Daar woed tans ‘n groot storm oor Julius Malema se miljoene, wat hy uit sy tenderpreneurskap “verdien” het. Al wat ‘n koerant is dra dit as voorbladnuus, en ek is seker dat daar in die komende weke groot gewag gemaak gaan word hiervan deur al wat ‘n redakteur en briefskrywer aan ‘n koerant is. Dié ontstokenheid spreek egter myns insiens van ‘n fundamentele gebrek aan begrip oor die ware aard van politiek op hierdie vasteland. Diegene wat ontstoke is oor Malema se miljoene, verstaan duidelik nie wat ons op onsself losgelaat het met 1992 se referendum nie.
Politiek is maar ‘n morsige spulletjie, selfs in Westerse lande. Daar is oral rugstekery, gekonkelry en oneerlikheid. Nietemin is daar in die meeste Westerse demokrasieë ten minste ‘n voorgeëry dat dit gaan daaroor om die land te verbeter, of om die land se bevolking tot diens te wees. In ‘n Westerse demokrasie verwag die kiesers weliswaar dat daar vuilspel sal wees, maar as die vuilspel te erg is, soos met die Watergate-skandaal, word die regerende party in die volgende verkiesing uitgestem. Sodoende is daar minstens sprake van toerekeningsvatbaarheid.
Bogenoemde toerekeningsvatbaarheid en ‘n voorgee dat dit sou gaan om dienslewering aan die publiek, bestaan egter nie in Afrika nie. Afrika-politici pleeg politiek met een, en slegs een, doel voor oë: dit gaan oor plundery. Politieke mag beteken bloot toegang tot geleenthede om die land se rykdom te plunder. Dit gaan allermins oor die verbetering van die samelewing. Die kiesers verstaan laasgenoemde baie goed. Daarom sal hulle klippe gooi oor swak dienslewering, maar dan in die volgende verkiesing soos tropdiere vir die regerende party stem. Die Afrika-kieser verstaan wat baie van ons Westerlinge nie verstaan nie: die betogende kieser in Balfour wil nie die ANC ontset nie. Hy wil self ‘n raadslid word, sodat hy ook sy beurt kan kry om te plunder. Selfs Sint Mandela, daardie heilige van die liberalis, het deelgeneem aan dié plundery. Hoe anders het Mandela aan sy rykdom gekom? Waar kom sy stigting aan sy geld? Hoe bekostig hy sy verskeie huise en hou hy sy lewensstyl vol? Hy was slegs vir vier jaar lank president, en het in daardie tydperk sowat ‘n miljoen rand per jaar aan salaris verdien. Dis kwalik ‘n fortuin.
Malema is dus niks indien nie verteenwoordigend van die Afrika-politikus se inherente aard nie. Sy organisasie, die ANCYL, maak al lankal gebruik van die geleenthede tot plundery wat hul politieke mag hulle bied. Dikwels heul Westerlinge en Westerse maatskappye met die plunderaars om hul doelwitte te bereik. Oliemaatskappye betaal omkoopgeld aan politici in Nigerië en Angola. ‘n Blanke sakeman en beweerde rampokker, Brett Kebble, het glo miljoene aan die ANCYL geskenk, sodat Kebble politieke gunste by laasgenoemde kon bekom.
Derhalwe hoort die nuutste “onthullings” oor Malema se rykdom niemand te verbaas nie. Natuurlik is hy ryk – hy is immers ‘n Afrika-politikus. Die feit dat diegene wat onstoke is oor sy rykdom hulself opwerk, spreek bloot van ‘n opperste naïewiteit en ‘n grootskeepse gebrek aan begrip oor Afrika se politiek van plundery, en waaroor die “demockracy” eintlik in Afrika gaan.
| < Vorige | Volgende > |
|---|
Malema en ons wanbegrip oor die politiek van plundery




