Weens my eie kennis en ervaring van emigrasie, bekommer die geweldige toename in voornemende emigrante onder Afrikaners my. Emigrasie is nie vir enigeen nie. Bo en behalwe die finansiële eise, vereis dit opofferings op sielkundige en kulturele vlak waartoe meeste mense nie in staat is nie. Gerugte hier in Nieu-Seeland wil hê dat die egskeidingsyfer onder Suid-Afrikaanse immigrante 80% is. Gegewe die hoeveelheid gebroke Suid-Afrikaanse gesinne wat ek al hier teëgekom het (baie meer as in SA), sal ek verbaas wees as die statistiek nie erger is nie. Die hele proses is doodeenvoudig so stresvol dat meeste huwelike dit nie kan oorleef nie.
So waarvoor kan die voornemende emigrant hom- of haarself voorberei? Ek weet nie of mens jouself werklik kan voorberei vir hierdie ingreep nie. Uit my ervaring kan ek bloot praat oor wat immigrante in Nieu-Seeland deurmaak op grond van gesprekke met Suid-Afrikaners; ander immigrante duskant die Tasmansee (in Australië) kan ek ook beperkte getuienis daaroor lewer. Volgens die verhale wat hier die rondte doen, is die ervaring daar maar dieselfde as hier. Vir spesifieke professies soos mediese dokters en verpleegsters is dit ietwat makliker, maar dit is bloot omdat hulle makliker werk vind. Die res van die spanning is maar dieselfde vir almal.
Die kleinste van die aanvanklike stresfaktore is om behuising vir jou en jou gesin te vind. As jy aan die standaard van Suid-Afrikaanse woonhuise gewoond is, moet jy jouself regmaak om in 'n plankieshuis te woon. As jy meer gelukkig is, kan jy iets meer moderns kry wat van kunsmateriale gemaak is. Nogtans gaan dit baie klein en baie duur wees. Huise hier is klein en glad nie goedkoop nie. Boonop is Nieu-Seelandse huise geensins aangepas vir die land se relatiewe kouer klimaat nie. Die isolasie is deurlopend onvoldoende en daar is geen sentrale verhitting in verrweg die meeste huise nie. Pak maar warm klere in, want soos in SA is elektrisiteit duur...
Die meeste woonbuurte steek erg af by SA se voorstedelike woonbuurte. Ek sou enige voornemende emigrant aanraai om, voordat hy of sy hierheen (dit geld ook vir Australië) toe kom, so 'n persoon eers vir 'n jaar op 'n plek soos Springs, aan die Oos-Rand, gaan bly. So raak jy ten minste gewoond aan die estetiese aspek. Wat boukwalitiet betref, sal selfs Springs jou ongelukkig nie voorberei nie.
Die volgende stresfaktor waarmee die voornemende emigrant gekonfronteer gaan word, is die puntestelsel. By verre die meeste sal nie op grond van hul ervaring en kwalifikasies alleen in die gasheerland toegelaat word nie. Die meeste sal bykomend tot minimumkwalifikasies ook 'n werksaanbod moet verkry. Dit is 'n uiters moeilike proses aangesien potensiële werkgewers nie graag mense aanstel wat nie 'n werkspermit het nie, maar terselfdertyd kan jy nie 'n werkspermit kry sonder 'n werksaanbod nie - die hoender of die eier. Boonop sal jy gekonfronteer word met: "Do you have any Kiwi work experience?" Die werksoekfaktor is egter die aspek wat die meeste spanning veroorsaak. Voor die resessie sou dit jou ongeveer 6 maande neem om werk te vind, maar soos werkloosheid nou hier toeneem kan mens net raai hoe lank 'n immigrant werkloos sal bly. Sommige Suid-Afrikaners hier sal vir jou vertel hoe maklik dit is om hier werk te kry. MOET DIT NIE GLO NIE. Dit is baie moeilik en as jy bo 32 is, raak dit net moeiliker.
Behalwe dat die Kiwi's wesentlik agterdogtig jeens Suid-Afrikaners (oor die algemeen word Afrikaners soortgelyk aan Nazi's beskou) is, het hul bittermin waardering vir ons werkservaring. Terwyl Britte as ere-Kiwi's behandel word, word ons as arrogante en agressiewe (selfs agterlike) derdewêreldmense beskou. Terwyl sekere aspekte van Nieu-Seeland se infrastruktuur erg afsteek by Suid Afrika s'n, glo hulle dat ons uit die boendoes kom en dus nie veel waarde sal kan toevoeg nie. Hoewel heelwat van Suid-Afrika se infrastruktuur baie meer indrukwekkend as hulle s'n is, dink hulle ons ry op grondpaaie en het oor die algemeen weinig begrip van tegnologie. Ek weet bv van 'n SA siviele inginieur, wat paaie in SA gebou het, wat nie hier werk kon kry nie omdat hulle net nie kon glo dat ons teerpaaie het nie. Wanneer jy eendag dus wel 'n werk kry, wees maar bereid om vir 50% minder te werk as wat jy nou kry. Baie hoogs gekwalifiseerde Suid-Afrikaanse mans eindig in junior poste of selfs as hande-arbeiders.
