'n Onderpresterende Springbokspan is niks nuuts nie. Kamp Staaldraad onder Straeuli was 'n verleentheid en die Wêreldbeker onder Straeuli 'n ramp. Onder Jake White het hulle vêr teen die Aussies en die All Blacks verloor.
Om die afrigter se hoof te eis agv onderprestasie, is eweneens niks nuuts nie. Jake White was in 2006 en 2007 nie 'n gewilde persoon onder diegene wat kommentaar lewer op internet-nuusberigte, of onder briefskrywers aan die koerante nie. Al wat 'n reaksie was op Sport24 met 2007 se Drienasies het White se kop geëis. 'n Paar maande later was White egter 'n held, toe die Springbokke, al was dit met 'n bietjie hulp van 'n Franse vorentoe-aangee, die Wêreldbeker verower het.
Kort daarná is White egter afgedank in 'n episode wat net sowel uit Shakespeare se Julius Caesar kon gekom het. Die afrigter wen die beker en word vir sy moeite in die pad gesteek, indien nie in die rug nie. White se pos is toe, soos alles wat saak maak in Suid-Afrika, getransformeer en aan ene Piet Helium gegee; iemand wie se skril stemmetjie en geweldige moestas moes kompenseer vir sy volslae gebrek aan toepaslike ervaring as afrigter op topvlak.
Dis een ding om 'n wenspan bloot op die wenpad te hou. Selfs Deon Maas, ja hý, sou sy eerste paar wedstryde met daardie span kon wen. 'n Nieu-Seelandse sportjoenalis het Piet Helium onlangs met 'n treindrywer vergelyk; iemand wat bloot voortstoom op die pad wat sy voorganger vir hom daargestel het.
Dis egter veel moeiliker en heeltemal iets anders om 'n verloorspan in wenners te verander. Laasgenoemde het nie in Rudolf Straueli se broek gesit nie. Jake White het dit reggekry, onder andere omdat hy eerlik was met homself oor sy eie tekortkominge en Eddie Jones se hulp ingeroep het.
Die gerugte loop al lank dat 'n kliek van spelers, wat John Smit insluit, die eintlike besluitnemers is in die Springbokspan. Dit word nie eens gefluister nie, maar sommer hardop gesê, dat die spelers geen vertroue het in Piet Helium nie. Piet Helium was egter minstens vir 'n wyle slim genoeg om nie te veel te karring aan 'n wenspan nie. Ongelukkig kon sy geluk nie voortduur nie. Beserings en die ouderdom sou mettertyd hul tol eis.
Fourie du Preez, waarskynlik die wêreld se beste skrumskakel, was die sleutelbesering wat getoon het dat keiser Piet nie klere aan het nie. Deur te volhard met die derderangse Januarie (goddank is daar nie 'n Februarie of Maart nie) ipv die Haaie se Ruan Pienaar, in Du Preez se plek, het Piet
Helium aangetoon hy is g'n kenner van taktiek nie, laat staan nog 'n strateeg. Hierdie vermoede is bevestig deur Helium se keuse van 'n senter,
Jean de Villiers, op vleuel, asook sy weiering om Frans Steyn op heelagter in te span. Die All Blacks het twee Saterdae ná mekaar die naaktheid van keiser Piet beaam.
Springbokrugby staan dus in 2010 weer eens voor 'n krisis, nes soveel krisisse van die verlede. Dis nie soseer 'n krisis op die speelveld nie, maar opnuut een langs die veld. Die Springbokke gaan waarskynlik verloor teen Australië Saterdag, maar dis nie groot probleem nie. Die groter
vraagstuk is wat in die Rugbywêreldbeker gaan gebeur, en die grootste vraagstuk is of Piet Helium ooit ontslaan mag word. Straeuli was vervangbaar en ontslaanbaar omdat hy 'n blote Afrikaner is. Piet Helium, die treindrywer, is egter nie daar omdat hy rugby ken of op Graham Henry se
rugby-vlak kan dink nie. Ons weet almal dat hy 'n politieke aanstelling is, iemand wat gekies is om 'n punt te maak in 'n sport wat tot nog toe te veel Afrikaners na die regime se sin gehad het.
Die groot Springbok-vraagstuk is dus nie wen of verloor in die Drienasies of 2011 RWB nie. Nederlae met Piet Helium in die lokomotief is 'n gegewe. Die groot vraagstuk is hoeveel opeenvolgende nederlae teen Georgië of Italië die Springbokke sal moet ly, alvorens Piet Helium uit die lokomotief sal moet klim.
| < Vorige | Volgende > |
|---|
Die groot Springbokvraagstuk




