praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Thursday, 17. May 2012

Bygewerk op:04:37:53 AM GMT

Jy is hier: Dan Roodt Die ontstaan van die WaBenzi-diktatuur - waarom die demokrasie in SA misluk het, deel 2

Die ontstaan van die WaBenzi-diktatuur - waarom die demokrasie in SA misluk het, deel 2

E-pos Afdruk PDF

In ‘n vorige rubriek hier op praag.co.za het ek verduidelik waarom die Afrosentriese heersersklas in Suid-Afrika, die WaBenzi, misluk het om ‘n demokrasie te vestig. Dit gaan om die kulturele en klassebewussyn van die regerende elite in Suid-Afrika. Daarop kan ‘n mens egter uitbrei, onder meer oor die vele bykomende en historiese redes waarom demokrasie in ons land so klaaglik misluk het.

Trouens, Suid-Afrika het méér kenmerke van liberale demokrasie vóór 1994 vertoon as tans, want die mag was destyds oor veel meer groepe en instellings versprei terwyl ons deesdae vir alle praktiese doeleindes in ‘n eenpartystaat leef met die WaBenzi wat na willekeur binne die staatsdiens en selfs die privaatsektor vanuit Luthulihuis “ontplooi” word. Kortom, die WaBenzi-diktatuur waarvan ek in my vorige rubriek gepraat het, word volgens Lenin se beginsel van “demokratiese sentralisme” bedryf. Daar heers ‘n mate van demokrasie en debat, maar slegs binne die geledere van die heersende party, in ons geval die ANC.

Die grootste enkele fout wat ná die tweede wêreldoorlog begaan is, is toe etnisiteit in Suid-Afrika ontken is. Jare lank het die liberale en linkse joernaliste en akademici die land se etniese diversiteit ontken in die naam van die “een-nasie-beginsel”. Aan die een kant het dit gesteun op ‘n simplistiese, koloniale interpretasie van liberalisme wat die land se bevolking as ‘n blote versameling “individue” beskou wat na willekeur binne ‘n groter eenheid saamgevoeg kon word. Andersyds het die Suid-Afrikaanse Marxisme etnisiteit as ‘n blote “konstruk” van apartheid gesien wat insgelyks na willekeur gedekonstrueer of afgebou kon word. Marxiste en kommuniste sien in elk geval die samelewing as iets wat deur kapitalistiese sosiogeniëring ontstaan het en wat deur beter of meer intense sosiogeniëring verander kan word.

PRAAG - die Afrikaner se laaste intellektuele vesting. Ondersteun ons nóú deur hier te klik.

Die sogenaamde “reënboognasie” verteenwoordig ‘n totalitêre projek van kolossale omvang. Dit is soortgelyk aan al die totalitêre pogings van die twintigste eeu om deur sosiogeniëring ‘n “blink nuwe wêreld” te skep, soos Aldous Huxley daarna verwys het. Ten einde “een nasie” van die elf of meer etniese groepe in die land te maak, is verdrukking en sentralisme nodig. Soos Pallo Jordan van die ANC in ‘n dokument oor sy party se “strategie en taktiek” in die laat negentigerjare verduidelik het, verteenwoordig federalisme die grootste bedreiging vir ANC-mag van almal. In sy toespraak The National Question in Post 1994 South Africa wat op marxists.org te vinde is, laat Jordan hom soos volg uit:

“Ethnic mobilization and entrepreneurship, in its various guises — including that of federalism — however still poses a serious problem and represents the gravest single threat of destabilization and subversion in our new democracy. The tap root of ethnicity and political adventures based on it, are apartheid and the artificial revival of so-called 'traditional' institutions undertaken first in the 1920s then pursued with fanatical zest by Verwoerd and his acolytes after 1948. The so- called ‘traditional leaders’ all have, to one degree or another, acquired an interest in these institutions. In addition to power and prestige, these institutions have become a lucrative source of income and patronage. Their propensity to reproduce new generations of ethnic entrepreneurs cannot be underestimated.”

