Jy is hier: Dan Roodt

Rubrieke van Dan Roodt

ANC se revolusie verloop volgens plan

E-pos Afdruk PDF

'n Mens kan nie anders as om 'n bewondering vir die ANC en SAKP te hê om te sien hoe hul revolusie, wat jare lank in Moskou, Londen, Oos-Berlyn en ander stede beplan is, stap vir stap geïmplementeer word nie. Wie sou kon dink dat die blanke Afrikaanse skole uiteindelik gedwing gaan word om ook te staak soos die gebruik in die swart woonbuurte is? Maar die gedwonge sluiting van ons skole is maar een revolusionêre simptoom van vele.

Ander simptome van revolusionêre vordering deur die ANC/SAKP/Cosatu-alliansie is grondhervorming en boere wat binnekort vyftig persent van hul bates en inkomste met hul werkers sal moet deel, die verdieping van regstellende aksie en swart bemagtiging, die gebruik van geweldsmisdaad om ons mense te laat uitmoor en oorsee te verdryf, asook 'n nasionale dienspligstelsel wat bedoel is om die vrugte van die revolusie met geweld te kan verdedig.

Daagliks staan 'n mens verstom oor die ongelooflike naïwiteit van die destydse Afrikanerleierskap wat sonder slag of stoot die hele land en infrastruktuur aan 'n revolusionêre bende ballinge vanuit Londen en Oos-Europa oorhandig het. Maar ook die gewone Afrikaner wat vandag skynbaar sy oë sluit vir die revolusie wat in radikalisme en intensiteit toeneem, ontken die werklikheid wat hom as't ware elke dag oor die kop slaan. Soos die spreekwoordelike potpadda waarvan die water gaandeweg al hoe warmer word, sit almal en wag dat die volgende fase van die revolusie oor hulle spoel.

Wat moet nog gebeur vir mense om wakker te skrik? Moet daar Rooi Wagte soos tydens Mao se kulturele revolusie by elke skool opdaag - eintlik gebeur dit reeds - om ons kinders as kanonvoer vir die revolusie weg te voer? Moet plase een vir een beset word en die eienaars onder bestuur van die revolusionêre staat geplaas word? Moet die hamer en sekel op die sewe-uurnuus op TV gehys word? Eintlik is ons mense al so gekondisioneer en so gewoond aan die hamer en sekel dat hulle skaars agterkom hoeveel dit in die massamedia vertoon word.

Die huidige landwye staking van staatsdienswerkers wat binnekort deur Cosatu se lede in die privaatsektor aangevul gaan word, verteenwoordig nog 'n klassieke simptoom van oplaaiende revolusionêre energie. Die linkse leiers van die vakbonde - Cosatu en ander se bande met die SAKP is oorbekend - kry tereg die indruk dat hul mag besig is om toe te neem. Hulle wil die meer gematigde elemente in die ANC dwing om groter salarisverhogings toe te staan, asook 'n meer linkse beleid oor die algemeen toe te pas.

Die Afrikaner is met sy rug teen die muur. Ons sal moet besef dat die veranderingsproses, die "transformasie" (wat al jare lank 'n eufemisme vir revolusie is), reeds veels te ver gevoer is. Onder die huidige omstandighede gaan ons nie kan oorleef nie. Die honderdduisende blanke en Afrikanerwerkloses, waarvan vele reeds in plakkerskampe woon, is die stille getuienis van die revolusie wat ons stuk vir stuk van ons ekonomiese kanse en menswaardigheid ontneem.

Die revolusionêre van die ANC/SAKP weet baie goed dat ons hulle vyand is. Hulle gebruik oor en oor die term "vyand". Danksy sy leierloosheid, gebrek aan eerlike media en verskynsels soos Angus Buchan wat mense in godsdienstige euforie dompel, is die Afrikanervolk vandag so werklikheidsvreemd dat hy nie agterkom dat sy vyand besig is om hom stelselmatig te vernietig nie.

Die hoop beskaam egter nie dat mense deur die toenemende wanorde gaan agterkom dat "alles nie pluis is nie". In die destydse kommunistiese Oos-Europa het ons gesien hoe mense se denkbeelde volledig deur die revolusionêre bepaal kan word wat die media, skole en universiteite beheer, maar dat gesonde verstand tog iewers die individu soos 'n klein stemmetjie in sy agterkop begin pla.

Indien u vandag wonder waarom ons skole vir die eerste keer in die geskiedenis nie funksioneer nie en wat presies die betekenis van 'n "algemene staking" in die geskiedenis van linkse revolusies is, dan is daardie stemmetjie in u agterkop besig om met u te praat.

Dit is so belangrik dat elkeen van ons wat aan die breinspoeling van die afgelope anderhalf dekade ontkom het en helder kan sien wat gebeur, met mekaar moet kommunikeer en ook moet organiseer om die aftakelingsproses te stuit.

Alvorens dit heeltemal te laat is.

Laas Opdateer op Woensdag, 25 Augustus 2010 12:09

Kom ons veg vir vryheid

E-pos Afdruk PDF

Hoe toegewyd is u aan die saak van Afrikanervryheid? Is u soos Nelson Mandela bereid om tronk toe gaan daarvoor? Sal u soos 4500 Boere en 27 000 vroue en kinders tydens die Tweede Vryheidsoorlog sterf daarvoor?

Ná my onlangse besoek aan Israel het ek 'n brief daaroor aan 'n vermaarde Afrikaanse akademikus geskryf. In antwoord vertel hy my van wat 'n vorige Israelse minister, Salman, op 29 April 1960 net ná Sharpeville aan die koerantman Piet Cillié gesê het. Hy het gesê daar is net twee alternatiewe – Afrikanernasionalisme of swart nasionalisme. Daar is geen Suid-Afrikaners nie en die Engelse tel nie. Maar sal Afrikanernasionalisme dit haal? Salman het Cillié “vorsend aangekyk” en gesê: “My volk is ‘n toegewyde volk. Kan u sê dat u volk ook ‘n toegewyde volk is?”

Terwyl ek in Israel heen en weer tussen Tel Aviv en Jerusalem gereis het en oral baie vriendelik en goed ontvang is, het ek onder die indruk gekom dat die Israeli's vandag steeds 'n toegewyde volk is wat téén die wêreldmening in hul voorbestaan en soewereiniteit verdedig.

Maar net soos in 1960 moet ons vandag aan onsself vra: "Is die Afrikanervolk vandag 'n toegewyde volk?" En dan die persoonlike vraag wat elkeen van ons aan hom- of haarself kan stel: "Is ek 'n toegewyde Afrikaner wat vir vryheid werk of veg?"

In sy brief aan my skryf die Afrikaanse akademikus: "So dikwels kan ’n mens wel vra of dit nie aan toewyding by ons skort nie. Die bittereinders van die Tweede Vryheidsoorlog was so toegewyd, die GRA-mense en van die latere taalstryders en Afrikaner-nasionaliste, en deesdae mense soos jy – maar dikwels is ons net ’n rukkie lank geesdriftig."

Dis vir my 'n besondere pluimpie dat hierdie bekende en geliefde navorser, skrywer van tientalle boeke, my in sy brief by die groep van toegewyde Afrikaners inreken. Hoewel ek my geensins vir 'n groot Afrikaner wil uitgee nie, kan ek tog op grond van iemand anders se deskundige oordeel vandag die vraag aan ander vra: "Is u 'n toegewyde Afrikaner?" Want sonder toegewyde Afrikaners en mense wat vir vryheid sal opoffer, sal ons nooit weer vry wees nie.

Die Afrikaner het vandag alles om vry te wees: ons het geld, ons het kundigheid, ons is opgelei, ons het organisasievermoë en logistiek, ons besit grond. Al wat by ons ontbreek is die wíl om vry te wees. En natuurlik: die toewyding.

Wat ons te doen staan, is baie helder. Die nuwe Suid-Afrika stort feitlik vanself in duie, vanweë korrupsie, misdaad, instroming oor ons landsgrense, diskriminasie teen blankes en wat nog. Hierdie orde wankel reeds; al wat nodig is, is 'n goeie stamp vir hom om tot 'n val te kom.

In die eerste plek moet alle Afrikaners daarvan oortuig word dat die huidige stelsel nie meer legitiem is nie en vervang moet word. Daarvoor kan ons die tegnologie en veral die internet, die Praagwebwerf en Facebook, gebruik. Maar nogtans het ons geld daarvoor nodig.

Soveel kere was ek in die onlangse tyd al by ryk Afrikaners. Suksesvolle mense, met groot en duur motors, 'n huis in die stad, 'n huis by die see, dalk 'n plaas, selfs woonstelle in die buiteland. Die man verdien een miljoen, selfs twee miljoen rand per maand. Maar as jy hom vir R1000 per maand vir ons stryd vra, dan moet hy eers bietjie gaan nadink. Dan vra jy hom vir R500 of nog minder. Maar selfs R50 per maand is vir hom te veel, want hy is tevrede om onder 'n vreemde regering bloot geld te maak en die feit dat honderde duisende van sy volksgenote nie so gelukkig is nie en onder die ANC krepeer, skeel hom min.

So 'n man is wel toegewyd aan homself, moontlik aan sy gesin, maar hy is geen toegewyde Afrikaner nie.

Ek wil u nou vra om saam met my te begin veg vir vryheid. Nooit sal ek aanvaar dat ons vir altyd onder 'n vreemde regering moet dien en nie onsself kan regeer nie. Dis 'n basiese mensereg, iets wat die meeste volke op aarde as 'n gegewe beskou. Maar daardie fundamentele vryheid word van ons weerhou.

Word saam met my 'n toegewyde Afrikaner. U kan baie doen, u kan min doen, maar doen iets! U kan R100 000 per maand bydra of u kan R10 bydra. Maar dra iets by! Moenie net 'n passasier wees nie. Moenie net op die kantlyn staan en kyk hoe ons toegewyde Afrikaners dag vir dag ons almal se vryheid probeer herwin nie.

Daar is 'n ou spreuk wat lui: ons veg een vir een, maar ons word sáám oorwin. Dis nie nodig dat alle Afrikaners of selfs die meerderheid vryheid nastreef nie. Maar 'n beduidende groep sal wel toegewyd aan die saak van vryheid moet raak.

Is u een van hulle?

Raak betrokke!

Klik hier om by Praag aan te sluit.

Laas Opdateer op Woensdag, 18 Augustus 2010 11:36

Brink se hatige strydskriffie

E-pos Afdruk PDF

Vandag is GRA-dag en ons almal vier die amptelike ontstaan van Afrikaans as kultuurtaal 135 jaar gelede toe die Genootskap van Regte Afrikaners gestig is. Van die begin af is daar ywerig letterkunde in Afrikaans voortgebring. Van 1994 af het die Afrikaanse letterkunde gekwyn en word dit gekenmeer deur 'n ideologiese beheer van die staat soos in Sowjet-Rusland, met die groot uitgewers wat hoofsaaklik polities korrekte boeke, dikwels in geradbraakte Afrikaans, publiseer.

Op 14 Junie het ek die volgende brief op LitNet gepubliseer, in repliek op 'n uiters bevooroordeelde resensie wat André P. Brink in Rapport oor my roman Moltrein geskryf het. Toevallig het ek nou weer daarop afgekom en vind dit gepas om dit vandag, 'n dag waarop verskeie Afrikaanse organisasies mense aanmoedig om boeke in ons taal te koop, weer te publiseer.

André P Brink het op Sondag 6 Junie 2004 ’n bevooroordeelde tirade in plaas van ’n resensie oor my boek Moltrein geskryf. Ek kon glad nie my roman in sy uitbarsting herken nie.

Brink het nog altyd ’n erg moralistiese streep gehad. As hy hom reeds in sy mees onlangse roman, Anderkant die stilte, belaglik gemaak het met sy gepreek oor kolonialisme en die wreedheid van alle blanke Duitse mans, bereik hy hier nuwe hoogtes as hy my arme klavierspeler van “manlike chauvinisme” beskuldig op grond van een reël wat in sy skokkende glorie as bewysstuk uitgestal word. Brink gaan met my boek om soos die destydse Aksie Morele Standaarde met Leroux se Magersfontein gemaak het: hy het — lyk dit my — deur die hele boek geblaai op soek na, enersyds, lelike woorde en andersyds ’n gebrek aan politieke korrektheid.

Kennelik is dit gedoen om my roman te diskrediteer, om dit aan te bied as een of ander sensasionele katalogus van erotiese tonele wat hulself een na die ander onsamehangend afspeel. Wat my egter verbyster, is die infantiele en selfs vulgêre manier waarop Brink, wat homself daarop roem dat hy ’n kenner van letterkunde is, hierdie aspek benader. Dit is nie eens studentikoos nie; dit is net ordinêre swak smaak.

Brink het hom nou al meermale onderskei as iemand wat dit moelik vind om by die onderwerp te hou. As hy nie tydens ’n lesing oor Van Wyk Louw, soos verlede jaar by RAU, ’n hele kwartier aan Jackie Nagtegaal se kreatiewe taalgebruik afstaan of as ’t ware skuimend om die mond teen George W Bush lostrek nie, lei hy sy reeks stommiteite oor my roman in met ’n “storietjie oor die cockney, so ’n Andy Capp-mannetjie” wat ’n motor wil koop. ’n Mens sou ’n hele Freudiaanse analise kon doen oor Brink se verklaring dat hyself deur my boek, soos hy dit stel, “gefok” voel, sy dit dan sonder passie, maar ek wil vra: van wanneer af is “passie” ’n literêre maatstaf?