So seker as wat die Suid-Afrikaanse rand ondergewaardeer is, is die NZ-dollar oorgewaardeer, wat beteken dat kos, klere en ander lewensbenodighede baie duur is in vergelyking met wat mense verdien. Maak dus maar reg om by 'n laer salaris en hoër lewenskostes aan te pas. Ten minste werk mediese en ander sosiale dienste en is goedkoop as jy voorsien dat jy dit mag benodig. Nogtans sal jy 'n permanente inwoner moet wees voordat jy ten volle voordeel daaruit kan trek.
Hoewel die Suid-Afrikaners 'n gemeenskap vorm in byvoorbeeld Auckland is daar geen gemeenskapspoging om voornemende immigrante te help nie. Daar is wel enkelinge wat met beperkte welslae probeer help. My algemene ervaring van die SA gemeenskap, wat meestal in Auckland se noordelike voorstede woon, is dié van ontwrigte en getraumatiseerde mense wat nie weet waar hulle inpas nie. Terwyl hulle vasklou aan hul Suid-Afrikaanse gemeenskapsidentiteit verrig dit hul geen guns in die breër Nieu-Seelandse samelewing nie. Soos met die Chinese en Indiërs hier, wat ook sulke enklawes vorm, word hulle as 'n hardkoppige doring in die vlees beskou wat nie wil integreer nie.
Die beste guns wat jy jouself kan bewys as jy eers 'n werk gekry het, is om onmiddellik in 'n woonbuurt die intrek te neem waar daar geen Suid-Afrikaners is nie. Moenie met Suid-Afrikaners meng nie, want dit hou net jou SA aksent in stand. Begin onmiddellik met "accent reduction"-klasse sodat jy die plaaslike aksent kan aanleer. Die impak wat Afrikaans op jou aksent het, is baie nadelig, dus is dit beter om onmiddellik te verengels. Solank jy 'n aksent het, gaan jy en jou gesin sukkel om te integreer. Julle sal dus beperk wees tot SA vriende (wat jy verkieslik nie moet hê nie) en in jou werk sal jy glad nie vorder nie. Solank jy "anders" voorkom, aanvaar hulle jou nie as gelyke nie en sal jou op elke terrein probeer terug hou. Gelukkig verengels die kinders baie gou, dus sal hulle ná enkele jare hulle bitter min of geen reste van hul Afrikanerskap toon nie.
Terwyl die Kiwi's erg aan kleinlandjiesindroom ly, het die Aussies weer grootheidswaan onder lede. Om hul onderkeie redes is hulle dus baie sensitief vir enige kritiek of selfs net 'n verwysing na SA en sy infrastruktuur. Dus is dit beter om eerder nooit na Suid-Afrika te verwys nie. Maak eerder asof jy soos 'n soort identiteitlose wese uit 'n dimensielose vakuum geval het. Veral in Nieu-Seeland word identiteit sterk afgekeur. Die blote bestaan van 'n Afrikanerkerk, byvoorbeeld, skep groot ongemaklikheid by die Kiwi's wat dit as 'n soort Nazi-breinspoelkamp beskou. Weereens, sal jy nie wil hê die Kiwi's moet weet jy behoort aan so iets nie. Nieu-Seeland is, soos Australië, 'n land van die middelmatige. Gemiddeldheid is die mantra. Moet nooit wys dat jy anders is of dat jy enige ambisie het nie. Dit is baie belangrik dat jy "nie aandag trek" nie. Terwyl Suid-Afrikaners as "arrogant", "direk", "aggressief" en "rassisties" beskou word, sal jy dikwels vind dat as dit nie agter jou rug gesê word nie, dit wel direk aan jou gerig sal word. Dit is ook om hierdie rede dat hulle ons nie graag in diens neem nie. Aller eerste sal hulle 'n Kiwi soek om 'n pos te vul. Met laasgenoemde het ek empatie, dit is immers hulle land en hulle mense. Wat egter pla, is dat Britte en Aussies 'n soort status, sowel op die arbeidsmark as sosiaal, as "ere-Kiwi's" het. Wanneer hulle egter nie 'n goeie Kiwi, Brit of Aussie kan kry nie, sal hulle die lang lys van swakker Kiwi-kandidate begin deurwerk. Teen die tyd dat hulle na immigrante (Suid-Afrikaners inkluis) begin kyk, is hulle rêrig desperaat.
Te veel Afrikaners vind berusting daarin "dat as dinge so aanhou in SA dan sal ek en my gesin emigreer". Emigrasie is vir baie soos 'n soort versekeringspolis, wat hulle uit die SA anargie gaan lig. Feit is egter dat, wat die meeste Afrikaners betref, hierdie 'n illusie is. Die strawwe immigrasievereistes van potensiële gasheerlande maak dit onmoontlik vir by verre die meeste Afrikaners om ooit die land te verlaat. Indien Afrikaners sou ophou om hulself met hierdie illusionêre uitweg te kalmeer, sal hulle dalk iets daaraan probeer doen om hul situasie binne Suid-Afrika te verbeter.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





