praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Tuesday, 22. May 2012

Bygewerk op:05:04:07 AM GMT

Jy is hier: Dan Roodt Waarom die ANC se tweederdemeerderheid 'n goeie ding is

Waarom die ANC se tweederdemeerderheid 'n goeie ding is

E-pos Afdruk PDF
Image

Die jongste meningsopname deur Ipsos-Markinor toon dat opposisiepartye soos Kongres van die Mense of die DA in hul verwagtinge om beduidende stemme by die regerende party af te neem beskaam is, want die ANC behoort steeds 'n tweederdemeerderheid te behaal.

Daardie politieke gek wat vir die Afrikaner se huidige penarie verantwoordelik is, FW de Klerk, het onlangs 'n patetiese oproep gedoen dat die ANC nie 'n tweedemeerderheid behoort te verkry nie.

Die vraag is: waarom nie? Nadat De Klerk in sy onbesonne oorgawe die Weermag deur Umkhonto we Sizwe laat oorneem het en so te sê alle openbare instellings, waaronder ook Eskom, Transnet en ander semi-staatsinstellings, watter verskil op aarde maak dit indien die ANC drie of vier minder parlementslede het wat hom teoreties sou verhoed om die fameuse 1996-grondwet te verander?

Danksy Roelf Meyer, wat 'n nog hopeloser figuur as De Klerk self is, het die ANC 'n grondwet verkry wat geheel en al in sy guns geskryf is. Tot dusver het die ANC 'n totale oorheersing oor die land bekom sonder dat dit nodig was dat hy die grondwet verander. Trouens, staatdepartemente, provinsies en munisipaliteite oortree elke dag die grondwet sonder dat 'n haan daaroor kraai in hul rassediskriminasie teen blankes, asook hul taaldiskriminasie teen Afrikaans.

Of die ANC dus oor twee derdes van die parlementêre setels beskik of nie, maak geen duit verskil aan die dwingelandy van transformasie waarin ons reeds verkeer nie.

Trouens, vanuit die oogpunt van die Afrikaner wat dringend toegewings met die maghebber moet onderhandel ten einde fisiek en kultureel te bly voortbestaan, mag dit selfs 'n goeie ding wees indien die ANC tydens môre se verkiesing 'n oorweldigende meerderheid sou behaal.

Ten eerste mag dit nodig wees vir die ANC om die grondwet te verander indien Jacob Zuma 'n eie onderwysowerheid aan Afrikaners sou toestaan.

Dit is altyd beter om met 'n vyand te onderhandel wat nie bang is dat sy toegewings hom van steun onder sy volgelinge sou beroof nie.

Ten tweede stel Zuma se oorweldigende meerderheid hom bloot aan kritiek dat hy 'n eenpartystaat regeer waarin minderhede verdruk word. Toegewings aan die Afrikaner in die vorm van 'n eie onderwysdepartement, minder regstellende aksie en grondhervorming, asook 'n beter wapenwet, kan die indruk van 'n eenpartystaat versag.

Soos wat die meeste intelligente ontleders voorspel het - teenoor die liberale wensdenkers wat steeds onder die illusie verkeer dat ras geen rol in die SA politiek speel of behoort te speel nie - stem die swart SA kieser vir 'n leier van sy ras en verkieslik van sy eie stam. Dis geen toevalligheid dat Zuma 'n Zoeloe is en dat die vorige swart presidente insgelyks uit die tweede grootste etniese groep, die Xhosas, gekom het nie.

Mev. Zille van die DA en haar aanhangers in die liberale media is daaroor begaan dat die ANC se eenpartyoorheersing gaan voortduur omdat hulle dit sien as 'n mislukking van die multikulturele smeltkroestelsel wat hulle self hartstogtelik voorstaan.

Maar vir die leidende figure onder die Afrikaners, asook ons arme volk wat tans op alle gebiede vertrap en selfs vermoor word, verteenwoordig die huidige stelsel 'n steen des aanstoots wat hetsy deur onderhandeling, hetsy deur 'n eventuele gewapende opstand, verander móét word. (En vir diegene wat nie meer Afrikaans verstaan nie, let tog op die betekenis van "eventueel" in die laaste sin, as "moontlik", "gebeurlik".)

Die enigste hartseer van die huidige kiespatroon is dat soveel Afrikanerkiesers steeds aan die liberale sirenegesang van die DA gehoor gee en sodoende eintlik hul steun vir die huidige stelsel uitspreek, pleks van die Vryheidsfront Plus se selfbeskikkingsgedagte te onderkraag.

Uiteindelik is verkiesings in Afrika egter gebeurtenisse wat vooraf deur militêre en demografiese faktore bepaal word. Suid-Afrika is hierop geen uitsondering nie. Danksy demografie en De Klerk se militêre en politieke oorgawe, het die ANC 'n feitlik onaantasbare posisie ingeneem. Die massa swart kiesers stem nie vir die ANC omdat hy die beste beleid het nie, maar omdat hy weens sy beheer van die Weermag en staatsinstellings die sterkste is.

In 'n wesentlike sin is môre se uitslag irrelevant. Die intellektuele en politieke bevrydingstryd van die Afrikaner wat tans deur 'n klein minderheid gevoer word, is al hoop om aan die huidige tirannie van die meerderheid te kan verander.

Die hele Suider-Afrika smag na verandering. Die stelsel wat deur Brittanje en Amerika aan die einde van die Koue Oorlog op ons afgedwing is en waardeur bewegings soos die ANC en ZANU-PF hele lande ontvang het om soos die persoonlike eiendom van 'n hoofman te regeer, het reeds sy krake gewys, in weerwil van die geswymel oor "demokrasie".

Daarom hou die huidige Afrikanerbeweging nie slegs die sleutel tot Afrikanervoortbestaan in sy hand nie, maar ook die toekoms van die hele subkontinent wat soos Zimbabwe onder daardie einste "demokrasie" in ellende mag versink.


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: