steven Friedman dieselfde punt as hy sê: "Ons verkiesings oor die afgelope 15 jaar het primêr oor identiteite gegaan: diegene wat stem, kies partye nie op sterkte van inkopies om te bepaal watter mededinger die beste transaksie bied nie, maar op grond van hul bepaling van wie namens hulle en mense soos hulle praat."
Vir iemand uit die liberale skool soos Friedman om dít te bely, spreek boekdele oor die krag van identiteitspolitiek in Suid-Afrika.
Ironies genoeg probeer die meeste politici en meningsvormers om dié eenvoudige waarheid te ontken. Sedert Tony Leon se "veg terug"-veldtog in 1999, het die DA hom geposisioneer as 'n party vir blankes wat ander minderheidsgroepe soos kleurlinge en Indiërs in hul geledere koöpteer. Die enigste provinsie waar die DA tot dusver min of meer vyftig persent van die stemme kon verkry, is in die Wes-Kaap waar blankes en kleurlinge 'n demografiese meerderheid teenoor swartes en spesifiek Xhosas uitmaak.
Op die oog af, natuurlik, projekteer die DA 'n multikulturele beeld met slagspreuke soos "die party vir al die mense" en "een nasie, een toekoms". Dog kiesers is slim genoeg om tussen illusie en werklikheid te onderskei, soos die dame met wie ek Woensdag meer as twee ure in die ry voor die stembus moes staan en heel duidelik DA sou stem.
Synde blank en Engelssprekend, was haar eerste woorde aan my: "Dis baie belangrik om te stem, veral vir ons wittetjies, en om die ANC te verhoed om 'n tweederdemeerderheid te verkry."
Natuurlik het haar stem nie die ANC gekeer om wel 'n tweederdemeerderheid te behaal nie, maar waarskynlik som haar woorde die motivering vir die meeste van die DA se kiesers baie mooi op.
Iemand het iewers gesê dat die politiek daaruit bestaan om die teenoorgestelde te doen as wat jy sê. Moontlik is dit waarom Engelse en Xhosas so goed vaar in die Suid-Afrikaanse politiek want hulle vind dit gemakliker om 'n front vir hul ware oogmerke voor te hou, anders as die Afrikaners byvoorbeeld waarvan die legendariese eerlikheid eenvoudig nie vir die huidige skimmespel deug nie.
Dit verklaar moontlik die paradoks waarom die partye wat "eerlike" identiteitspolitiek voer, soos Inkatha en die Vryheidsfront Plus, by die stembus so bedroë daarvan afgekom het. Pleks daarvan dat hulle, soos die ANC en DA, onregstreekse identiteitspolitiek beoefen, sê hulle reguit dat hulle Zoeloe- of Afrikanerbelange wil dien, 'n soort polities inkorrekte onbloting wat die gemiddelde kieser laat bloos. Iets in die trant van: die keiser is kaal en moet kaal bly, maar laat ek nie die eerste persoon wees wat dit sê nie.
Aan die ander kant mag dit wees dat kiesers nie soseer identifiseer met partye se beleidsrigtings wat in elk geval duister is nie, maar met 'n ander stel veranderlikes, soos lyftaal, stemtoon en etniese testosteroon.
Soos die grappe destyds oor mev. Thatcher gelui het toe sy "mans genoeg" was om die Britse kabinet te domineer, maak Helen Zille 'n veglustiger indruk as Pieter Mulder en is die gemiddelde bedreigde blanke wat 'n Zimbabwe vrees dus meer geneig om vir haar as die leier van die Vryheidsfront Plus te stem.
Zuma se gewildheid is insgelyks daaraan te danke dat hy onbeskaamd sy swart en Zoeloe-identiteit uitleef, al maak hy dan soms vriendelike geluide oor Afrikaners. Daarom sien die swart kieser hom as 'n geloofwaardiger swart nasionalis as Buthelezi of ander swart leiers wat "tradisionele" politiek beoefen, maar in hul gedrag en logika meer Westers voorkom. Die lakmoestoets hiervoor is sekerlik om te kyk hoe die etniese en rasse-opponent jou sien. Verreweg die meeste blankes hou van Buthelezi en vind hom gematigd en rasioneel, terwyl hulle Zuma en sy masjiengeweerliedjies vrees. Net so word Pieter Mulder en die Vryheidsfront Plus deur swartes as 'n soort folkloristiese Afrikanerparty gesien wat in wese skadeloos is en nie hul mag bedreig nie, 'n bietjie soos Orania met sy 700 siele. Elke 12 ure word daar in Suid-Afrika ongeveer 700 swart babas gebore, dus verteenwoordig Orania 'n blanke demografiese spikkel wat liefs geïgnoreer of die spot mee gedryf kan word.
Heel moontlik kyk die swart, blanke of kleurlingkieser daarom eers na hoe die vyand sy leier of sy party sien alvorens hy sy kruisie gaan trek. Zuma se gewildheid het veral gebaat by al die negatiewe publisiteit wat hy in die hoofstroommedia van blanke kommentators en spotprenttekenaars soos Zapiro ontvang het; dit het die idee by sy ondersteuners gevestig dat hy oor die nodige moed beskik om juis die blanke establishment aan te vat.
Toe Julius Malema van die ANC insgelyks die liberale Helen Zille in Natal 'n "rassis" genoem het, het hy haar aantreklikheid by blanke kiesers verhoog, as iemand met 'n verskuilde rasseprogram wat sy doeltreffend agter haar liberale masker verberg.
Die afgang van die kleiner politieke partye is heel moontlik daaraan te danke dat hulle nooit deur hul opponente aangeval of beledig word nie en gesien word as te naïef of te onskadelik om 'n dubbele spel te voer.
Mandela het waarskynlik die grondslag vir politiek in die nuwe Suid-Afrika gelê deur te maak asof hy die blankes se vriend was terwyl hy hulle ondergrawe en vernietig het. Met ander woorde: wat jy sien, is nie wat jy kry nie.
| < Vorige | Volgende > |
|---|
Onder die multikulti-masker skuil identiteitspolitiek




