
Die fiets het ’n paradoks geword. Dis tegelyk ’n vervoermiddel vir die armes en ’n speelding vir viertrekvoertuigeienaars.
En dis laasgenoemde en hul rygoed wat verlede Sondag ’n parkeerterrein in Midrand vervuil vir die wegspring van Johannesburg se grootste fietsren.
Die Russiese (en Italiaanse) konstruktiviste se aanbidding van die masjien is wat elke fietser inspireer. Die wedren word immers geadverteer met die slagspreuk: “Blood, sweat and gears”.
Met die aantree hoor jy rondom jou omtrent net Afrikaans. Soos rugby, is fietsry kennelik ’n Afrikanersport.
Dog ’n sport vir amateurs, want almal kan daaraan deelneem, van professionele fietsers tot die vrou wat later in die middestad van Johannesburg al swetende teenoor my bely: “Dis my derde probeerslag. Die vorige twee kere kon ek nie klaarmaak nie.”
Daar heers ’n karnavalatmosfeer. Al staan almal met hul blink fietsrame en futuristiese klere en helms soos beeste in ’n drukgang.
Langs my gesels ’n man van Northcliff wat al die Argus in Kaapstad gery het. “Is dit jou eerste wedren?” vra hy belangstellend. “Pasop net vir die ouens wat aan jou regterkant verbykom. Wees op die uitkyk dat hulle nie in jou vasry nie.”
Uit die groot luidsprekers hits ’n opgeruide aankondiger die fietsers aan, tussen doef-doefmusiek deur. Telkens as nog ’n groep, J, of K of L – elke fietser, soos elke ketter, het sy letter – oor die aanvangstreep beweeg, bereik sy stem ’n histrioniese hoogtepunt.
Uiteindelik breek die groot oomblik aan en word die K-groep tot die stryd opgeroep. Honderde klikgeluide weerklink soos die knippe van fietsskoene aan die pedale vasheg – en hulle is weg. Iewers registreer elkeen se RaceTec-skyfie neffens die voorwiel die wegspringoomblik.
Enkele ure lank is die M1- en N14-snelweg, die middestad, Jan Smuts, Homestead, Douglas, Witkoppen en ander boulevards aan fietse, pleks van motors, oorgelewer.
En watter voorreg is dit nie om die hele M1 op ’n fiets te mag verken nie: die tekstuur van die teer, die monumentale beton van die oorbrûe, die lowerhange van Parktown of Westcliff.
’n Mens kan filosofies raak oor jou tweewielervarings. Soos die Vlaamse wysgeer Marc van den Bossche in sy boek Wielrennen skryf: “Fietsry maak my denke vry.” ’n Mens is vasgevang in die oomblik en monitor gedurig die pad, die omgewing, jou medefietsers en die oorblywende krag in jou bene. Maar die vrye denke bo-op ’n fiets behels ook die somtotaal van jou herinneringe en assosiasies met Johannesburg en sy strate.
Trouens, elke straatnaam verteenwoordig ’n stuk persoonlike en politieke geskiedenis.
Iewers onder die teer van “Malibongwe” leef Hans Strijdom steeds voort.
Met die stywe opdraand deur The Wilds beland jy skielik in Berea en die middestad van Johannesburg, waarna ’n paar skouspelagtige draaie op en af van die M2 volg.
Die medalje wat jy vier uur later by die wenpaal ontvang, bevat die ietwat ironiese inskripsie: “A world-class African city”.
Die stroom hoofsaaklik wit en Afrikanerfietsers uit Pretoria en Centurion wat die middestad van Johannesburg tref, laat jou dink aan die woorde van die Sting-liedjie: “I’m an alien, an Englishman in New York.”
Want die bleek fietsers in hul helder sintetiese hempies, stywe broeke en helms op Japanse en Italiaanse selfgedrewe tegnologie ontmoet hier ’n heel ander bevolking. ’n Laegraadse etniese konfrontasie, hoewel vriendelik, knetter in die lug.
Naby die ronde Ponte-wolkekrabber drentel swart seuntjies, moontlik uit die Kongo, verwonderd op die sypaadjies rond en waai af en toe vir die verbysnellende ryers teen die afdraand. Naby Mainstraat en die ou Nedbank-hoofkantoor staan ’n swart vrou en skree iets in haar taal, gevolg deur ’n Engelse woord wat sy oor en oor herhaal.
Johannesburg is lankal nie meer wêreldklas nie, maar wel ’n Afrikastad vol stalletjies, ’n Derdewêreld-straatmark tussen Bauhaus-monumente uit ’n vervloë tydvak. Die stad huiwer tussen twee beskawings soos ’n reus wat wik en weeg of hy oor die Amasone moet spring. Die rit op ’n fiets deur die middestad raak surrealisties: vreemd en onsamehangend soos die Dada-kunstenaar Marcel Duchamp se beroemde fietswiel wat bo-op ’n kroegstoeltjie gemonteer is.
Teen die afdraand in Jan Smuts verby die dieretuin “klok” ek 67km/h op my fietsrekenaartjie. Spoed. Die wind in jou hare. Wie het ’n afslaankapmotor nodig? Net daarna in die koeltes van Saxonwold hou ’n man met uitgestrekte arm ’n kleinerige Bar-One na my uit wat ek onwillekeurig vasgryp. Ek kou die taai stuk toffie en melksjokolade heel, kilometers ver.
Daar is iets Sisufosiaans aan fietsry. Pleks van ’n klip soos wat Sisufos teen die berg op en af moes stoot, trap ’n mens jou liggaamsgewig teen die bulte op, met die hoop op ’n kortstondige vryrit teen die daaropvolgende afdraand af. Net om die proses te herhaal, ad absurdum.
’n Fietsren van bykans 100 km lank toets ook die ryer se wil. Sonder deursettingsvermoë kom niemand die lang, steil bulte van die N14 of die gepas genoemde Heartbreak Hill in Midrand op nie. Die laaste 20 km voel verder as die voorafgaande 70.
As jy (volgens RaceTec) 4 uur en 14 minute later in Midrand verby die eindpunt van jou fiets afklim, medalje in die hand, sukkel jy om staanplek vir jou ryding tussen die menigte te vind.
Die gevoel is iets tussen verligting en ’n beskeie soort triomf. Maar ook ’n vae bewoënheid omdat die lewe so kort is. Holbein moes fietse geskilder het.
Ons vlees hang aan ons skelet soos ’n fietser bokant sy geraamte van aluminiumallooi of koolstofvesel huiwer.
| < Vorige | Volgende > |
|---|
Johannesburg op ’n trapfiets




