Telkom sê dis nie hulle skuld dat Winston die duif vinniger is as The Unlimited se internetkonneksie nie.
“Telkom wil dit net duidelik maak dat ons nie vir die maatskappy se stadige konneksie geblameer kan word nie,” het Troy Hector van Telkom aan die media gesê.
“Ons het al baie voorstelle aan die spesifieke maatskappy gemaak, maar hulle het tot dusver alles van die hand gewys.
“Dit is ook noemenswaardig dat Telkom nie hulle primêre internetverskaffer is nie,” het Hector gesê.
The Unlimited, ‘n inbelsentrum, het vroeër die week ‘n vier gigagreep databondel aan Winston die duif se poot in Durban vasgemaak en na hul hoofkantoor in Hillcrest laat vlieg.
Hulle wou bewys dat dié outydse metode vinniger is as Telkom se lyne.
Winston het hulle nie teleurgestel nie, en die databondel wat via die landlyn gestuur is, was slegs 4% deur toe Winston omtrent twee ure later in Hillcrest aankom.
Telkom het aan Kevin Rolfe van The Unlimited gesê dat as hy enige probleme ervaar, hy beswaar moet aanteken by Telkom se inbelsentrum.
“As daar ‘n groot probleem is, dan rapporteer ons dit.
“Probleme is egter so volop dat mense aanmekaar besware aanteken,” het Rolfe gesê.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