Beskik Brink oor enige maatstawwe behalwe sy manie oor “manlike chauvinisme” en ’n skoolvosserige vitterigheid oor my taalgebruik? Om darem te beweer dat ek “belangeloosheid gebruik wanneer ek ‘onbelangstellendheid’ bedoel” is gewoon verkeerd wanneer die vierde uitgawe van die HAT, Perskor 2000, altwee betekenisse van “belangeloos”, dws “sonder betaling, sonder eie voordeel”, maar ook “sonder belangstelling”, erken. Ek het reeds voorheen gedreig om Brink se Donkermaan weer ’n keer deur te lees weens die irritasie van sy vele anglisismes, om van die lukrake invoeging van Engelse woorde nie te praat nie, want dit lyk my ons letterkunde wat in die verlede darem debat oor ’n paar idees of beginsels toegelaat het, behels deesdae ’n heksejag oor mekaar se “skryffoute”.

Waaraan ’n mens jou nog meer verwonder, is dat Brink, die taalkundige libertyn en apologeet vir Nagtegaal se “loslit-, losmaag- en oopgulp-Afrikaans”, om Kas Landman se tipering te gebruik, nou skielik sy liniaal uitgehaal het om letterlik die lengte van my sinne te meet en selfs ’n verkeerde gebruik van die verlede tyd bespeur.

Maar uiteindelik weet ons albei waaroor dit gaan: dit is veel minder ’n kwessie van grammatika of gebrekkige passie as twee wêrelde in botsing. Jare lank is ek en ander eintlik verhoed om te skryf deur die groteske stereotipes en karikature van Afrikaners en apartheid wat deur Brink, Gordimer et al die wêreld ingestuur is. Soos Talleyrand gesê het, “Tout ce qui est exagéré est insignifiant” (Alles wat oordrewe is, is onbenullig.) Hierdie oordrewe geskrifte noem hulle “Sefefrikin Litritjur”. Dit wat Brink so ontstig in my boek, is juis die oneerbiedige hantering van al die politieke clichés wat by die jaart uit die koloniale woordverwerkers gestroom het. Oor en oor in Moltrein gebruik ek die term “apartheidsland”, byvoorbeeld, in ’n verestetisering van die woord en uiteindelike weerwraak van die kuns op die politiek. Omtrent elke sin in die boek is ironies, maar dit het Brink nie agtergekom nie.

Daar is ’n hele klomp verwysings, van die ooglopendes na Proust en Balzac tot die onaangekondigdes, maar tog nie minder blatant nie, soos byvoorbeeld die gedeeltes oor die passages wat leen by Walter Benjamin se Passagenwerk. Brink se hatige strydskriffie in Rapport maak geen melding daarvan nie. Uiteraard was Benjamin ook ’n Paryse balling, wat in 1940 op die Spaans-Franse grens selfmoord gepleeg het.

“Eendimensionele” voorstelling van Parys? Dan het Brink seker nog nie vir Berberowa of Nabokof oor die stad gelees nie, veral eersgenoemde se Le laquais et la putain.

Daar is ’n hele klomp idees in die boek, ook politieke idees. As Anton du Preez niks van politiek weet nie, is Brink se eie insigte op die amoebavlak. Onder andere sien die karakter die Suid-Afrikaanse revolusie van 1994 as die laaste stuiptrekking van die modernistiese gelykheidsideaal en wys op die paradoks van ’n oorname deur selferkende kommuniste hier by ons terwyl Europa hulle verwerp. Sover ek weet is die koppeling van Boerehaat en Jodehaat nie “holruggery” of “afgesaag” nie en sy siening van die Verligting as tegelyk rasioneel en irrasioneel, is nie net ’n eerste in Afrikaans nie, maar selfs binne ’n Europese konteks hoogs oorspronklik, al moet ek dit self sê.

Brink verraai, soos Gordimer, sy koloniale bewussyn as hy in gewyde terme na Houellebecq en Catherine Millet se onlangse werke verwys wat “gegrond is op ’n indrukwekkende filosofie.” Hulle is mos darem van “oorsee” en dus beter. Houellebecq is ’n kuriositeit en dikwels interessant, maar in sy uitbeelding van Westerse dekadensie het hy die klok gehoor lui, maar weet nie waar die bel hang nie. Ek verkies my eie sienings bo dié van Houellebecq.

Daar is ’n groot behoefte aan saaklike en insiggewende resensies om Afrikaanse romans vir ’n breë publiek toeganklik te maak. Op een stadium in die goeie ou dae het Brink dit tog in die einste Rapport reggekry.

Sy huidige styl pas egter meer by ’n kougomkouende tiener as by ’n afgetrede professor van Engelse letterkunde. Dit is iemand van sy leeftyd nie waardig nie.

