Dr Dan Roodt, die leier van Praag, het dié vergadering vir 'n kort rukkie bygewoon en 'n toespraak gelewer. Een van die indrukke waarmee hy die vergadering verlaat het, was dat die konsep van 'n teokrasie die hoofpunt van bespreking was. Op die Volksvergadering se webwerf word daar dan ook melding gemaak van 'n besluit wat geneem is op die vergadering om die stigting van 'n Afrikanerteokrasie te ondersoek. Alhoewel dit moontlik is dat nie al die organisasies daar teenwoordig tot dieselfde mate verbind is tot 'n teokrasie nie, lyk dit tog of daar onder die bywoners konsensus bereik is oor die stigting van 'n teokrasie. Kan mens dus die gevolgtrekking maak dat die konsep van 'n teokrasie onder baie regse bewegings, ook dié wat teenwoordig was op Vegkop, verwelkom word?
Dit is nie heeltemal duidelik wat presies hierdie vergadering bedoel het met 'n teokrasie nie. In 'n suiwer teokrasie maak die heersers aanspraak daarop dat hulle in direkte verbinding met God verkeer, en dat God self die leiers aangestel het. In 'n ander variasie op die tema maak die heersers nie so 'n aanspraak nie, maar word die onderdane regeer deur diegene wat ook geestelike ampte beklee, soos Iran se ajatollas. Wat my wel tot groot kommer stem, is die gebruike van terme soos "JHWH" in die skakel hierbo aangegee. Die gebruik van die term "JHWH" dui op invloed vanuit die geledere van bisarre kultusse soos die Israelwaarheid of sogenaamde Witboekers, wat aanspraak maak daarop dat Afrikaners kwansuis een van die sogenaamde verlore stamme van die volk Israel sou wees.
Welke model van teokrasie die organisasies hierbo ook al in gedagte het, vind ek dit 'n kommerwekkende denkrigting. Dit is veral kommerwekkend omdat dit weer eens lyk asof 'n beduidende aantal regse bewegings hierdie konsep steun, ook die mees bekendes. Die een kenmerk wat alle teokrasieë deel, en my groot beswaar teen een, is streng gedagtebeheer. Gedagtebeheer neem verskeie vorme aan, maar kom uiteindelik neer daarop dat die heersersklas almal wil dwing om op 'n Orwelliaanse wyse "reg" te dink. Afvalligheid van die heersende religie kan selfs met die dood gestraf word. In Saoedi-Arabië kan 'n Moslem wat openlik die Islam-religie afsweer, onthoof word.
Omdat die heersers in 'n teokrasie doodseker is dat hulle voortgesette heerskappy God se wil is, en dat God hulle inderdaad persoonlik aangestel het, is hulle nie vreeslik geneë om enige teenstand te duld nie. In lande soos Iran is dit dus gevaarlik om polities van die heersende klas te verskil. Vrouens is dikwels ook tweedeklasburgers in lande waar daar Abrahamiese religieuse leiers in beheer is. Vrouens mag tot onlangs toe nie 'n motor bestuur het in Saoedi-Arabië nie, byvoorbeeld. Sou die vergadering op Vegkop se planne vir 'n teokrasie realiseer, voorspel dit dus niks goeds vir demokrasie onder Afrikaners nie, en veral nie vir die posisie van Afrikanervrouens nie.
Nog 'n kenmerk van teokratiese regerings is beheer oor die media en selfs die internet. Hul burgers word dikwels afgeluister en sensorskap is aan die orde van die dag. Die religieuse leiers besluit wat hul onderdane mag lees en dink, en moniteer hul onderdane vir enige subversiewe optrede of denke. Research in Motion, die Kanadese vervaardigers van Blackberry-fone, is byvoorbeeld onlangs deur Arabiese lande gedwing om hul sekerheidskodes aan dié lande se veiligheidsagentskappe beskikbaar te stel, sodat daar ingeluister kan word op selfoongesprekke. Die teokratiese staat pas as 'n reël streng beheer toe oor waarna hul burgers op die TV mag kyk, waarna hulle oor die radio mag luister, en watter boeke hulle mag lees.
Afrikaners, ook gewone Christen-Afrikaners en diegene van 'n regse oortuiging, sal baie, baie mooi moet gaan sit en besin oor hierdie aangeleentheid. 'n Meerderheid van Afrikaners wil klaarblyklik selfbeskikking hê, te oordeel aan Beeld se gewraakte volkstaatpeiling 'n tydjie gelede. Vir my lyk dit egter asof 'n groot aantal van die organisasies wat 'n leidende rol kan speel in Afrikaners se strewe na selfbeskikking se konsep van wat selfbeskikking in die praktyk sou wees, strydig is met 'n moderne, Westerse konsep van 'n samelewing wat, glo ek, die meeste Afrikaners verlang.
Wil gewone Afrikaners werklik deel wees van 'n bestel waarin iemand anders namens ons besluit dat ons nie Richard Dawkins se boeke mag lees nie? Wil ons ons kinders na skole stuur waar iemand soos die YHWH-kultusse se bisarre godsdienstige sienings in die kinders se kele afgedruk word? Met bostaande in gedagte is dit vir my krities belangrik dat veral die Volksraadsverkiesingskommissie oop kaarte met die Afrikanerpubliek speel. Die VVK was teenwoordig op Vegkop. Is die VVK se beplande volksverkiesing bloot daar om die religieuse ouderlinge van die teokrasie te verkies? Een Afrikaner, een stem, een keer, en van dan af verder 'n religieuse staat en grootskeepse gedagtebeheer?
Ek as Afrikaner wil beslis nie hê dat iemand met 'n "two-tone" hempie, wat na sy beskeie mening dink dat hy deur "YHWH" (sic) aangestel is, namens my moet besluit wat ek mag dink, lees of aanbid nie. Ja, ek wil my vryheid van die ANC se dwingelandy hê asook die reg om oor myself te beskik. Ek wil egter nie die bloot die ANC en die linkse gedagtepolisie se dwingelandy verruil vir die dwingelandy van die godsdienstige gedagtepolisie binne 'n teokratiese staat nie.
| < Vorige | Volgende > |
|---|
Is 'n teokrasie die voorkeurmodel?




