praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Thursday, 17. May 2012

Bygewerk op:04:37:53 AM GMT

Jy is hier: Dan Roodt DA in Johannesburg ontkieser blankes

DA in Johannesburg ontkieser blankes

E-pos Afdruk PDF
Dan Roodt op fiets

Hierdie gaan 'n kort rubriek wees, want ek moet gaan klaarmaak om aan die jaarlikse 94.7-fietswedren te gaan deelneem. Gister was ek heel dag in die Vryheidsfront se federale raadsvergadering en Vrydagaand by Pretoria-PEN se buitengewone vergadering.

Dus gaan vier ure en bykans 100km op 'n resiesfiets deur die strate en snelweë van Johannesburg vir my 'n welkome verandering van onophoudelike vergaderings wees! Iets wat raadslid Franco de Lange, die VF se enigste verteenwoordiger op die Johannesburgse stadsraad, gister gesê het, het my egter bygebly: Vóór die onlangse munisipale verkiesing het die DA se raadslede in Johannesburg 70% uit blankes bestaan en 30% uit anderskleuriges. Tans is die verhouding presies die omgekeerde, met 30% blanke DA-raadslede en 70% anderskleuriges.

Met ander woorde, die DA se interne regstellende aksie het reeds geslaag en die blanke raadslede in Johannesburg verkeer nou by verre in die minderheid. Nietemin bestaan die DA se kiesers in Johannesburg nog grotendeels uit blankes wat tydens vanjaar se plaaslike verkiesing in groot getalle vir die liberale party van mev. Helen Zille gestem en hul rug op die Vryheidsfront gekeer het.

Dit wil voorkoms asof, ten minste in Johannesburg, die Westerse minderheid verkies om nie meer verteenwoordig te wees nie en die munisipale politiek as't ware op 'n skinkbord aan Soweto, Alexandra en ander swart woonbuurte oorhandig. Die Westerse minderheidskiesers spreek deur hul steun vir die DA ook die mening uit dat swart of bruin verteenwoordigers meer bekwaam as blankes is. Dít, terwyl die koerante deurentyd oor die swak toestand van Johannesburg se finansies, asook die endemiese korrupsie in munisipaliteite, berig.

Is dit die DA wat die blankes ontkieser of ontkieser die stemgeregtiges hulself? Soos kalkoene wat keer op keer vir Kersfees stem, wil dit voorkom asof die Johannesburgse blankes polities boedel oorgegee het.

Daar is 'n ou gemeenplaas wat lui: Mense ontvang die regerings wat hulle verdien. Ek ontvang heelwat kritiek weens my betrokkenheid by die Vryheidsfront, die enigste Afrikanerparty wat by die formele politiek betrokke is, maar my antwoord aan sulke kritici is: Die beste stuurlui staan aan wal! Waarom is u self nie betrokke by 'n party soos die Vryheidsfront en verander dit in 'n hoofstroom- Afrikanerparty wat 'n miljoen stemme op hom kan verenig nie?

Die teenstrydighede in die DA, asook die onlangse korrupsieskandaal in die Midvaal-munisipaliteit, gaan hom op die duur ondergrawe as 'n party wat nóg vis nóg vlees is. Tans verkeer hy in die sleurstroom van die ANC, met regstellende aksie, grondhervorming en 'n sosialistiese welsynstaat as beleid, maar maak steeds daarop aanspraak dat hy die belange van minderheidsgroepe soos die Afrikaners en Engelssprekende blankes verteenwoordig.

Soos ek verlede week in 'n kort briefie in die Sunday Times geskryf het: "Suid-Afrika smag na nuwe politieke idees." Afrikaners behoort nie net 'n oplossing vir hul eie penarie as minderheidsgroep aan te bied nie, maar ook 'n oplossing vir die hele land en Suider-Afrika. Anders as die DA, behoort ons egter nie swart of bruin stemme na te jaag nie. Inteendeel, ons moet die Afrikaners en ander inheemse blankes wat met ons vryheidsideaal identifiseer in een party saamsnoer en dan die stelsel verander sodat die "demokratiese sentralisme" waarvan John Kane-Berman van die SA instituut vir rasseverhoudinge praat, beëindig kan word.

So pas gister is sowel ek as my vrou Karin, die redaktrise van hierdie webwerf, tot die Vryheidsfront se federale dagbestuur verkies, die tweede hoogste gesagsligaam in die party. Sy is ook voorsitter van die Vrouekomitee en ek voorsitter van die Navorsingskomitee. Ons wil daardie posisies gebruik om van die idees wat op hierdie webwerf ontwikkel word in die Vryheidsfront in te dra en te sorg dat dit partybeleid word.

Daar is reeds soveel internasionale navorsing oor selfbeskikking, minderheidsregte, asook taal- en kultuurregte, gedoen. Al wat ons moet doen, is om daardie navorsing vir ons plaaslike omstandighede aan te pas en verwoed in die Suid-Afrikaanse en internasionale media te propageer.

Sowel PRAAG as buite-buiteparlementêre kultuurorganisasie as die Vryheidsfront wat in die parlement, asook op provinsiale rade en munisipaliteite verteenwoordig is, bied twee uitstekende platforms om juis dít te vermag.

In weerwil van die swartgalligheid onder baie van ons mense, is ek daarvan oortuig dat die keerpunt net om die draai lê. Die DA-foefie staan al hoe meer ontmasker met sy drogbeelde van 'n tweede, "meer doeltreffende ANC" wat hy aan die publiek voorhou. 'n Behoorlike politieke tuiste vir die Afrikaner moet dringend tot stand kom in die vorm van 'n meer dinamiese, aanvallende Vryheidsfront wat met groter selfversekerdheid aan die nasionale debat deelneem.


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: