praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Thursday, 17. May 2012

Bygewerk op:04:37:53 AM GMT

Jy is hier: Anton Barnard Swak kliëntediens in die Kaapse toerismebedryf

Swak kliëntediens in die Kaapse toerismebedryf

E-pos Afdruk PDF

Alhoewel die Weskaap enorme toerismepotensiaal het, laat diegene in die toerismebedryf se diens dikwels veel te wense oor. Ek sou dog dis ‘n gegewe dat, sou jy wil geld maak uit toerisme, jy moet werk wanneer ander mense op vakansie is, nie waar nie? Jy moet veral nie nee sê wanneer ‘n toeris op jou drempel opdaag en aan jou sy geld wil oorhandig nie.

Skynbaar werk dinge egter nie so in die Kaap nie. Gaan probeer gerus om ‘n oop restaurant te kry op die 1ste of 2de Januarie enige plek buiten die Waterfront in Kaapstad, byvoorbeeld in Hermanus. Dis godsonmoontlik. Desember is die besigste tyd van die jaar vir die Kaapse toerismebedryf. Daar is hordes Vaalies soos ek asook Pommies en Duitsers daar op vakansie. Ons wil almal ons geld aan die Kapenaars en hul restourant-eienaars gee, maar o, weë, klaarblyklik sien hulle dit nie as belangrik om oop te wees wanneer hulle die meeste besoekers kan kry nie. Dit herinner my aan Italië, waar baie eetplekke toe is tussen 12 en 4, omdat die eienaars self middagete wil eet. Hoe onredelik tog van my, ‘n blote toeris, om iets anders van die luigat Taljaners en Kapenaars te verwag.

Ook lyk dit my maak hulle soveel geld dat hulle nie juis belangstel daarin om besprekings af te neem nie. Ek probeer hierdie week per epos ‘n bespreking maak vir Sondag (let wel: dis ‘n langnaweek, dus kan hulle weer eens baie toeriste verwag), by ‘n epos-adres wat ek op restaurants.co.za gekry het. Ek kry ‘n antwoord terug van iemand wat my inlig dat die persoon nie meer daar werk nie. Halloooo!!!! Nie “jammer, meneer, sy werk nie meer hier nie, kan ek jou help?” nie, nee, ‘n blote fok-jou epos. Ek is duidelik besig om die persoon te irriteer met my lastige navraag. Ek probeer toe maar weer, na ‘n ander, algemene adres toe. Kry ‘n kortaf antwoord dat my epos na die restourantbestuurder gestuur sal word. Tot vandag toe niks gehoor nie, nodeloos om te sê. As ek hulle baas was, sou sulke luigatte se loopbaanvooruitsigte uiters beperk gewees het, maar aan die ander kant is die bestuurder self stellig ewe lui.

Ek gee toe maar moed op, en stuur eergister ‘n ander epos aan ‘n ander plek, wat ek eers op die onredelike uur van 10 uur in die oggend probeer bel het, sonder sukses. Raai-raai: het ek ‘n antwoord gekry, twee dae later? Nee. Beide hierdie plekke is groot ondernemings met bekende handelsname, maar verwerdig hulle hulself om ag te slaan op ‘n blote toeris? Moenie glo nie.

Miskien is daar ‘n rede waarom slegs sommiges die Groot Trek aangepak het. Smaak my die luies het agtergebly.


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: