praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Thursday, 17. May 2012

Bygewerk op:04:37:53 AM GMT

Jy is hier: Dan Roodt Identiteitsoorlog en geskiedenis

Identiteitsoorlog en geskiedenis

E-pos Afdruk PDF
Dan Roodt

Twee dae gelede is Geloftedag gevier, met die verskil dat ‘n pad tussen die ANC se Vryheidsmonument en die Voortrekkermonument deur president Jaco Zuma geopen is, kwansuis om die “versoening” tussen die Afrikaner en die ANC-alliansie te simboliseer.

Met die afskaffing van Republiekdag op 31 Mei, het 16 Desember die belangrikste Afrikaner- patriotiese dag geword, iets soos ons nasionale dag. Uiteraard moet die ANC-bewind daaroor bekommerd wees dat daar nog ‘n dag op die kalender oorbly waartydens Afrikaners nie net hul geskiedenis herdenk nie, maar ook hul identiteit en etniese bewussyn landwyd versterk. Geloftefeeste vind immers oral op klein plattelandse dorpies, asook by die Voortrekkermonument plaas.

Waarskynlik het ek al voorheen na ‘n onlangse dokument van die Verenigde Nasies verwys wat die term “identiteitskonflik” gebruik om etniese konflik te benoem. Dit ly geen twyfel dat Suid-Afrika oor die afgelope 200 jaar, ten minste sedert die Britse oorname van die Kaap in 1806, midde-in ‘n identiteitskonflik of selfs identiteitsoorlog verkeer nie. Terwyl dit aanvanklik gelyk het asof Brittanje met gemak die Kaap sou verengels en ons voorouers die Engelse identiteit sou aanneem, het die Groot Trek en die Boererepublieke die Engelse meesterplan vir Suider-Afrika deurmekaar gekrap.

Ten spyte daarvan dat Engeland die Tweede Vryheidsoorlog gewen het, is haar mag in ons land tydens die twintigste eeu telkens afgewater, met Republiekwording op 31 Mei 1961 en ons uittrede uit die Statebond as die grootste terugslag wat die Britse imperium in ons land beleef het. Verwoerd was besig om Suid-Afrika stelselmatig te verontengels, iets wat ook groot byval by plaaslike Engelse gevind het, aangesien die helfte van hulle vir hom gestem het. Die moord op Verwoerd het egter ‘n einde aan die groot Afrikaner-nasionalistiese beweging van die twintigste eeu gemaak en sedertdien is ons algaande weer verengels en word tans deur ‘n Engelssprekende Afro-Saksiese bewind geregeer.

Die mees intense periode van identiteitsoorlog teen die Afrikaner het egter in die tagtigerjare plaasgevind toe ‘n globale propagandastryd teen ons aangeknoop is. Dit is so suksesvol gedoen dat Afrikaners grondig verdeel is en selfs aan hul eie reg op voortbestaan begin twyfel het. Daarna het die ANC die land sonder om ‘n skoot te skiet verower.

Ons moet onthou dat die ANC by uitstek ‘n skepping van die Engelse Kerk is. Die persoon wat die grootste rol in die befondsing van die ANC, maar ook in die propaganda-oorlog van die tagtigerjare gespeel het, was aartsbiskop Trevor Huddleston van die Anglikaanse Kerk wat toentertyd ook voorsitter van die Britse Anti-apartheidsbeweging was.

Die ironie is dat die Afrikaner in die tagtigerjare, net voor sy verowering deur die ANC-alliansie, op die kruin van sy militêre mag was. Nie net het ons land oor kernwapens beskik nie, maar ons het gedugte nuwe konvensionele wapens soos die G5- en G6-langafstandkanonne, asook die Rooivalk-aanvalshelikopter ontwikkel. Op die slagveld was ons so te sê onoorwinlik. Die ANC was op daardie stadium nie veel meer as ‘n terroristebende van ongeveer 50 leiers en ‘n paar duisend vlugtelinge (sommige mense sou sê plakkers) in Zambië en Angola nie.

