praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Sunday, 05. February 2012

Bygewerk op:05:27:19 AM GMT

Jy is hier: Dan Roodt

Rubrieke van Dan Roodt

Moet FW de Klerk-stigting ons toekoms bepaal?

E-pos Afdruk PDF

Mnr. Tertius Delport het my 'n paar jaar gelede vertel wat een oggend in 1992 by die Uniegebou gebeur het. Ondanks Delport se smekinge, het mnr. FW de Klerk argeloos die Afrikaner se soewereiniteit weggeteken en die sogenaamde "rekord van verstandhouding" op 26 September aanvaar.

Delport moes as hoofhandelaar van die Nasionale Party bedank en daarna het die Groot Jabroer, Roelf Meyer, oorgeneem. Maar eintlik was die koeël reeds deur die kerk en was die ware oomblik van "oorgawe sonder neerlaag", soos Hermann Giliomee daarna verwys het, reeds op 26 September 1992, daardie fatale dag in ons geskiedenis, verby.

Soos ek dit reeds elders gestel het, het mnr. De Klerk 'n blanko tjek uitgeskryf en die ANC is nog steeds besig om die nulle in te vul. Ons het reeds van al ons grondgebied, openbare maatskappye en ander volksbates afstand gedoen en steeds is dit nie genoeg nie. Selfs ons Afrikaanse staatskole word nou wesentlik bedreig. (Terloops, as u dit nie reeds gedoen het nie, teken asseblief die Petisie vir Afrikaanse skole in Gauteng.)

Gedane sake het geen keer, soos hulle sê. Maar wat my bekommer, is dat die FW de Klerk-stigting steeds 'n vername rol in die huidige Afrikanerpolitiek speel. Oral waar die vernaamste Afrikaanse organisasies vergader, is die FW de Klerk-stigting insgelyks verteenwoordig. Die stigting beskik oor geen bewese steunbasis nie en verkry sy "legitimiteit" van die voormalige pos wat mnr. De Klerk as president van Suid-Afrika beklee het. Omdat hy vir die ANC 'n min of meer bloedlose revolusie in ons land verseker het, word hy ook deur die meeste geswore vyande van die Afrikaner as 'n held beskou.

Mnr. De Klerk en sy stigting word insgelyks deur die Nasperskoerante gesteun, wat gereeld oor hul doen en late berig. Hoewel Beeld, Die Burger en Rapport in die meer onlangse tyd kritiek teen die ANC-bewind uitspreek, word mnr. De Klerk se historiese rol steeds deur hulle as voortreflik voorgehou. Die oorgawe sonder neerlaag, asook die gepaardgaande oorhandiging van alle pantser en outomatiese wapens aan Umkhonto we Sizwe was "onvermydelik". Die meeste Naspers-meningsprekers het al male sonder tal die rympie opgesê dat "ons geen ander keuse (as oorgawe)" had nie.

In die meer onlangse tyd het die FW de Klerk-stigting hom begin druk maak oor die voortbestaan van Afrikaans. Verlede jaar het mnr. De Klerk die sogenaamde Mathews Posa-gedenklesing by die Afrikaanse Taalmuseum gelewer waarin hy sy standpunt stel dat ons in die eerste plek moet "aanvaar dat die toekoms van ons taal in ons eie hande lê. Dit is ons wat sal besluit of Afrikaans voortleef en floreer, en of dit sal agteruitgaan en uitsterf. Ons is nie van die regering afhanklik vir ons oorlewing nie."

Met so 'n stelling misken mnr. De Klerk dat hy die staatsmag in die hande van Engelstaliges, of dan Afro-Saksers wat Engels as voertaal verkies, geplaas het. Hoe kan 'n taal soos Afrikaans oorleef as dit gedurig deur 'n vyandige staatstruktuur soos dié van Suid-Afrika aangeval word? Dwarsdeur die wêreld erken taalkundiges en sosiolinguïste dat instellings, maar veral state, 'n geweldige rol by die totstandkoming en oorlewing van tale speel. Die paradoks is dat mnr. De Klerk deur sy oorgawe sonder neerlaag eers van Afrikaans 'n staatlose taal gemaak het en nou van ons verwag dat ons "self", uit eie bronne, die voorbestaan van ons taal moet verseker. Intussen gebruik die ANC ons belastings om Engels, die internasionale taal, te bevorder en Afrikaans dood te druk.

Eintlik sien die ANC die staat, wat ons voorouers geskep en opgebou het, as die grot van Ali Baba wat deur veertig duisend diewe na hartelus geplunder mag word.

Sedert die stigting van PRAAG in Februarie 2000, moes ons die felle kritiek van vele ANC-gesindes, asook die Naspers-koerante verduur. Dikwels is ons verguis en belaster as "taalbulle", "puriste", "volgelinge van Adolf Hitler" en dergelike meer. Ons het egter volhard met ons argumente rondom taalregte en die prerogatief van elke volk om oor sy eie taal en kultuur te mag beskik, soos dit in die Universele Verklaring van Menseregte en vele konvensies van die Verenigde Nasies verwoord word.

Noudat ons so min of meer die argument oor Afrikaanse taalregte gewen het, is mnr. De Klerk en sy stigting gou om sonder 'n kaartjie op die trein te klim. Die benadering van die FW de Klerk-stigting dreig egter om die hele logiese onderbou van die Derde Afrikaanse Taalbeweging onder ons uit te ruk en al ons harde werk ongedaan te maak.

Mnr. De Klerk stel sy hoop op 'n Suid-Afrikaanse Taalwet wat deur die ANC-meerderheid in die parlement aanvaar sal word. Nadat 'n prokureur van Brits, mnr. Kerneels Lourens, 'n hofaansoek gebring het om die regering te verplig om so 'n wet aan te neem, lyk die ANC op die punt om dit te doen. Die ironie is egter dat die ANC-bewind so 'n wet gaan gebruik om Afrikaans nog verder van die wal af in die sloot te help. Die onbekookte en vae bepalings in die grondwet oor taal gaan deur die ANC geïntepreteer word om twee amptelike tale in elke provinsie in te stel: Engels en nog 'n taal, wat nie Afrikaans gaan wees nie.

Selfs mnr. Kerneels Lourens, wat oorspronklik sy hofaansoek gebring het, steun nie die konsepwet wat nou deur die ANC voorgestel word nie. Weinig Afrikaanse organisasies, behalwe die ATKV onder mnr. Danny Titus, kan enige sin daarin sien. Eintlik is ons beter daaraan toe sónder 'n Suid-Afrikaanse taalwet, want dan kan ons ten minste nog ons eie interpretasie aan die grondwet heg, 'n grondwet wat ook volgens internasionale en volkeregtelike beginsels van taalregte geïnterpreteer moet word.

Die invloed wat mnr. FW de Klerk steeds uitoefen, is nie beperk tot die taalkwessie nie. Sy stigting handhaaf blykbaar ook noue bande met Solidariteit en Afriforum wat hulself as die selfaangestelde verteenwoordigers van Afrikaners sien.

Uiteindelik staan mnr. De Klerk vir nasiebou en die assimilasie van die Afrikaner en sy akkulturasie by die meerderheidskultuur in Suid-Afrika. Tydens sy toespraak oor Afrikaans se toekoms verlede jaar, het hy ook kort-kort na Engels oorgeslaan omdat sekere van sy polities korrekte standpunte seker moeilik in Afrikaans oorgedra kan word. Onder andere het hy verklaar:

"For me, this also means that we are called on to reach out across cultural borders to all our fellow South Africans; to build together our common South Africanness; to cooperate in the search for solutions to the problems with which our country still wrestles.

Nation-building must succeed, but can only succeed if we can assure a sustainable and honourable role for our diversity. It is not one or the other. Both - nation-building and diversity - necessitate carefully considered attention in balance with one another."

Mnr. De Klerk se nasie sal Engels praat, dit weet ons, en die enigste rol vir Afrikaans daarin sal as oorgeërfde folklore uit die "apartheidsverlede" wees.

Onlangs het ek tydens 'n vergadering van Afrikanerorganisasies wat met onderlinge dialoog besig is beswaar daarteen gemaak om die FW de Klerk-stigting by sodanige dialoog in te sluit. Myns insiens het mnr. De Klerk, weens sy aanvaarding van die "rekord van verstandhouding" in 1992 wesentlik as onderhandelaar misluk en 'n ramp oor ons gebring. Die teenargument is blykbaar dat "ons almal misluk het", ook die regse partye wat in die vroeë negentigerjare so onder mekaar baklei het dat hulle nie werklik 'n verenigde front by Kodesa en teenoor die buiteland kon monster nie. Dus bevind ons ons almal in dieselfde mislukkingsbootjie op pad na Kammaland, wat ons seker "demokrasie, diversiteit en gelykheid" kan noem.

Net soos 'n maatskappy wat ná 'n groot mislukking nie weer dieselfde uitvoerende beampte sal aanstel nie, glo ek nie dat die FW de Klerk-stigting toegelaat moet word om weer ons lot, hetsy wat Afrikaans betref, hetsy enige ander aspek van ons toekoms, te bepaal nie.

Die Naspers-koerante, asook mev. Helen Zille en die DA, sien steeds 1994 en die ANC-oorname as 'n klinkklare sukses vir die land. Dis net Jacob Zuma en Julius Malema wat die probleemagente verteenwoordig. Die res van die staatsdiens, munisipaliteite, weermag, polisie, ensovoorts, kan nie beter nie.

Ons het 'n groot behoefte aan logiese denke, aan helderheid. As ek mnr. De Klerk se toesprake lees, dan dink hy soos 'n inboorling. Inboorlinge gee nie om om twee logies teenstrydige waarhede tegelyk aan te hang nie. Mnr. De Klerk wil nasiebou hê én Afrikaans. Nie net is die twee ondering uitsluitend nie, maar in die praktyk het ons mos nou al male sonder tal gesien dat die huidige stelsel eenvoudig nie werk nie. Elke multikulturele of "diverse" instelling in die land is oor die afgelope 18 jaar voor die voet verengels. Die parlement, waar Afrikaans nie eens meer op die opposisiebanke gehoor word nie, is 'n sprekende voorbeeld hiervan. As die land nie eens daarin kan slaag om sogenaamde "veeltaligheid" in die parlement af te dwing nie, hoe op aarde gaan hy dit in enige ander staatsinstelling regkry?

Die enigste internasionaal aanvaarbare argument vir ons en ons taal se voortbestaan, is dié wat op etnisiteit gegrond is. Let wel: nie ras nie, maar ons etniese identiteit waarby afkoms, taal, kultuur, godsdiens en vestiging binne bepaalde gebiede soos die Kaap, Noord-Natal en die ou Boererepublieke gesamentlik 'n rol speel.

Die taalprobleem moet holisties benader word as slegs 'n onderdeel van 'n veel groter politieke, sosiale en demografiese probleem in Suid-Afrika. Ons toekoms kan nie en mag nie deur 'n koppetellery binne die unitêre staat bepaal word nie. Dit druis teen alle logika en die volkereg, veral ons diep gewortelde reg op selfbeskikking, in.

Ek is egter bevrees die FW de Klerk-stigting en sy geesgenote verstaan niks hiervan nie en is eintlik besig om die debat in Afrikaans met Britse, Kubaanse en ander buitelandse propaganda te besoedel.

Dis 'n cliché, ek weet, maar: Met 'n vriend soos mnr. FW de Klerk, het die Afrikanervolk nog vyande nodig?

Laas Opdateer op Sondag, 29 Januarie 2012 09:31

Die Burger se rassistiese Rottweilers

E-pos Afdruk PDF

So pas het die Persombudsman bevind dat sowel Die Burger as Beeld die perskode oortree het in beriggewing deur Elmari Rautenbach oor my sogenaamde "toe-eiening" van die Afrikaanse skrywersorganisasie Pretoria-PEN. In die onlangse tyd hou Die Burger vol dat hy en sy rubriekskrywers oor die volste reg - kwansuis "in die openbare belang" - beskik om my verdag te maak, te belaster en aanhoudend as "rassis", "verregse" en "fundamentalis" te etiketteer.

Elmari Rautenbach is die nasionale boekeredakteur van Media24. Omdat Media24, 'n afdeling van Naspers, alle koerante en bykans alle tydskrifte in Afrikaans besit, bepaal Elmari Rautenbach watter boeke geresenseer sal word, asook wie hulle sal resenseer en dus in 'n hoë mate die verkope en status van alle boeke en skrywers in Afrikaans. Aan die begin van verlede jaar was daar 'n vergadering van bekende Afrikaanse skrywers op Stellenbosch wat juis belê is om hierdie kwessie te bespreek.

In sy uitspraak beveel die Persombudsman Die Burger en Beeld om verskoning aan my te bied en ek haal aan uit dr. Johan Retief, die adjunkpersombudsman, se bevinding:

Die koerant(e) word versoek om Roodt om verskoning te vra omdat:

  • hy nie ‘n billike kans gegee is om betyds te reageer nie (Beeld);
  • hulle berig het dat hy hom Pretoria-PEN sou “toe-eien” (Beeld en Die Burger);
  • hulle berig het dat Pretoria-PEN teen die vorige maand nog geen bestuursvergadering gehou en geen grondwet aanvaar het nie (Beeld en Die Burger); en
  • dit berig het dat Roodt “sy eie” (jaar-) vergadering gehou het (Beeld).

Dié verskoning moet insluit dat hierdie verslaggewing moontlik onnodige skade aan Roodt se openbare beeld berokken het – met ‘n verwysing na die betrokke sin in die Aanhef tot die Perskode.

Beeld word vermaan omdat dié publikasie versuim het om te noem dat kommentaar van Roodt nie betyds verkry kon word nie.

Moontlik mag Beeld en Die Burger besluit om teen dié bevinding te appelleer, maar in die Dawid-teen-Goliatstryd waarin ek my teen Die Burger en die magtige Naspersgroep bevind, kan 'n mens sê dat ek ten minste hier 'n paar punte aangeteken het.

Die saak strek egter veel verder. Ek vermoed dat daar 'n bepaalde frustrasie by Die Burger en sommige Naspersredaksies bestaan omdat hulle sienings nie meer deur die breë publiek en hul lesers as geloofwaardig geag word nie. Daarom speel hulle die sogenaamde "rassekaart" deur kritici van die huidige bestel en veral dissidente Afrikaanse skrywers as "rassiste" en "verregses" te beswadder. Toe Annelie Botes, skryfster van Raaiselkind en ander boeke, ook haar bedenkinge uitgespreek het oor die erge graad van geweld wat deur Suid-Afrikaanse swartes gepleeg word, is sy insgelyks met die teerkwas bygekom. 'n Georkestreerde veldtog teen haar is ontketen, met die hulp van akademici aan die universiteit van Stellenbosch.  Veral Die Burger handhaaf noue bande met Stellenbosch se meer linkse en polities korrekte akademici en te eniger tyd word hulle soos 'n trop Rottweilers opgeroep om meningsartikels te skryf waarin die slagoffer dan finaal in stukkies opgekerf en sy oorblyfsels as't ware vir die honde gegooi word.

Die laaste woord oor "rassisme" in hierdie land is natuurlik nog nie gespreek nie. Vanoggend op Facebook het ek effens hardop daaroor gedink en die volgende kwytgeraak:

Ons is almal bekend met die reël uit Hamlet: The lady doth protest too much, methinks. Waarom gil Ilse Bigalke, Leopold Scholtz en die res so hard oor rassisme? Omdat hulle self die grootste rassiste is, wat heimlik swartes vrees en selfs haat.

Onlangs het my vrou vir my 'n stuk oor 'n Sloweense filosoof gestuur waarin hy met behulp van Lacan en Freud na rassisme kyk. Ek dink sy gevolgtrekking is dat almal rassiste is. Sommige mense is net groter rassiste as ander. Die Kaapse gillers oor rassisme is veel groter rassiste as enigeen van die KP of HNP.

Eintlik is die KP- of HNP-mense baie verdraagsaam teenoor swartes. Die vorige leier van die HNP, Wilie Marais, het op 'n keer aan my verduidelik hoe goed hy na sy swart werknemers omsien. Die Kaapse rassiste vrees swart geweld, maar blameer ander blankes en Afrikaners daarvoor. Jacques Lacan, wat 'n volgeling van Freud was, het mos van "oordrag" gepraat. Die pasiënt verplaas sy gevoelens van een voorwerp/objek na 'n ander.

Leopold Scholtz en Ilse Bigalke dra hul rassehaat jeens swartes op my en ander noordelike Afrikaners oor. Natuurlik voel hulle ook skuldig oor die rassisme wat hulle in hul binnekamers koester. Hoe skuldiger hulle voel, hoe harder beskuldig hulle ander van rassisme.

In Elmari Rautenbach se berig het sy onder meer vir Breyten Breytenbach betrek om 'n negatiewe mening oor Pretoria-PEN uit te spreek. Waarom word Breytenbach egter nie ook as 'n rassis deur Die Burger gehoon nie? In Desember 2008 in Harper's Magazine het Breytenbach sy ontnugtering met die Nuwe Suid-Afrika en postkoloniale Afrika in die algemeen uitgespreek in die vorm van 'n ope brief aan Mandela: Mandela's smile - notes on South Africa's failed revolution. Dis 'n lang, ietwat wollerige brief, maar plek-plek sny hy ook tot op die been as dit by moeti-moorde, korrupsie, diefstal, wanbestuur en geweld kom. Suiwer rassisme, volgens Die Burger en sy spannetjie gesublimeerde rassiste wat besig is om 'n nuwe vorm van sensuur, die sensuur van "die-rassis-vermom-as-teenrassis", toe te pas.

In sy bevinding verwys die adjunkpersombudsman egter ook na "die kumulatiewe effek" (hy kursiveer dié sinsnede in sy bevinding hier onder) van Die Burger en Beeld se stories oor Pretoria-PEN:

  • Ek verwys telkens na die waarskynlikheid dat sommige stellings in die stories Roodt onnodige skade kon berokken het – dié verwysings is gebaseer op ‘n stelling in die Aanhef tot die Perskode wat sê dat joernaliste onnodige skade moet vermy;
  • Ek is bekommerd oor die kumulatiewe effek van dié onnodige skade wat die berigte Roodt waarskynlik berokken het; en
  • Die pers in die breë praat soms onwaarhede klakkeloos na, al is die feite ook agterna reggestel – ek hoop van harte dat dit nie in hierdie geval gaan gebeur nie.

Nou die dag, in 'n berig oor die vertrapping buite die hekke van die voormalige RAU, die sogenaamde "Joedjy", lees ek in die New York Times dat die swart studente mekaar vertrap het omdat hulle nie voorheen onder apartheid die geleentheid vir tersiêre studie gehad het nie. Fanie Olivier, die voormalige professor aan die universiteit van Venda, sal seker kan bevestig dat daardie instelling in 1994 tot stand gekom het, want hy is geen rassis nie en sal dit nie durf waag om teenoor die magtige New York Times as apartheidsapologeet op te tree nie, nie waar nie?