Daar is nog nie ‘n behoorlike ontleding gedoen oor waarom die Nasionale Party, asook die Afrikaner, teen die links-liberale aanslag van buite die land misluk het nie. In weerwil van ‘n sterk weermag, staatsbegrotings, buitelandse ambassades en ‘n gekoördineerde veiligheidstrategie onder P.W. Botha, het daar ‘n magsvakuum in die land ontstaan wat deur die bende terroriste en misdadigers van die ANC en SAKP gevul sou word. Die internasionale gemeenskap en veral die VSA en Groot Brittanje, om nie van die Verenigde Nasies, Swede en enkele ander te vergeet nie, het op grond van die suksesvolle propagandaveldtog buite die land besluit dat die Republiek van Suid-Afrika op ‘n skinkbord aan ‘n klein groepie links-radikales oorhandig moes word. Mnr. FW de Klerk het klakkeloos hierby ingeval en geen poging aangewend om enige van die ander swart leiers in die land te betrek nie.

Dus het Suid-Afrika se kanse op ware demokrasie ook skipbreuk gely omdat die land aan die verkeerde organisasie, die ANC/SAKP, oorhandig is. Die ANC verfoei liberale demokrasie en veral enige meer konserwatiewe opvattings daarvan. Vir hom verteenwoordig die “nasionale demokratiese revolusie” bloot ‘n fase in die verwesenliking van diepgaande, revolusionêre verandering wat die land en sy mense moet “transformeer” en die permanente magsgreep van die eie party moet verseker, “totdat Jesus kom”, soos Jacob Zuma gesê het.

In die vroeë negentigerjare is die meer gematigde swart politieke groeperings, asook die tuislandadministrasies vernietig, dikwels met geweld en met die samewerking van die Nasionale Party wat tot die buitelandse siening van Suid-Afrika as “een nasie” oorgehaal is. Die VSA en ander lande het honderde miljoende dollar aan die ANC vir sy daaropvolgende verkiesingsveldtog geskenk sodat die voormalige terreurbeweging hom in ‘n suksesvolle politieke party kon omvorm.

Terwyl die ANC, getrou aan sy Marxistiese tradisie, etnisiteit in Suid-Afrika ontken, wend hy wel ras as mobiliseringsfaktor aan. Trouens, die party doen dit tot vandag toe en sy hele beleid is daarop gegrond om so ‘n breë front as moontlik teen die bose blanke minderheid te monster. Die ANC is egter die Frankenstein wat die Nasionale Party en mnr. FW de Klerk, tesame met die Britte en Amerikaners, geskep het en wat die land met staatsmag terroriseer.

Nie net sit ons tans met die verkeerde tipering van ‘n monoetniese “reënboognasie” en die verkeerde party aan bewind nie, maar ook met die verkeerde siening van ons geskiedenis. Die stryd rondom die geskiedskrywing is reeds tydens die sestiger- en sewentigerjare aan die Engelse universiteite in Suid-Afrika verloor toe die Marxistiese historici soos Charles van Onselen, Belinda Bozzoli, T. Dunbar Moodie, Brian Bunting en ander die septer begin swaai het. Ná 1994 het die akademici en historici aan die Afrikaanse universiteite insgelyks voor die rooi golf gekapituleer en het die Marxistiese of neo-Marxistiese interpretasie van ons geskiedenis so te sê evangelie geword.

Die hoofstroommedia in ons land herhaal hierdie Marxistiese sienings van ons verlede klakkeloos. Die gedagte dat die Afrikaner vóór 1994 met een of ander volksmoord teen swartes besig was - die sogenaamde “apartheidmisdaad-teen-die-mensdom” - is nou al so goed ingeburger dat dit as ‘n teken van geestelike versteurdheid gereken word om dit hoegenaamd te bevraagteken. Ook in Afrikaans sorg die na-apers van Naspes dat die Marxistiese dogmas oor ons “besmette verlede” met fanfare aan die propagandavoos Afrikanerbevolking oorgedra word. Feit is egter dat met so ‘n eenogige siening van die verlede, waar die swart bevolking as slagoffers en die blankes as daders voorgehou word, demokrasie nie kan slaag nie. Demokrasie impliseer tog op sy minste gelyke deelname aan die openbare lewe, terwyl die blanke en Afrikaner as ‘n morele melaatse van meet af aan van die politieke proses uitgesluit word. Dit verklaar ook waarom die meerderheid Afrikaners vandag vir ‘n linkse en voormalige lid van die Black Sash, mev. Helen Zille, stem en hulself daardeur vir alle praktiese doeleindes ontkieser.

Nog ‘n rede waarom die demokrasie misluk het, is weens ‘n ander vorm van ontkiesering: dié van die belastingbetaler, veral die plaaslike belastingbetaler. Omdat die ANC geen aandeel aan die oprigting van die Suid-Afrikaanse staat gehad het nie, beskou hy dit as ‘n grot van Ali Baba, ‘n wegsteekplek wat na willekeur geplunder mag word. Ons het gesien hoe veral die kleiner munisipaliteite een na die ander deur gierige ANC-kaders finansieel leeggesuig is. Omdat die meerderheid plaaslike belastingbetalers ‘n rasseminderheid in die meeste dorpe verteenwoordig, is daar geen moontlikheid dat hulle ooit die magshonger plunderaars wat stadsrade beset, sal kan uitstem nie. Sodoende word die WaBenzi-diktatuur gehandhaaf en bestaan demokrasie bloot as taalflater of malapropisme.

Soos in vele multietniese of veelvolkige samelewings sonder ‘n behoorlike struktuur of stelsel om daarvoor voorsiening te maak, gaan dit in Suid-Afrika daaroor “om die staat te verower”. Noudat die Afro-Saksers die staat verower het, gebruik hulle die mag om hul vyande in die vorm van etniese minderhede te vernietig. Die Afro-Saksers wat Suid-Afrika regeer, sien hulself as deel van ‘n groter en wêreldwye Engelssprekende swart groep wat opgang maak en wat die rasseskuldgevoelens van Westerlinge misbruik om mag, geld en invloed te verkry. Deur sentralisme en die skepping van groot, onhandige, Stalinistiese “metrorade”, word etniese minderhede in Suid-Afrika ontkieser en moet magteloos gadeslaan hoe hul bates en belastings geplunder word. Demokrasie is net ‘n handige slagwoord om eie oogmerke te bevorder en het niks te make met die klassieke Westerse begrip van volksregering nie.

Benewens ‘n terroristebende wat letterlik die boerpot in Suid-Afrika getref het, verteenwoordig die ANC ook ‘n georganiseerdemisdaadsindikaat. Die voormalige polisiehoof, mnr. Jackie Selebi se skuldigbevinding aan korrupsie verteenwoordig in dié opsig bloot die oortjies van die seekoei. Korrupsie het in Suid-Afrika so ‘n omvang bereik, met Malema as die land se mees sigbare “tenderpreneur”, dat ‘n mens geredelik van ‘n “misdadige staat” sou kon praat. Die inhegtenisname van mev. Sheryl Cwele, vrou van die minister van staatsveiligheid, op klagte van dwelmsmokkelary, spreek ook boekdele oor die grys gebied wat daar reeds bestaan sover dit ANC-hooggeplaastes en misdaadbedrywighede betref. In enige gewone demokrasie, sou Cwele se man lankal reeds moes bedank het, maar in Suid-Afrika het so ‘n skandaal geen invloed op minister Siyabonga Cwele se politieke loopbaan nie. Die voortslepende duisterheid rondom die wapenskandaal, die vele munisipaliteite, provinsies en staatsdepartemente wat dikwels deur die ouditeur-generaal oor die vingers getik word, suggereer dat die staat reeds onherroepelik tot ‘n kriminele entiteit in die hande van ‘n georganiseerdemisdaadsindikaat, die ANC, verval het.

Mnr. Tony Leon het, toe hy nog leier van die DA was, verwys na die skeiding tussen party en staat wat nie meer in Suid-Afrika eerbiedig word nie. Nie net het die grense tussen georganiseerde misdaad en die staatkunde vervaag nie, maar die ANC bedryf die staat as ‘n blote uitbreiding van homself. Staatsfondse word na willekeur gebruik vir die bevordering van partybelange en party-amptenare of “kaders” word na staatsdepartemente, provinsies en munisipaliteite “ontplooi”, ongeag hul bevoegdhede of eerlikheid. Sodanige praktyk spreek insgelyks van diktatuur, die WaBenzi-diktatuur, eerder as demokrasie in die aanvaarbare sin van die woord.

‘n Demokrasie kan slegs gedy indien daar kritiese en onafhanklike media bestaan wat korrupsie of staatsvergrype aan die kaak kan stel. Terwyl die Suid-Afrikaanse media hul dikwels roem op hul onafhanklikheid, is dit egter kwalik die geval. In Afrikaans bestaan daar die onhebbelike Naspersmonopolie. Laasgenoemde deel in ‘n hoë mate die ontkenning van etnisiteit, die Marxistiese siening van ons geskiedenis en ander netelige punte waarna ek hierbo verwys het.

Onlangs het dr. Pieter Mulder van die Vryheidsfront Plus blykbaar ‘n skrywe aan mnre. Ton Vosloo en Koos Bekker van Naspers gerig waarin hy hulle daarvan beskuldig dat hulle slegs een oplossing vir die land se probleme, naamlik ‘n voortsetting van die status quo, in hul koerante toelaat. Indien hy ‘n antwoord ontvang en indien dit ooit bekendgemaak word, sal dit interessant wees om die reaksie van die Naspersbestuur te verneem. Ek koester egter weinig hoop dat Naspers of enige van die groot mediagroepe ooit hul inskiklike posisionering teenoor hierdie sentralistiese, pseudo-demokratiese stelsel gaan verander.

Naspers verstaan ook nie wat spraakvryheid is nie. Hy sien hom primêr as ‘n verskaffer van vermaak, veral die ingevoerde Amerikaanse snertkultuur, en as ondersteuner van die ANC-ideologie van “nasiebou” oftewel die vernietiging van etniese minderhede. Die mediagroep se intense vyandigheid teenoor die Afrikaner, asook die Afrikanerdebat, is reeds male sonder tal bewys. By gebrek aan enige verdraagsaamheid of sin vir die oop gesprek, maak Naspers hom dikwels skuldig aan growwe laster, stereotipering en die verguising van individuele Afrikaners wat hy as ‘n bedreiging vir die kriminele huidige orde beskou.

Die SAUK, wat vir die meeste gewone mense die aangewese bron van inligting is, verteenwoordig ‘n blote propagandakanaal van die ANC. Die oorblywende Engelse mediagroepe soos Avusa, die Independent-groep en Caxton sorg insgelyks dat die breë ideologiese raamwerk van die ANC/SAKP eerbiedig word. Hulle aanvaar ook klakkeloos dat die duur, uitspattige ritueel van ‘n stemmery al om die vyf jaar demokrasie in die land verseker. Terwyl daar insgelyks in die ou Sowjetunie, in Saddam se Irak en feitlik elke totalitêre staat op aarde gestem is. 

Gereelde verkiesings verseker allermins demokrasie. Veral as daar geen demokratiese etos of politieke verdraagsaamheid bestaan nie.

Die aftakeling van die onderwysstelsel was een van die eerste prioriteite van die ANC ná sy oorname in 1994. Sedertdien het ons gesien hoe ‘n ganse land verdom is tot op die vlak waar totalitêre regering sonder veel teenstand of kritiek bedryf kan word. Die feit dat die meeste joernaliste en akademici nie kan of wil insien dat Suid-Afrika geen demokrasie is nie, spreek insgelyks van ‘n verstommende onnoselheid. Of dalk kwade wil. Of gedienstigheid aan die huidige orde. Dis verstommend hoeveel akademici aan Unisa, Tukkies en elders hulle deesdae met ANC-ideologiese beuselagtighede soos die bestaan van "rassisme" of blanke vooroordeel jeens swartes besig hou, terwyl die afgang van demokrasie en allerlei krisisse op hande is.

In dié opsig kan ek onthou dat ek in my eerste jaar op universiteit geleer is dat liberale demokrasie net kan bestaan wanneer “verskillende kragte teen mekaar opweeg”. In my Engelse handboek van destyds, want dit was ‘n Engelse universiteit, is die nogal toepaslike term countervailing forces daarvoor gebruik. Uiteindelik gaan demokrasie daaroor om ‘n balans tussen sulke kragte wat teen mekaar opweeg te vind: die regering, politieke partye, staatsdepartemente, gemeenskaps- en kultuurorganisasies, vakbonde, die media, die sakesektor, die universiteite, die kerke, ens.

Selfs ‘n kind sou kon insien dat daar geen so ‘n balans of kragte wat teen mekaar opweeg in Suid-Afrika bestaan nie. Mag word toenemend in die hande van ‘n klein groepie mense aan die spits van die ANC gekonsentreer: die WaBenzi-diktatuur.

PRAAG - die Afrikaner se laaste intellektuele vesting. Ondersteun ons nóú deur hier te klik.


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: