Die een in uniform wat by die toonbank help is agter by ‘n tafel doenig. Haar medehelper lag oor die telefoon, ook op die agterste tafel, haar rug dwars na die ry gekeer. Daar is nog drie ander in polisie-uniform, maar hulle is luidrugtig by die kluis se deur besig om bottels in ‘n krat te pak. Uit die skrams blik wat ek op een kry en die klanke wat my ore bereik, lei ek af dat dit bierbottels is. Die gepakkery neem al hulle aandag in beslag en wanneer hulle die kosbare krat terug skuiwe in die kluis, loop twee en die ander een gaan by die tafel sit. Daar is niemand by die toonbank waar ons gehelp moet word nie.
Ek lei af dat die suigstokkie waaraan die ouma met smaak suig, oorspronklik aan die peuter behoort het. Dié se ma had net-nou haar hande vol om te keer dat sy by die deur uitloop straat toe, maar nou kriewel sy hier al onder my voete rond en ek hou aan bont staan, net sodat sy nie aan my moet vat nie. My geduld begin uitloop - die ma staan nou verveeld agter my en grawe in haar neus - en die kleintjie is met ‘n ontdekkingstog onder my voete deur besig. Langs die muur staan ‘n kersboom.
Ek besluit om myself doelbewus daarop te fokus om my aandag af te trek van die omstandighede rondom my. In my gemoed woel dit oor die werk se skootrekenaar wat gistermiddag laat agter my bakkie se sitplek uit gesteel is. Ek wil gil en skree oor al my persoonlike goed op die rekenaar wat nou weg is en vir my so kosbaar en onvervangbaar is…die gedagte dat iemand anders daarin rond kan krap maak my gek. Ek onderdruk die begeerte om die engeltjie wat omgeval het en nou plat met haar gesiggie op die plastiese dennenaalde van die kersboom lê op te tel en regop neer te sit. “Ja Engeltjie,” dink ek, “ek voel ook of ek ook nie lus het om my kop op te tel nie.”
Ek het die jongman net skrams gesien toe ek ingekom het. Hy sit by die hokkies wat loodreg links afloop. Die redelose woede in sy stem het egter nou my onverdeelde aandag. Hy beduie aan ‘n meer senior offisier sy probleem. Hy het sy klagte in Afrikaans kom aanmeld, maar die vrou wat hom moes help het hom egter dadelik afgejak. Hy het nie beswaar daarteen om Engels te praat nie, maar om afgejak te word omdat jy Afrikaans praat, was vir hom een te veel. Ek loer om die pilare wat die toonbank in indiwiduele hokkies verdeel en sien die trane van magteloosheid in die jongman se oë.
Ek skat hom in sy middel of laat twintigs. Hy is nog rou oor sy kar se ruit wat uitgeslaan is en die (vir hom onvervangbare) kamera en radio wat gesteel is. Uit wat hy beduie verstaan ek dat hy deur die een, nou by die telefoon, afgejak is. Haar rug is in ‘n triomfantlike liggaamstaal na hom gekeer en sy lag en gesels met oorgawe. Die senior offisier paai vir die vale. Hy kry ‘n ander een om die verklaring af te neem, die jongman gaan sit en hulle begin om die vorm in te vul. Intussen het die een wat agter by die tafel was teruggekeer en die ry begin beweeg,
Asof van nêrens het daar darem nog een te voorskyn gekom en is daar skielik twee agter die toonbank. Die een by die telefoon het ook klaar gemaak, en nadat sy iewers anders heen was kom sit sy weer en wink my nader. Ek begin in Afrikaans, maar sy antwoord met so ‘n beslistheid dat ek dadelik begryp dat die gesprek in Engels sal wees of glad nie. Skrams sien ek teen die muurhorlosie, dat ek ‘n halfuur gelede al in die aanklagkantoor ingekom het, ek sluk en gee in. In my beste geradbraakte Ingels, met soveel as moontlik Afrikaanse woorde tussen in verduidelik ek en skrywe sy my verklaring in ‘n tipiese Afrika-Engels.
Ek voel naar. Die vrae wat sy vra is met soveel venyn, dink sy almiskie ek het gereël dat die rekenaar gesteel moet word, of mors ek nou haar kosbare tyd om nou ‘n klag te wil lê? Ek staan verwese teen die tiperende posisionele mag wat die uniform aan haar gee en sy nou duidelik op my afdwing. Gelukkig is dit na jare se tronk- en hofbesoeke nou nie meer vreemd vir my nie, maar vandag voel ek of ek dit nog minder as gewoonlik kan hanteer. Soos die jongman in die ander ry, wil die magteloosheid my oorweldig, ek het lus om te begin skree - maar ek ploeter voort. Die rooiboksindroom, noem my skoonma dit - die jongman was so verneder dat ek oorweeg het om toe te tree, maar ek het nie. Nes ‘n rooibok het ek gestaan en toekyk hoe hy val. Nou staan ek in die vernedering. In my alleenheid laat ek maar begaan. Gaan dit dieselfde wanneer verklarings met plaasmoorde geneem word? Ek wonder? Seker maar. In die algemeen laat ons maar net begaan, dink ek, ons taal word vertrap - ons mense word wreed vermoor en daagliks gaan ons stom net voort.
Op ‘n vraag of ek ‘n afskrif van die verklaring vir die versekering kan kry, antwoord die een wat flussies so oor die foon gesels het, en nou haastig is om van my ontslae te raak, dat ek die speurder wat pas ingekom het moet vra, sy kan nie nou weer opstaan en haar pos verlaat nie. Hy dring egter daarop aan dat ek wag vir die vingerafdrukdeskundige en ek gaan sit by die jongman, wie se verklaring intussen (in Engels) afgeneem is. Hy wag ook vir die man en ons begin gesels oor ons gesamentlike ellende.
Bitter vertel hy vir my dat hy pas ‘n paar maande gelede uit Engeland terug gekeer het, waar hy genoeg geld gaan verdien het om ‘n kar, ‘n karradio en ‘n ordentlike kamera te kon bekom. Nou moet hy die agterste klein ruitjie van die kar gaan vervang en dit is baie duurder as ‘n gewone vensterruit, die res is hy nie finansieel instaat om te vervang nie. Hierdie klas van ding maak dat hy nie in Suid-Afrika wil bly nie, maar sy verloofde het te veel terug verlang. Sy woon egter in die Kaap en daar is die misdaad nie heeltemal so erg soos hier by ons in die noorde nie.
Hy vertel dat iemand wat by ‘n winkel in Engeland werk hom drie dae nadat hy die beursie op hul toonbank vergeet het, opgespoor het en die beursie aan hom terugbesorg het. Sonder ‘n pennie kort! Hy lag wrang en vertel dat die Engelse hom gewaarsku het toe hy Glasgow toe gegaan het, dat dit die gevaarlikste stad in die eerste wêreld is, 17 moorde per jaar!
Soos twee skape oppad na die slagpale sit ek en hy ons lot teenoor mekaar en beklae. Voor die uur en ‘n half, wat ons moet wag, egter om is, droog ons gesels op en verval ons elkeen in ons eie gedagtes. Wat by my op kom is die hele aanklagkantoor se algehele traagheid. Dit staan in skrille kontras met die polisie en taakmag se flinke optrede waarmee hulle my huis, waar ek enkel en alleen woon, gedurende 2003 tydens ‘n Hopper-operasie omsingel en deursoek het. Ek dink aan die jongman se voorval en hoe gereeld sulke dinge voorkom.
Doen ons genoeg vir Afrikaans in die besonder en vir die Afrikaners in die algemeen? Is die Jongman by enige iets betrokke om weerstand te bied teen wat ons beleef, nee dit blyk nie so nie. Sal hy betrokke raak? Moontlik - maar nie maklik nie. En ek? Moes ek nie maar tot sy bek-geveg toe getree het nie? Sou dit gehelp het? Ek dink nie so nie – wat ek wel weet is dat ek laat slap lê het. Tot my skande het dit my groot skade en ‘n besoek aan die polisiekantoor gekos om te besef dat daar gelukkig ‘n hele jaar voorlê, om aktief aan aksies vir Afrikaans deel te neem…
Die vingerafdrukdeskundige maak verskoning, hy is verskriklik besig. Ek het verniet vir hom gewag - die vingerafdrukke het afgereën. Hy gee my egter die goeie raad dat ek vir die ondersoekbeampte die 3G-kaart (wat in die skootrekenaar is) se moet nommer gee, dan kan hulle dit opspoor sodra die skelms die internet gebruik. Ek gaan haal gou die nommer van die kaart by die kantoor. Terug by die aanklagkantoor het my klagte het darem intussen MAS-nommer gekry: 184(en dit is vandag die tiende)! Op my navraag neem die een agter die toonbank my deur na ‘n kantoor waar die bruin lêers gestrooi oor die tafel lê. Die offisier wat daar die botoon voer verstaan ook nie ‘n woord Afrikaans nie.
Oppad uit stap ek vlak langs die kersboom verby. Die engeltjie lê nog steeds met haar vlerkies regop in die lug. Skielik is ek tot die dood toe moeg: “Ja, lê maar, Engeltjie” groet ek haar, “wat hier aangaan is ek seker is selfs te erg vir ‘n engel om te aanskou…”
| < Vorige | Volgende > |
|---|