Die kumulatiewe effek van jare lange mites, leuens, halwe waarhede en doodgewone domheid wat in die propaganda-oorlog om die siel van Suid-Afrika uitgegiet is, sal ons seker nooit na waarde kan skat nie.  Maar ten minste het die adjunkpersombudsman raakgesien wat die kumulatiewe effek van Elmari Rautenbach se beriggewing oor my en Pretoria-PEN kan wees.

Op Facebook het Elmari Rautenbach ook teenoor Herman Lategan, Liza Albrecht, Jaco Jacobs, François Griebenow, Kerneels Breytenbach en ander, wat almal in die Media24-dampkring verkeer, te kenne gegee dat sy die nuus so plaas dat dit bedoel is om my in 'n swak lig te stel. Die algemene gevoel onder Elmari Rautenbach se Facebook-gespreksgenote was blykbaar dat ek een of ander dorpsidioot is "wat verdien om doodgeswyg te word (siende dat sy ma versuim het om hom dood te lê toe hy klein was)".  Laasgenoemde synde 'n verbatim-aanhaling uit dié hoogs intellektuele debat in die binnekringe van die Media-vier-en-twintigers.

Voeg daarby die kumulatiewe effek van Die Burger se  aartsrassistiese rubriekskrywers oos Max du Preez, Leopold Scholtz en Ilse Bigalke wat met hul eie rassedemone en identiteitskrisisse worstel, dan kry 'n mens soms die indruk dat jy terug verplaas is na die Middeleeue. En binnekort gaan al die ketters op die brandstapel geplaas word. Of dalk gaan ons Siberië toe gestuur word om soos Solsjenitsin die binnewerkinge van die ANC en Die Burger se goelag te beskryf.

Oorspronklik toe ek op die gedagte gekom het om Pretoria-PEN te stig, het ek eintlik gedink dat skrywers in die nabye toekoms gevaar loop om deur die ANC in die tronk gesmyt te word. Dit was as 'n soort versekering vir die toekoms bedoel. Ten minste as iemand in Londen af en toe vir die minister van korrektiewe dienste 'n brief skryf, mag dit 'n positiewe uitwerking hê. Met ander skrywers in ander lande sou ons dalk kon veg om sulke dissidente weer te bevry. Die manier waarop Clive Derby-Lewis teen die reg en alle billikheid in tans steeds aangehou word, laat my dink dat my geloof in die mag van publisiteit oor 'n gevangene taamlik misplaas is. Seker daarom dat daar, ondanks vertoë van PEN Internasionaal en ander menseregte-organisasies, steeds bykans 1000 skrywers wêreldwyd in tronke aangehou word.

Nooit in my wildste drome kon ek egter voorsien dat die grootste bedreiging vir spraakvryheid in ons land van die Freudiaans onderdrukte rassiste by Die Burger sou kom en nie van Julius Malema of Floyd Shivambu nie.

Die patetiese wyse waarop John Miles en Fanie Olivier hulle na Elmarie Rautenbach gewend het om 'n "bietjie slegte publisiteit" vir my op te wek, hopende om so hul gepoogde staatsgreep op Pretoria-PEN te bestendig, is nou ook aan die kaak gestel vir wat dit is: net nog 'n agteraf gekonkel wat misluk het.

As skrywers en denkers - die woord "intellektueel" het vir my al so bedenklik en besmet geraak dat ek dit liefs vermy - behoort ons egter te weet dat 'n vinnige tref-en-trap-moddergooiery in 'n koerantberig korstondige bevrediging verskaf, maar geen werklike beginselkwessie besleg nie. Al sing Die Burger se hele personeel met die redakteur as dirigent elke week in drie stemme en netjies afgerig dat ek 'n verregse reaksionêr is, gaan dit nog geen duit verskil aan ons maatskaplike werklikheid en wanorde maak nie.

Op 'n manier veg ons vandag baie harder as ooit om die waardes van die Europese Verligting staande te hou, want ons is besig om nogmaals te verval in die irrasionele en dít wat Kant "dogmatiese rede" genoem het. Ek sê altyd: as dit nie vir die Verligting was nie, sou jy nie nou 'n selfoon in jou hand en rekenaarskerm voor jou gehad het nie, want dit was daardie soeke na die werklike struktuur van die wêreld - en nie die dogma nie - wat hierdie hele wetenskapfiksie-avontuur wat ons tans beleef, moontlik gemaak het.

Die Spaanse Inkwisisie het as "die honde van God" bekendgestaan. Van Wyk Louw het een van sy beste gedigte oor so 'n "hond van God" geskryf. As ons egter ooit sou toelaat dat die "Rottweilers van ras", wat by Die Burger en ander Nasperspublikasies aan hul kettings wurg, die oorhand kry, is  spraakvryheid in Afrikaans daarmee heen.

Soos ek nou die dag vir 'n buitelandse korrespondent hier in Johannesburg gesê het, is die stryd om vryheid wat tans woed, veel feller en moeiliker as die sogenaamde "struggle" teen apartheid. Daar was twee of drie komitees wat die anti-apartheidsbeweging bestuur het, met Huddleston aan die spits en die Sweedse geld wat in 'n dik stroom vanuit Stockholm gevloei het.

Ons veg om basiese dinge soos die reg op lewe, die reg op meningsuiting, die reg op gelykheid, moedertaalonderrig, ons menswaardigheid, ensovoorts - sonder geld en met sowel die staat as die grootste mediagroep in die land, Naspers, téén ons.

Uiteindelik is enige totalitêre bestel egter net so sterk soos die beheer wat hy oor mense se denke uitoefen. Deel van die rassistiese Rottweilers aan hul kettings se frustrasie is miskien juis dat hulle nié meer ons denke beheer nie, dat Breyten Breytenbach, Annelie Botes, Steve Hofmeyr of elkeen van dié wat al vanaf berg Olimpus by Heerengracht 40 met donder en bliksem getref is, steeds aanhou om dinge te sê net soos hulle is.

Laas Opdateer op Sondag, 15 Januarie 2012 11:48

Vir Die Burger is Dan Roodt vyand nommer een

E-pos Afdruk PDF

Die Kaapse Nasperskoerant, Die Burger, dra vandag weer 'n leedvermakerige beriggie Dan Roodt verloor lastersaak teen Die Burger. Soos gewoonlik is dit onakkuraat, want ek het geen lastereis teen Die Burger ingestel nie, maar bloot 'n klag by die persombudsman ingedien omdat ek in die blaaie van dié koerant 'n "verregse Afrikaner-aktivis" met "fundamentalistiese sienings" genoem is.

Die Burger voer reeds jare lank 'n lasterveldtog teen my. Die joernalis wat my as "verregse fundamentalis" wou etiketteer, is ene Ilse Bigalke, een van die koerant se senior asssistentredakteurs. Haar rubriek Van hekse kom nie altyd onheil het op 24 Hovember 2011 verskyn. Let op die beeldspraak en toespeling op "hekse", so reg uit die Middeleeue toe Pous Urbanus VIII vir Galileo gedwing het om sy teorie terug te trek dat die aarde om die son sou draai.

Net soos Galileo weens sy "kettery" deur die Roomse Inkwisisie vervolg is, word ek deur die Kaapse Inkwisisie  vanuit Heerengracht 40 aangekla.

Blykbaar beskik Die Burger oor 'n vrypas om my te belaster en te verguis. Ek, en nie Julius Malema nie, is Suid-Afrika se vyand nommer een. Maar waarteen het Die Burger werklik beswaar? In die eerste plaas gaan dit daaroor dat ek my teen geweldsmisdaad, veral plaasmoorde en die verkragting van Afrikanervroue, uitspreek. Aan die einde van verlede jaar het UNPO, die Verenigde Nasies vir staatlose volke en waar Afrikaners deur die Vryheidsfront verteenwoordig word, in 'n verslag verklaar dat "die verkragting van minderheidsvroue die hele volk waartoe hulle behoort, onteer".

