Geagte prof. De Vos,
Ek kyk nie gewoonlik na die SAUK se programme nie, aangesien ek my nie vrywillig aan die huidige bewind se propaganda wil blootstel nie, maar gisteraand het ek die laaste tien minute van "Fokus" onder oë gehad.
Kortom, my verwagtinge van so 'n "debat" of dan drieledige buiksprekery met die regime se spookagtige stem wat deur die newels met ons, die magteloses, kommunikeer, was besonder laag. So laag dat 'n mens veel meer nuanse en prikkeling van 'n boomstomp sou kon verwag as die stukkie propaganda oor die soveelste rassebelasting op die blanke minderheid waaroor dit gegaan het. Per definisie kan 'n mens nie met 'n boomstomp redeneer nie en gegewe die vooroordele waarvan u taamlik onbeholpe skrywes spreek wat u en u geliefde, korrupte regime aan ons opdring, sou 'n mens ook nie met u kon redeneer nie.
Die opspraakwekkende element wat my egter in u diskoers getref het, is dat u wil ontken "dat minderhede in Suid-Afrika bestaan"! Kan u nou meer?
Sekerlik ontwikkel elke inwoner van Suid-Afrika mettertyd 'n soort verdraagsaamheid teenoor absurditeit, of ironie. Ons het al daaraan gewoond geraak dat die sin van woorde gewoonlik die teenoorgestelde van hul alledaagse betekenis verkry. Maar selfs vir 'n vuisvoos inwoner van hierdie sadistiese staat, is so 'n blatante stelling ("Suid-Afrika beskik oor geen minderhede nie") nogal frappant, om die minste te sê. Veral ook in die lig daarvan dat u uself as 'n "grondwetlike deskundige" beskou. Ek weet nie of u enigsins iets lees behalwe u eie artikels nie - gegewe die verdomming van tersiêre instellings in hierdie hopelose land, is nie-lesende of ongeletterde professore seker al 'n gegewe - maar oor die afgelope aantal dekades is 'n aansienlike internasionale literatuur oor etniese of kulturele minderhede en hul regte opgebou. Daar word ook algemeen erken dat Suid-Afrika 'n multietniese of veelvolkige staat verteenwoordig, waarvan 'n geringe aanduiding al die bestaan van elf amptelike tale is.
Wil u dus werklik voorgee dat die ietwat meer as twee miljoen oorblywende Afrikaners in dié land "geen minderheid" is nie? In weerwil van die feit dat ons oor 'n eie taal, geskiedenis, kultuur en identiteit beskik wat wêreldwyd deur alle woordeboeke en etnografiese of selfs sosiologiese beskrywings van Suid-Afrika erken word? Selfs die ANC erken dat Afrikaners in Suid-Afrika bestaan en die huidige president het reeds by verskeie geleenthede na Afrikaners verwys of sogenaamde Afrikanerleiers ontmoet.
Omdat ons getalsgewys minder is as sommige ander etniese groepe in die land, is ons per definisie 'n minderheid.
Indien u nie hopeloos dom is nie - en dis seker 'n moontlikheid - kan u ontkenning van die bestaan van 'n Afrikanerminderheid in dié land net daarop gemik wees om ons van enige minderheidsregte waaroor ons mag beskik te ontneem. Die grondslag van u oënskynlik absurde stelling - "daar is geen Afrikanerminderheid nie" - verteenwoordig dus óf 'n bykans onvoorstelbare stuk dwaasheid óf die totalitêre miskenning van Afrikanerregte.
As omstanders by die groteske ongeluk wat die huidige Suid-Afrika geword het, kan 'n mens soms nie 'n soort makabere nuuskierigheid onderdruk om te wonder hoe op dees aarde die bestuurder - of in u geval, nogal die professor van grondwetlike reg - "die pad byster geraak het" nie.
Verskoon dus my makabere nuuskierigheid, maar in welke mate het ons Afrikaners as etniese en nasionale minderheid reeds uit die land "verdwyn"? Is die Afrikanervolk per dekreet ontbind en tot niet gemaak? Of verteenwoordig u stelling 'n selfs meer sinistere toespeling op ons toekomstige uitwissing? Want volgens u logika was daar seker ook nie 'n Toetsi-minderheid en Hoetoe-meerderheid in Rwanda nie? Beskik die meerderheid dus oor die reg om bepaalde "onderdele van homself" hetsy te assimileer, hetsy van tyd tot tyd na goeddunke te elimineer?
Dit mag wees dat ek as Afrikaner binne die Kafkaeske logika waarvan u uself bedien, ook nie bestaan nie. Wat u dus onthef van enige verpligting of etiket om op my brief te antwoord. Maar ek neem aan u erken wel die bestaan van 'n swart minderheid in die VSA, die sogenaamde "Afro-Amerikaners"? Nie net ontvang hierdie fameuse minderheid reeds dekades lank regstellende aksie nie, maar 'n Amerikaanse appèlhof het onlangs beslis dat die inwoners van die deelstaat Michigan nie daarop geregtig is om in hul grondwet op gelyke behandeling teenoor alle rasse aan te dring nie. Ten minste sover dit Afro-Amerikaners betref, word die begrip "minderheid" - waarvan u kennelik die bestaan ontken - in die VSA reeds algemeen in die reg erken - en dikwels téén die meerderheid se sin (soos in Michigan) in gehandhaaf.
Dit laat die verdere vraag onstaan: Hoe op aarde kan u die begrip "minderheid" ontken as dit deel van die Amerikaanse regspraak geword het, dieselfde land waarvandaan die onhebbelike politieke korrektheid waarmee u ons in u openbare uitsprake verveel, afkomstig is?
Aan die ander kant bestaan daar natuurlik bepaalde vorme van postmodernisme wat nie die beginsel van logiese teenstrydigheid erken nie en in die Afrikakultuur is dit, sover ek verstaan, ook moontlik om tegelykertyd een ding en sy teenoorgestelde te beweer.
Indien u dus nie in staat is om enige van my vrae met behulp van eurosentriese en daarom moontlik "rassistiese" logika te beantwoord nie, kan u gerus net u eie etnosentrisme wat u van samehangende argumente kwytskeld, openbaar. Blykbaar is u Engels. Daar was 'n tyd toe Engelse nogal ernstig was oor logika, maar vandat hulle winkels plunder en afbrand, kan ons sien dat daar deesdae meer as een soort Engelsman bestaan. Dalk kan u die vrymoedigheid aan die dag lê om aan ons te openbaar watter tipe Engelsman u is en hoe die etniese woelinge in u Moederland insgelyks u nogal vreemdsoortige denke beïnvloed?
Dan Roodt
| < Vorige | Volgende > |
|---|
Afrikaners bestaan nie? - ope brief aan Pierre de Vos




