Heelwat mense is baie kwaad vir Julius Malema. Dr Pieter Mulder het ‘n klag teen Malema gaan lê by die SAPD. Steve Hofmeyr weier om saam met ons president te braai, omdat die ANC nie vir Malema in die bek wil ruk nie. Dít, en stellig ‘n titseltjie professionele jaloesie. As daar een man is in Suid-Afrika wat besiger is as Steve met die skoner geslag, is dit oom Jacob.
Met respek aan almal wat kwaad is vir Malema, ek dink hulle mis die punt. Kom ons neem dr Mulder as voorbeeld. Alhoewel hy en die VF+ hard probeer, stem minder as 200 000 kiesers vir hulle. Afrikaners is hoogstens louwarm teenoor die VF+.
Mens kan hoegenaamd nie dieselfde sê oor blankes se gevoelens teenoor Malema nie. Louwarm is die meerderheid van ons beslis nié waar dit by Malema kom nie. Inteendeel; die blote noem van Malema se naam in meeste blankes se teenwoordigheid is gewaarborg om hul bloeddruk te verhoog na gevaarlike vlakke. Julius Malema is veel meer effektief as ‘n vormer van blanke menings as wat enige Afrikanerorganisasie of -party ooit kan wees.
So tien, vyftien jaar terug was meeste van hierdie einste blankes egter ironies genoeg meegevoer deur die gees van euforie wat saam met die aankoms van die sogenaamde reënboognasie gekom het. Menige blanke het ‘n nattigheid in die oog gekry toe die voormalige saboteur - aan sommiges as Madiba bekend - François Pienaar se nommer-6-trui aangetrek het daardie dag op Ellispark. Die hagiografieë en lofsingery in die liberale pers aan Mandela en al wat ‘n ander middelmatigheid in die ANC was, byvoorbeeld Oliver Tambo, het hiertoe bygedra.
Ons blankes het onsself probeer oortuig dat Suid-Afrika op ‘n manier anders sou wees. Die pers, gelei deur ANC-rasieleiers soos Mad Max du Preez, het ons dag ná dag vertel welke wonderwerk die NSA kwansuis sou wees, en baie van ons het geglo dat ons tog ánders was. Ons het gerieflikheidshalwe die oorweldigende getuienis van bykans elke land noord van ons grense geïgnoreer.
Malema het hierdie illusie nekom gedraai. Hy is die argetipe van die Afrika-politikus: onnosel, opruiend, gierig, korrup, noem maar op. Malema sien homself skynbaar as ‘n Struggle-held, al het die Struggle verander in ‘n struggle vir tenders en geleenthede om die belastingbetaler te plunder. Hy is weliswaar ‘n opruier par excellence. Hierin is hy weliswaar suksesvol. Ten spyte van sy akademiese prestasies (aldan nie), is dit nie slegs die ongewaste swart massas wat Malema vir ‘n held aansien nie, maar ook die intellektuele onder die jong swartes. Malema het byvoorbeeld sy nuutste haatspraak teen blankes voor ‘n studentegehoor gepleeg, een wat hom luid toegejuig het.
Malema is egter sowat dertig jaar te laat om die swart massas te bevry. Hulle het reeds hulle Oehoeroe, maar is skynbaar steeds nie tevrede nie, want hulle gooi steeds klippe en brand steeds biblioteke af. Daar is wel diegene wat in die proses is om deur Malema bevry te word. Die geweldige ironie is dat daardie bevrydes blankes is. In ‘n klassieke geval van die wet van onbedoelde uitkomstes, is Malema besig om die oorblywende reënboognasie-illusies, dié wat nog kon staande bly in die aangesig van ongebreidelde misdaad, verval, korrupsie en wanbestuur, te vernietig - by blankes, van alle mense!
Malema is besig om blankes te bevry van ons wanpersepsies, van ons illusies, van ons gebrek aan realisme oor hoe dinge in Afrika werk. Ek sê dit al lankal: elke keer as Malema sy mond oopmaak, genees hy nóg 1 000 blankes van hulle geestesongesteldheid bekend as liberalisme. Dit is slegs die agtergelatenes, rubriekskrywers vir Rapport, onder andere, wat steeds ‘n wanhopige dog verlore stryd voer teen die gees van realisme wat Malema bykans op eie houtjie onder blankes kom vestig het.
Ek sien hierdie nuwe gees van realisme (asook Malema self) as ‘n uiters positiewe verwikkeling. Realisme is ‘n voorvereiste vir daadwerklike probleemoplossing. Omdat blankes deur Malema bevry is van ons illusies dat Suid-Afrika en die ANC op ‘n manier anders sou wees as enige ander Afrika-piesangrepubliek, kan ons nou meer realistiese planne begin maak as om ons hoop te vestig op die fundamenteel onwerkbare reënboognasie. Malema het op eie houtjie vermag wat al die blanke organisasies wat al vir jare lank probeer om blankes attent te maak op die realiteite, nie kon regkry nie.
Viva Julius Malema, die bevryder van die blanke!
Lees ook ander artikels op Anton Barnard se woernaal, SAmizdat.
| < Vorige | Volgende > |
|---|
Julius Malema – bevryder van die blanke