Met dié siening kan ek nie genoeg saamstem nie. Ek verseg ook om te aanvaar dat plaasmoorde 'n gegewe van die Nuwe Suid-Afrika moet wees wat ons maar net moet aanvaar.

Maar as 'n mens jou teen die ekstreme geweld wat in Suid-Afrika tier, uitspreek, is jy 'n "fundamentalis" en 'n "verregse".

Bigalke se rubriek lewer kommentaar op 'n TV-uitsending "Redi on Mzansi" waarheen ek verlede jaar uitgenooi is. In die program het 'n woernaal van my in antwoord op Sandile Memela se rubriek in die Sowetan oor swartes se swak wiskundeprestasie ter sprake gekom. Let wel: dis nie ek wat eerste beweer het swart matriekleerlinge presteer gemiddeld swakker as blankes in matriekwiskunde nie, dit was die Sowetan se rubriekskrywer.

Ook die ANC-regering het al male sonder tal gekla dat die algemene prestasie van skoolleerlinge in wiskunde nie na wense is nie. Soos iemand oor Radio Pretoria vanoggend opgemerk het: "Maak dit die ANC-regering ook nou 'verregs'?" Ons het ook enkele dae gelede gesien hoe 'n skare studente die hekke by die universiteit van Johannesburg stormgeloop het, met funeste gevolge. Is 'n mens 'n "fundamentalis" en 'n "verregse" indien jy sulke dinge waarneem en dit onaanvaarbaar vind?

Die Persombudsman, of in dié geval sy assistent, dr. Johan Retief, het my in sy uitspraak met Robert McBride, iemand wat sowel aan terreur as munisipale korrupsie skuldig bevind is, vergelyk. Dis eenvoudig verregaande! Anders as McBride, is ek nog nooit aan enige misdaad skuldig bevind nie. Dit wel egter voorkom asof die Persombudsman in wese bloot 'n verlengstuk van die groot mediagroepe soos Naspers, Avusa en die Independent-groep is en dat die burgers van Suid-Afrika kwalik enige beskerming of billike behandeling uit daardie oord kan verwag.

Vir wat dit werd is, gaan ek egter teen hierdie bevinding appelleer. Ek weier om oor dieselfde kam as McBride geskeer te word, bloot omdat ek my teen onreg, geweld en onbekwaamheid in ons treurige land uitspreek.

Die Persombudsman verdedig Die Burger se reg om feitlik enigiets oor my kwyt te raak wat die koerant wil, hoe ver dit ook al van die waarheid verwyder mag wees. Ek is self 'n voorstander van spraakvryheid. Maar Die Burger gebruik sy spraakvryheid juis om my dieselfde te ontsê. Uiteindelik is die koerant se verbete veldtog teen my daarop gemik om my die swye op te lê, om my by die publiek belaglik te maak en my sodoende ook enige ekonomiese kanse op deelname aan die Afrikaanse boek- en mediamark te ontsê.

Sonder die internet en sonder 'n aanlynpublikasie soos praag.co.za, sou ek dalk inderdaad deur Die Burger tot "heks" en ketter verklaar gewees het. Soos Galileo sou ek gedwonge gewees het om my oortuigings af te sweer en die res van my lewe onder huisarres deur te bring.

Gelukkig leef ons in die een-en-twintigste eeu met sy inligtings- en kommunkasierevolusie. Nie eens Die Burger en die magtige Naspersgroep agter hom kan ons meer stilmaak nie.

Soos George Orwell gesê het: "Om in 'n tyd van universele misleiding die waarheid te praat, verteenwoordig 'n revolusionêre daad."

Laas Opdateer op Donderdag, 12 Januarie 2012 08:04

JPAGE_CURRENT_OF_TOTAL