In die negentigerjare is Suid-Afrika onder Nelson Mandela gesien as moontlik die eerste ware demokrasie in Afrika. Hoe naïef was dit nie om te dink dat 'n land met elf amptelike tale en meer as dertien etniese groepe deur 'n eenvoudige stelsel van een-mens-een-stem tot ware demokrasie verhef kon word nie!
Oor die afgelope weke het die ANC-regering sy drakoniese wet op die Beskerming van Inligting met sy groot parlementêre meerderheid op die land afgedwing. Dit het ondanks groot openbare teenkanting deur joernaliste, skrywers, akademici, grondwetkenners, opposisiepartye en burgerlike verenigings geskied. Die uitvoerende redakteur van die Sunday Times en een van die invloedrykste swart meningsvormers in die land, Mondli Makhanya, het die regerende party se gedrag in die parlement waar die opposisiepartye selfs uitgejou is, as díé van “iziwengu” beskryf. “Iziwengu” is ‘n Zoeloewoord wat ‘n gepeupel of skare op loop beteken.
Ook onlangs het die ANC se plaaslike regering in Pretoria aangekondig dat die naam van die hoofstad verander gaan word. Enkele jare gelede het die leier van die Vryheidsfront Plus, dr. Pieter Mulder, spesiaal met president Jacob Zuma oor die naamkwessie onderhandel en is hy die versekering gegee dat “Pretoria” as deel van die Afrikanergeskiedenis en -erfenis behoue sal bly.
Hierdie soort gedrag van “mag is reg”, tesame met die opophoudelike gruweldade teen boere tydens plaasmoorde of selfs teen stedelinge, skep die indruk dat Suid-Afrika op pad is na ‘n psigopatologiese toestand wat slegs as maatskaplike sadisme getipeer kan word. Die veelgeroemde liberaal-demokratiese grondwet wat in 1994 onderhandel en in 1996 aanvaar is, het ‘n soort sado-masochistiese kontrak geword wat die absolute mag van die meerderheid oor die minderheid verseker. Soos in die werke van die Markies de Sade het ons almal aangehoudenes in Curval se kasteel geword waar die maghebbers met ons kan maak wat hulle wil. Omdat ons eenmaal tot daardie kontrak ingestem het, is ons nou gebind om elke moontlike vergryp van die regerende party en sy toenemend korrupte amptenare te verduur.
Van korrupsie gepraat, het ‘n onlangse opname van Transparency International bevind dat Suid-Afrika ewe of selfs meer korrup geraak het as sy bure in Suider-Afrika. Volgens die studie bevind die land hom tans in die 54ste posisie op die deursigtigheidsindeks, ver onder sy buurland Botswana wat die 33ste plek inneem.
Wat die publiek se verwagtinge oor korrupsie betref, neem Suid-Afrika ‘n middelposisie in tussen Mosambiek waar 68% van die burgers verwag om omkoopgeld aan staatsamptenare te betaal en Zambië met 42%. Volgens die Transparency International-verslag het 56% van Suid-Afrikaners wat verlede jaar in kontak met ‘n staatsamptenaar was, omkoopgeld betaal. Die gemiddeld vir die hele Suider-Afrika is 55%, wat aantoon dat Suid-Afrikaanse korrupsie selfs ‘n persentasiepunt bokant die gemiddeld verkeer.
Die mees korrupte amptenare is die polisie en verkeerspolisie, maar onlangs het die hooflanddroste van Pretoria en Johannesburg ook erken dat beide howe in dié stede grotendeels in korrupsie verval het met misdadigers wat hofamptenare omkoop om hul dossiere te laat wegraak. ‘n Mens kan ook ‘n verstekvonnis teen iemand verkry deur ‘n hofamptenaar om te koop om die regte dokumente uit te reik.
Ondernemings wat met die staat sake doen, erken dit nie graag nie, maar dit word byna algemeen aanvaar dat staatstenders teen betaling van omkoopgeld verkry word. Die meeste mense verdink die ANC daarvan dat sy nuwe wet op die Beskerming van Inligting nie bedoel is om staatsgeheime te bewaar nie, maar om verdere onthullings oor korrupsie in eie geledere te verdoesel. Swaar strawwe van tot 25 jaar tronkstraf mag opgelê word teen diegene wat “geklassifiseerde inligting” sou bekendstel of aan die media sou uitlek.
Die vervaardigers van Duitse luuksemotors soos BMW, Mercedes en Porsche, om nie van Jaguar, Bentley, Aston Martin en die res te praat nie, kla allermins oor korrupsie want in die strate van Johannesburg en in Pretoria kan ‘n menigte staatsamptenare gesien word wat in sulke motors, gewoonlik swart van kleur, ‘n soort Hollywood-bestaan ten toon stel.
Ook in die kolossale winkelsentrums van Sandton vertrap besoekers aan Gucci, Louis Vuitton, Boss, Etienne Aigner, Max Mara en ander luukseboetieks mekaar om hulself in duur klere, skoene en handsakke uit te rus.