* * *

Tot sover my stuk wat aan Rapport gestuur is. Hier volg nou verdere kommentaar wat nie direk op die resensie betrekking het nie, maar miskien tog wel daarmee verband hou:

Vir ’n geruime tyd reeds beskou ek prof André P Brink as irrelevant vir die openbare en intellektuele debat in Afrikaans. Iemand sê nou die dag vir my dat Brink en Gordimer “geteer het op die pornografie van apartheid.” Van Wyk Louw het gepraat van die “nuttige dollar” wat mens in die buiteland kon verdien deur Suid-Afrika af te kraak. Vir ’n lang tyd was dit net te maklik om nog ’n roman oor “liefde oor die kleurgrens heen” of “die hardvogtige mynbaas wat die werkers uitbuit” of “die selflose vryheidsvegter” of “die revolusie is op hande” of dergelike te skryf terwyl die hele problematiek van hierdie land geïgnoreer word.

Deesdae kan mens nog steeds fasiel wees, maar dit raak natuurlik moeiliker. Elke dag word ons deur die koerantvoorblaaie herinner watter gewelddadige chaos daar in Suid-Afrika heers, die Hobbesiaanse natuurstaat wat onder die mooiklinkende term “demokrasie” aangebied word. Die keiser is kaal, maar niemand durf dit sê nie.

Ongelukkig geld dieselfde naaktheid ook vir André P Brink, Nadine Gordimer et al. Vanaf Kennis van die aand het Brink sy hele oeuvre gewy aan die politiek korrekte verguising van sy eie mense. Omdat ek in Moltrein begin torring aan die stereotipes wat jare lank in die buiteland — in die media, maar ook in die letterkunde — oor ons versprei is, kan Brink reeds die gevaarligte sien flikker.

In ’n sekere sin bevind Brink, Gordimer et al hulself in dieselfde posisie as die kommunistiese skrywers wat tydens Stalin se bewind en daarna die Sowjet-Unie as ’n utopie opgehemel het en die Weste as ’n fascistiese diktatuur voorgestel het. Toe die krake in hierdie voorstelling eers begin verskyn, het hulle soos tiere baklei om die hele bankrot tradisie, asook hul eie boeke, van ondergang te red.

Miskien sou daar nog iewers vir Brink ’n plek gewees het as ’n soort doyen van die Afrikaanse letterkunde, gegewe sy internasionale bekendheid. Die feit dat hy egter nou vorendag kom met onbesonne ideologiese kritiek op enigiets wat nie met sy eie opvattinge strook nie, maak so ’n ererol eintlik onmoontlik. Trouens, vir die Afrikaanse letterkunde en denke om vooruitgang te maak, sal ons nie rondom André P Brink kan beweeg nie, maar bo-oor sy lyk, figuurlik gesproke.

Behalwe dat Brink se kleinlike moralismes en sjiek-radikalisme vir my afskuwelik is, koester ek, anders as hy teen my, geen wrok jeens die man nie. Soos Joan Hambidge egter iewers al vir Dirty Harry aangehaal het: Go ahead, make my day. Brink se klein provokasie mag my dalk net inspireer om finaal met die gemors wat die afgelope dekades deurgegaan het vir politieke prosa en die anti-apartheidsroman af te reken. Daar is destyds gepraat van “oopskryf”; dit is nou tyd vir afskryf.

Oor die afgelope tyd was daar eintlik te veel retoriek en etikettering, en te min werklike intellektuele argumentering in Afrikaans. Miskien is dit tyd om die hele debat rondom politiek en letterkunde weer in oënskou te neem, terwyl ons die Tendenzliteratur van Brink, Gordimer et al ontleed, om nie te praat van hul politieke en filosofiese idees — of gebrek daaraan — wat onder vernaamklinkende titels gebundel is nie. Nog nooit vantevore is soveel fasiliteit en domheid met soveel fanfare aangebied nie.

Sodra ek ’n paar dae grasie het, mag ek dalk ’n korterige opstel produseer rondom die tema van iets soos “Apartheidspornografie: die stereotipes van Brink, Gordimer et al.” Niks sal my groter plesier verskaf as om die hele benouende tradisie onder die soeklig te plaas, en die wortels daarvan in die Stalinistiese literatuurteorie bloot te lê nie.

Op ’n manier het die Berlynse muur nog nie in Suid-Afrika geval nie. Kom ons gryp ’n paar tienpondhamers en pak hierdie broodnodige werkie aan.

Laas Opdateer op Saterdag, 14 Augustus 2010 09:15

JPAGE_CURRENT_OF_TOTAL