Nietemin het die hele bouwerk van Afrikanermag, die Nasionale Party, die Broederbond, SAW, die SA Polisie, die drie susterskerke en die universiteite soos ‘n kaartehuis ineengestort. Waarom? Behalwe allerlei komplotteorieë en natuurlik mnr. FW de Klerk wat sedert 1994 toenemend van verraad beskuldig word, is daar tot dusver geen afdoende verklaring vir hierdie ongewone kapitulasie aangebied nie.

Soms moet ‘n mens egter effens terugstaan om ‘n geheelblik oor die geskiedenis te verkry. Daar is ook veel te leer uit die geskiedenis van ander lande en ander tydperke. Onlangs het die langdurige konflik tussen Frankryk en Engeland in die laat-Middeleeue my begin interesseer.

Ons mense verkeer vandag onder die indruk van ons getalsminderheid, van die “oormag” wat daar teen ons gemonster is. Ek verstout my egter om te sê dat die sleuteloomblikke in die geskiedenis nog nooit deur getalle bepaal is nie. Ons het dit by Vegkop en Bloedrivier gesien. Maar ook tydens die vele veldslae van die sogenaamde “Honderdjarige oorlog” tussen Frankryk en Engeland vanaf 1337 tot 1453.

Op papier was Frankryk die sterkste, met ‘n groter bevolking, groter weermagte en gepantserde edelmanne te perd. Die probleem was egter dat die Franse identiteit ‘n gevoelige slag toegedien is deur die Capetiaanse koninklike bloedlyn wat doodgeloop het. Hiermee het die Engelse konings, wat ook verlangs Capetiane was, die geleentheid gekry om aanspraak op die Franse kroon te maak.

Kortom, Engeland het oor ‘n sterker identiteit as Frankryk beskik. Dít, tesame met die gebruik van die sogenaamde “lang boog”, het die Engelse in staat gestel om tydens verskeie beroemde veldslae soos Crécy en Agincourt met veel groter Franse magte af te reken.

Veral die Slag van Agincourt op 25 Oktober 1415 word as ‘n wonderbaarlike oorwinning, gelykstaande aan Bloedrivier of Vegkop, gesien. Volgens sekere berigte het die Engelse by Agincourt te staan gekom teen ‘n Franse oormag wat hulle ses keer in getalle oortref het. Daar was maar iets soos 6 000 Engelse teenoor 36 000 Franse. Nie net dít nie, maar die Engelse was uitgeput deur siekte, gebrek aan voedsel en ‘n opmars van 400 kilometer deur vyandelike Franse gebied. Daarteenoor was die Franse soldate vars, gesond, wel gevoed en swaar bewapen met omtrent 8 000 gepantserde en berede edelmanne.

Hendrik die Vyfde van Engeland het egter besluit om nie langer die konfrontasie uit te stel nie en te veg. Ek sal nie hier op al die militêre besonderhede ingaan nie, asook die modderige terrein wat die Engelse boogskutters teenoor die Franse ridders bevoordeel het nie. Die uiteinde van die veldslag was egter verwoestend vir die Franse: hulle het tussen 7 000 en 10 000 soldate aan die dood afgestaan en 1 500 edelmanne is gevange geneem, terwyl slegs 112 Engelse gesneuwel het.

Die oorheersing en geweld wat Afrikaners vandag in Suid-Afrika ervaar, is vir my baie soortgelyk aan dít wat Frankryk tydens die Honderjarige oorlog getref het, asook Duitsland tydens die Dertigjarige oorlog van 1618 tot 1648. Gedurende die Honderdjarige oorlog het Frankryk die helfte van haar bevolking verloor, net soos wat ‘n derde van alle Duitsers tydens die Dertigjarige oorlog omgekom het. Voor die oorlog het Frankryk oor 17 miljoen mense beskik. As ons al die Afrikaners wat sedert 1994 geëmigreer het bytel by diegene van ons wat in dieselfde tyd vermoor is, kan ons insgelyks sê dat ons reeds ‘n derde van ons bevolking moes afstaan.

Die gevolge van die Franse identiteitsverlies en verlore veldslae in die veertiende en vyftiende eeue moes egter veel erger gewees het. Die land is herhaaldelik deur die Engelse soldate geplunder. Armoede, hongersnood en moedeloosheid was aan die orde van die dag. Eers toe die beroemde Johanna van Arkel (Jeanne d’Arc in Frans) in 1429 teen die Engelse opgestaan het, is die Franse identiteit herstel en kon die land uiteindelik teen 1453 van die Engelse invallers ontslae raak.

Hoewel Frankryk deur die oorlog verwoes is, het die Franse volk van ‘n verdeelde feodale konstellasie van hertogdomme tot ‘n sterk nasie met ‘n gemeenskaplike taal en identiteit ontwikkel. Net so het die oorlog ‘n taalstryd in Engeland veroorsaak, want Frans was steeds die taal van die hoëlui en Engels ‘n soort kombuistaal waarop neergesien is. Herhaalde gerugte dat Frankryk Engeland sou binneval om die Engelse taal te vernietig, het op sy beurt Engelse nasionalisme en ‘n liefde vir die Engelse taal laat opvlam. Teen die tyd dat Elizabeth I in 1558 aan bewind gekom het, het daardie merkwaardige opbloei in die Engelse teater plaasgevind wat figure soos William Shakespeare en Christopher Marlowe opgelewer het. Die eilandstaat Engeland, hoewel arm aan grondgebied en aan hulpbronne, was gereed om deur handel en seevaart ‘n wêreldmoondheid te word.

Die lesse uit ons eie geskiedenis en dié van ander lande is die volgende: ‘n Volk se sin vir sy eie identiteit bepaal sy oorlewing, meer as getalle, grondgebied of enigiets anders. Oorloë, maar ook taalbewegings en strominge in die kuns en letterkunde, skep die allesbepalende nasionale identiteit. Uiteraard speel godsdiens ook ‘n vername rol. Terwyl Frankryk en Spanje, die grootmoondhede van die vyftiende, sestiende en sewentiende eeue, die Katolisisme as samebindende faktor gehad het, het die kleiner lande van Noord-Europa, waaronder Engeland, ‘n sterk Protestantse identiteit aangeneem wat hul bevryding van die groot Katolieke ryke moontlik gemaak het. Ons voorouers in Nederland wat in 1571 vir die eerste keer die oranje-blanje-blou by Den Briel gehys het, was natuurlik ‘n sprekende voorbeeld hiervan.

Die verhaal van Moses in die Ou Testament is ewe interessant, vanuit ‘n politieke oogpunt. Die Israeliete was slawe in Egipte en het begin om die Egiptiese identiteit en gode aan te neem. Daarom wou Moses die volk vir ‘n verootmoedigingsdag na die woestyn neem waar hy hulle wou oortuig om na hul ou godsdienstige, kulturele en volksidentiteit terug te keer. Die verhaal van Moses wat “sy volk uit Egipteland gelei het” verteenwoordig ‘n oerteks van Westerse nasionalisme wat hom oor en oor in Europa, Noord-Amerika, maar ook by ons in Suid-Afrika, afgespeel het.

As ons na ons eie geskiedenis kyk, was die verlies van die Boererepublieke in 1902 geensins die einde van die Afrikanerbeweging wat met die stigting van die G.R.A. in 1875 momentum begin verkry het nie. Sowel ons taal as ons letterkunde het ná 1902 met rasse skrede vooruitgang gemaak.

Die ANC en veral natuurlik sy ideologiese meester, die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty, het vroegaan ingesien dat die moderne Afrikaner nooit militêr verslaan sou kon word nie en dat die oorlog daarom teen sy identiteit gerig moes word. Reeds in die sestigerjare het sowel Brian Bunting as Braam Fischer van die SAKP voorspel dat die Engelse media uiteindelik die Afrikaner se identiteit sou ondermyn en die nuwe alliansie van radikale Engelse intellektuele en swart nasionaliste sou laat seëvier. Hierdie kommunistiese voorspelling van die sestigerjare is feitlik woordeliks bewaarheid en vandag doen die laaste oorblywende Afrikaanse mediagroep, Naspers, lustig aan die aftakeling en bespotting van die Afrikaner mee.

Ons situasie is in vele opsigte hopeloos. Net so hopeloos soos die toestand van die Voortrekkers op die vooraand van Bloedrivier toe dit gelyk het asof die hele Groot Trek ‘n mislukking was of dié van die Franse voor die koms van Johanna van Arkel! Trouens, daardie gevoel van hopeloosheid, angs en desperaatheid is juis wat die identiteitsvernuwing in eie geledere weer aan die gang sit. Dit gebeur egter nie vanself nie. Iemand, al is dit ‘n jong meisie soos Johanna van Arkel, moet op sy of haar perd klim, die wapenrusting aantrek en die vyand weer simbolies die stryd aansê.

In ons geval is ons nooit militêr deur die ANC-alliansie verslaan nie, hoewel die retoriek van die ANC vandag soms die teendeel wil beweer. Maar ons identiteit, taal en kultuur is in puin gelê, net soos die Franse grondgebied tydens die Honderdjarige oorlog verwoes en geplunder is. Die Engelse universiteite van Suid-Afrika het in die aanloop tot 1994 ‘n belangrike rol in die identiteitsoorlog teen Afrikaners gespeel. Hulle was die laboratoria onder buitelandse invloed waar die nuwe “Afro-Saksiese” identiteit wat ons land tans aangeneem het, geprakseer is. Daarom het Kader Asmal en ander ANC-ministers van onderwys onmiddellik teen die Afrikaanse universiteite opgetree en gesorg dat hulle skadeloos gestel en onder direkte regeringsbeheer gebring word.

In ‘n sekere is ons dus met die pen, en nie die swaard nie, verower. Logies sal ons ook deur die pen bevry moet word. Eers wanneer die Afrikaner se identiteit en volkstrots deur ‘n sterk taalbeweging herbou is wat ook op alle gebiede van die kunste en letterkunde neerslag moet vind, sal ons die eerste werklike stap na vryheid kan neem.

Op ‘n manier is ons terug in die dertiger- en veertigerjare van die vorige eeu toe die Britse invloed in Suid-Afrika sterk was en ons op kultuurpolitiek aangewese was. Die rol wat skrywers en digters soos N.P. van Wyk Louw, C.M. van den Heever en ander gespeel het om die Afrikanerelite vir ons saak te wen, was destyds van onskatbare waarde.

Vandag word ons land deur Amerikaanse multikulturalisme oorspoel, net soos dit in vorige tye deur Britse imperialisme oorheers is. Die voortreflikheid en bekwaamheid van die swartman, asook sy reg om oor ons te heers, word deur Hollywood en die res van die Amerikaanse media uitgebasuin. Geen wonder dat die VSA ‘n lid van sy swart minderheid tot president verkies het nie, want in Hollywood-films is swartmense altyd slimmer en beter as blankes, as hulle nie boonop in gesagsposisies bo blankes as polisiehoofde, burgemeesters en selfs presidente verkeer nie. Die multikulturele propaganda van Sewendelaan wat in Kreoolse Afrikaans op die SAUK aan ons mense gebring word, verteenwoordig bloot ‘n deurslagpapierafdruk van die Hollywood-model.

Die identiteitsoorlog wat in die sewentiger- en tagtigerjare op ons losgelaat is, is daarom nog lank nie verby nie. Die ANC-oorwinning van 1994 was bloot ‘n veldslag in die oorlog en solank as wat ‘n groepie Afrikaners nog Afrikaans praat, Geloftedag vier en hul geskiedenis aan hul kinders oordra, sal daardie oorlog nie verby wees nie. Die ANC weet dit, die Amerikaners en die Britte weet dit en die meer intelligente Afrikaners besef dit ook.