Volgens een opposisiepolitikus “verseker korrupsie en swart rassenasionalisme die eenheid van die ANC as ‘n party”. Die merkwaardige verskeidenheid kapitaliste, kommuniste en Zoeloe-nasionaliste wat deesdae eklekties of selfs sinkretisties in die party saamgebind word, spreek van gemeenskaplike belange waarvan die plundering van die Suid-Afrikaanse staatskas taamlik bo aan die lys verkeer.
Die term “tenderpreneur”, dit wil sê iemand wat homself as tussenganger by staatstenders verryk, het in Suid-Afrika ‘n alledaagse geword. Danksy tenderpreneurs wat ook die party se geldkoffers sterk, is die ANC vandag, volgens ‘n plaaslike sakeman, “waarskynlik die rykste politieke party ter wêreld, met meer geld as die Republikeine of Demokrate in Amerika.”
Die kanse op regeringsverandering in Suid-Afrika is, die drome van die klein opposisiepartye ten spyt, naby aan nul. Trouens, al die sogenaamde “bevrydingsbewegings” van Suider-Afrika wat tydens die Koue Oorlog aan die Sowjetunie of China se kant was, is steeds ná dertig of veertig jaar aan bewind: Frelimo in Mosambiek, Zanu PF in Zimbabwe, die MPLA in Angola, Swapo in Namibië en, les bes, die ANC in Suid-Afrika. Volgens een Europese diplomaat in Pretoria, het die “frontliniestate” van die sewentiger- en tagtigerjare in Suider-Afrika herleef en vorm hulle vandag ‘n anti-Westerse vesting van de facto-eenpartystate.
Anti-Westers, anti-Europees, maar ook: anti-blank. Terwyl die kinders van die ANC se nomenklatura die beste Engelse privaatskole bywoon en van hoë poste in die openbare of privaatsektore verseker is, trek Afrikaners en die res van die blanke middelklas noustrop. Onder die ANC-lid Maria Ramos, is die pensioenfonds van die nasionale spoorwegmaatskappy, Transnet, gestroop en ontvang tienduisende Afrikaners wat lewenslange diens aan Transnet gelewer het slegs R900 per maand aan pensioen, nie eens ‘n hongerloon nie.
Blanke kinders wat in 1994 of daarna gebore is, het geen ervaring van of aandeel aan apartheid gehad nie. En tog word daar die ergste teen hulle gediskrimineer as dit by indiensneming en opvoedkundige geleenthede kom. Die universiteit van Stellenbosch met sy Kaaps-Hollandse geboue is deur privaatskenkings van Afrikaners en hul harde werk opgebou. Dog enkele dae gelede is ‘n voornemende mediese student aan Stellenbosch afgekeur “omdat sy blank is”, dus van Europese afkoms.
Volgens die universiteit het die briljante leerling, wat op skool hoë gemiddelde punte in al haar vakke handhaaf, ‘n “bona fide-fout” op haar aansoekvorm begaan deur aan te dui dat sy ‘n “kleurling” is. In September is sy dus tot mediese studie toegelaat. Helaas, op 13 Oktober het dr. Ronel Retief, die hoof van akademiese administrasie, haar gebel “om haar ras te verifieer”. Toe dit blyk dat sy ‘n blanke is, is haar toelating summier teruggetrek.
In ‘n ander voorval is ‘n Afrikanerstudente aan die Unversiteit van Pretoria deur ‘n swart man aangeval. Volgens die mediese personeel is sy met behulp van ‘n mes deur hom “lewendig gedissekteer”, onder andere deur haar gesig oop te sny en die meeste van haar slagare af te sny. Agterna het hy haar bloeiend op haar bed verkrag. Wonderbaarlik het sy oorleef, maar haar aanvaller het aanvanklik uit polisieaanhouding ontsnap nadat hy deur twee swart polisiemanne gehelp is om weg te kom. Per geluk is hy later weer aangekeer. Sulke insidente is alledaags en ná ‘n paar dae vergete omdat die volgende gruwelvoorval die voorblaaie van koerante gevul het.
Daar is vandag in Suid-Afrika meer onreg, pyn en geweld as ooit tevore. Die sadistiese kasteel waarin ons woon, heet “Demokrasie anno 1994”, maar het iets heel anders geword. Mnr. John Kane-Berman van die liberale Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge praat van “demokratiese sentralisme”, ‘n Leninistiese doktrine waarvolgens alle mag in die hande van die party gekonsentreer word.
Afrikaners se enigste hoop op oorlewing lê by ‘n desentralisering van mag en die vestiging van ‘n federasie of konfederasie in Suid-Afrika. Sonder grondwetlike verandering, is hulle ten eerste gedoem tot verdere verarming en uitsluiting van geleenthede, en ten tweede tot uitsterwing as die laaste oorblywende “wit Afrikane” op die vasteland.
| < Vorige | Volgende > |
|---|
Suid-Afrika se maatskaplike sadisme




