Leopold Scholtz gaan met sy persoonlike veldtog teen my in Die Burger en Beeld voort en meen dat my denkwyse met dié van ander “ekstremiste” soos Stalin, Hitler en Malema ooreenstem. Stalin en Hitler het mijoene mense laat doodmaak terwyl Malema insgelyks die liedjie “Skiet die Boer” sy persoonlike slagspreuk gemaak het. Mnr. Malema staan benewens volksmoord op Afrikaners ook die nasionalisering van myne (met vergoeding) en plase (sonder vergoeding) voor.
In Scholtz se verwronge logika, is alle ekstremismes, hetsy Marxisties, hetsy godsdienstig of van watter aard ook al, verwant. Hierteenoor staan die “gematigdes” in hul reine onskuld en bloesende deug, waaronder dr. Scholtz seker homself wil indeel. Weens my skerp kritiek teen regstellende aksie, plaasmoorde, taaldiskriminasie en nasionalisering is ek ‘n ewe groot ekstremis as Stalin, Hitler of Malema.
Dr. Scholtz verlaat hom byna konstant op ad hominem-argumente, as hy nie argumentum ad populum (“wat almal glo”) inspan nie. In wese is hy, soos ‘n groot aantal Afrikanerjoernaliste en -politici uit die ou bedeling, ‘n konformis. Om die stroom te volg in ‘n gebalanseerde, ordelike samelewing is goed en wel, maar waar bring napratery jou in ‘n land wat deur radikale leiers met ekstremistiese of revolusionêre beleid oorheers word? Soos Nazi-Duitsland, die Sowjetunie of, les bes, ANC-Suid-Afrika?
Die Russiese skrywer Solsjenitsin is na ‘n strafkamp in Siberië gestuur omdat hy redelik en ‘n Christen was en nie die kommunistiese stroom wou volg nie. Suid-Afrika is ook reeds ver heen op die pad van revolusie en nasionalisering, om nie van plaasmoorde en xenofobiese aanvalle op buitelanders te vergeet nie.
Scholtz en baie ander wat die huidige bestel klakkeloos verdedig, is reeds moreel aandadig aan die grootskaalse menseregtevergrype en strukturele geweld wat ons ervaar. Immers het hulle jare lank gepleit dat die Malemas ons behoort te regeer, as hulle nie terreur soos die Kerkstraatbom vergoeilik het nie.
Die Anders Breivik-geval in Noorweë word tans deur die liberale en linkse media ingespan om die nasionalistiese of anti-immigrasiepartye in Europa swart te smeer. Getrou aan sy instinkte, stem dr. Scholtz se rubriek byna woordeliks ooreen met onlangse artikels oor Breivik in Time, The Economist en ander globale publikasies. Die feit dat Breivik ‘n psigopaat is, maak nie van elke behoudende denker ter wêreld ‘n potensiële massamoordenaar nie; dis tog absurd!
Teenoor Breivik, die individuele psigopaat, staan die psigopatologie van die ganse Suid-Afrika waar sadisme en elke ander afwyking botvier. As ons kinders soos Willemientjie Potgieter of Danielle Esterhuizen vermoor word, moet ons steeds matige kritiek lewer en soos skape die ANC se helde vereer?
| < Vorige | Volgende > |
|---|
Leopold Scholtz sit sy veldtog voort