Die hele Suid-Afrikaanse stelsel is daarop gemik om die Afrikaner onder te hou. Die magtige Engelse taal, regstellende aksie, die geweld en intimidasie, naamsveranderings, propaganda oor ons geskiedenis, dít alles word ingespan om elke Afrikaner te oortuig dat sy onvryheid ‘n natuurlike en gewenste toestand is.

Identiteitsoorloë het egter deur die geskiedenis onverwagse wendinge geneem. Een mens – of een boek – het al dikwels die gang van die geskiedenis verander. Dink maar aan Jean-Jacques Rousseau se Sosiale kontrak wat op die Franse revolusie uitgeloop het, maar ook die gedagte van die “edele barbaar” gevestig het, die sleutelbegrip van die moderne multikulturele beweging. Mense beweer dat Harriet Beecher Stowe se voorstelling van slawerny in Uncle Tom’s Cabin regstreeks tot die Amerikaanse Burgeroorlog aanleiding gegee het. Lenin was bloot ‘n Russiese intellektueel wat in Switserland weggekruip het, maar wat agterna die belangrikste moderne revolusie in sy land teweeggebring het. Tydens die hoogbloei van Russiese en Sowjetkommunisme, het Solsjenitsin egter Lenin se revolusionêre stelsel die nekslag toegedien met sy boeke oor die Siberiese strafkampe, die sogenaamde “goelags”. Vandag is Rusland weer van kommunisme vry.

In ons stamland, Nederland, het ‘n homoseksuele skrywer en intellektueel, Pim Fortuyn, die aanvanklike dryfkrag aan die pro-Westerse beweging in daardie land verskaf, wat ook op die huidige herwaardering van die Afrikaner en Afrikaans in Nederland uitgeloop het.

Vir vryheid is dit nooit te laat nie.

En: die versugting na ‘n Groot Leier wat vele Afrikaners voel, is dalk minder van pas as ons behoefte aan ‘n Groot Skrywer. Politieke en militêre leiers kom en gaan. Churchill het Brittanje tydens die tweede wêreldoorlog suksesvol teen Duitsland aangevoer, maar is in die eerste verkiesing daarna uitgestem. Lande soos België en Italië het meer onlangs vir lang tye sonder nasionale leiers of regerings klaargekom.

Dat Afrikaners tans leierloos is, is waarskynlik beter as om deur ‘n FW de Klerk of ‘n Van Zyl Slabbert gelei te word wat ons net verder van die wal af in die sloot sou help.

Dog sedert N.P. van Wyk Louw se afsterwe op 18 Junie 1970 was daar nog nie weer ‘n groot skrywer in Afrikaans wat ons kultuur tot ‘n estetiese en politieke geheel kon saambind en verwoord nie. ‘n Vorige geslag skrywers onder leiding van André P. Brink het ‘n vorm van “verraaiersliteratuur” gepleeg en was konstant daarop uit om verdeeldheid en skuldgevoelens onder ons mense te kweek. Brink se onlangse ode aan Oliver Tambo in die Londense Financial Times spreek boekdele oor presies waar sy lojaliteite geleë was.

Terwyl die magtige Naspers met sy monopolie oor die Afrikaanse media dit baie moeilik maak om enige werklike politieke debat in die Afrikaanse hoofstroom te voer, ontkom boeke en letterkunde toenemend aan die mediagroep se ystergreep.

Die Afrikaanse letterkunde mag die Achilles-hiel van die nuwe Suid-Afrika wees. Want terwyl die nuwe Suid-Afrika sy klaargemaakte polities korrekte kultuur en identiteit vanuit die VSA en ander Engelssprekende lande in Afrika ingevoer het, slaag hy nie daarin om ‘n nasionale letterkunde te vestig nie. Want letterkunde is nie iets wat soos die geskiedenis met ‘n handomkeer gevestig kan word deur beheer oor die TV, radio en koerante uit te oefen nie. Dit verg harde werk oor baie jare, iets waarvoor ons huidige heersers nou nie juis bekend is nie.

Maar daaroor ‘n volgende keer meer.


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: