Die Afrikaanse dagblad Beeld het ‘n peiling op sy webwerf gehou wat gevra het of sy lesers, wat byna almal Afrikaners is, ‘n volkstaat sou steun. ‘n Volslae meerderheid, 54%, het gesê ja. ‘n Verdere 19% het gesê dit hang af. Sowat sewentig persent van Beeld se lesers sou die gedagte dus moontlik steun.
Beeld het die peiling opgevolg met ‘n stuk linkse propaganda verbloem as ‘n redaksionele stuk wat kommentaar gelewer het oor die peiling, wat weer eens toon hoe uit pas Beeld met sy lesers is. Alhoewel tot soveel as 70% van sy lesers voel dat hulle nie meer lus is vir die reënboognasie nie, blaas Beeld steeds in dié rubriek die uitgediende vuvuzela van die gefaalde Azaniese staat, en verkwansel hy steeds sy multi-kulti perdevye as soetkoek. Die vuvuzela wat Beeld blaas se deuntjie is die ou-ou een: Afrikaners sal sink of swem saam met die res van Mzansi. Dis ‘n belaglike argument, soortgelyk daaraan vir ‘n passasier op die Titanic om vol te hou hy wil nie op ‘n reddingsboot klim nie, want hy wil graag saam met die skip sink.
Die peiling se uitkoms was nietemin ‘n baie verblydende uitslag vir my. Dit lyk of die meerderheid Afrikaners uiteindelik die skrif aan die muur gesien het. Suid-Afrika was toe nié anders as enige ander Afrikaland suid van die Sahara nie, het Jan Alleman besef. Die ANC was toe nie die redders wat aan ons voorgehou is nie. Suid-Afrika is nie spesiaal nie, en ook nie sy swart regering nie. Dit is bloot nog ‘n Afrikaland, met alles wat dit impliseer: endemiese misdaad, verval, wanbestuur, korrupsie; ‘n land wat onderworpe aan die stelselmatige verdomming en ‘n versnelling na agterlikheid wat so kenmerkend van post-koloniale Afrika is. Selfs Beeld se redaksionele stuk erken noodgedwonge dat laasgenoemde die geval is.
Die uitslag van die peiling is die goeie nuus. Dit lyk of die tyd ryp is vir selfbeskikking.
Die raaiselagtige verskynsel, en die minder goeie nuus, is egter dat Afrikaners, die meningspeiling ten spyt, skynbaar die volkstaatgedagte slegs in die teorie steun. Op voetsoolvlak het ons wat Afrikaners is skynbaar ander prioriteite as ‘n volkstaat. Die Vryheidsfront Plus is immers sedert sy ontstaan reeds by uitstek die voorstaander van dié gedagte, maar die groot meerderheid blankes, meer as 90% van die blanke kiesers, ook Beeld se lesers, stem eerder vir die DA as vir die VF+. Die VF+ se gedagte was vir ‘n volkstaat aan die Weskus, met Orania as die beginpunt. Daar is so ‘n kaart op die VF+ se webwerf.
Of is dit so raaiselagtig dat Afrikaners die volkstaat as slegs goeie plan beskou in die abstrakte? Ek dink nie so nie.
Ek het nou kennelik die voordeel van ‘n 20/20 geskiedenisvisie, maar die eerste probleem is dat Orania bykans sinoniem geword het met die volkstaatgedagte. Dit was ‘n fout om Orania aan die volkstaatgedagte te koppel. Daar gaan mense wees wat nou kwaad gaan wees vir my, maar as ons eerlik met onsself moet wees, sal ons moet toegee Orania het nie gewerk nie en dat die VF+ sy geld gevolglik destyds op die verkeerde perd verwed het.
Daar was tot onlangs toe minder as 1000 inwoners, dws minder Afrikaners as wat daar in ‘n kleinerige voorstad van Centurion of Kaapstad woon. Voorts is Orania se behoudende lewensuitkyk nou nie juis iets wat ek vermoed aanklank sal vind by jongmense nie. Beeld se berig lê op sarkastiese wyse sy vinger op die probleem: volgens Beeld se rubriek verkies die Afrikaners eerder die Menlynpark-winkelsentrum. Beeld is helaas reg. Pieter Mulder, die leier van die VF+, asook die VF+ se topleierskap, woon nie een eens in Orania nie, omdat daar geen ekonomiese geleenthede daar is nie. Praktiese oorwegings weeg swaarder as ‘n volkstaat. Dis nie onverwags nie. Bitter min Afrikaners gaan uit hul poste bedank en die risiko neem om na ‘n woestynstreek te verhuis wat sonder werksgeleenthede is, al kla hulle oor die simptome van ‘n vervallende Afrikaland.
Omdat Orania se sukses heel beperk is, word die volkstaatgedagte en dus selfbeskikking vir Afrikaners met dieselfde kwas geteer. Omdat Orania nie uit sy nate bars nie, sal selfbeskikking ook nie werk nie, word geïmpliseer. Selfs die VF+ sal dit erken, soos mens duidelik kan agterkom uit die VF+ se bykans totale stilte oor die Noordkaapse volkstaat deesdae. Om te sê die VF+ is deesdae selfs louwarm oor ‘n volkstaat, sou wees om dinge te oordryf. Dit is gevolglik al te maklik vir opponente van selfbeskikking om ‘n vinger na Orania te wys en te sê: “Daar’s julle volkstaat, maar julle eie mense stel nie eens belang nie.” Sodoende word die gedagte van selfbeskikking as onbelangrik en doodgebore afgemaak, juis omdat die publiek Orania en selfbeskikking noodwendig met mekaar assosieer.
Daar is egter ‘n probleem wat selfs groter as die publiek se persepsies van Orania is. Dit is naamlik dat selfbeskikking en ‘n volkstaat, dws ‘n afgebakende, onafhanklike gebied, bykans sinoniem geword het. Mense sal stellings maak soos dat ‘n onafhanklike grondgebied ‘n voorvereiste is vir selfbeskikking. En nie net sommer énige grondgebied nie: dit moet een wees met seetoegang, anders as heelwat ander suksesvolle lande soos die sjarmante Switserland, Oostenryk, Tsjeggië, Luxembourg en ander plekke wat op ‘n verbysterende wyse daarin slaag om as lande te oorleef sonder seetoegang of ‘n hawe. Luister jy na hierdie mense, moet mens eers die stuk grond en dan selfbeskikking kry.
Sê wie?
Die Palestyne en Israel baklei donkiejare al oor grondgebied, maar nietemin het die Palestyne ‘n groot mate van selfbeskikking en ‘n eie owerheid, die PO. Die PO bestaan al is daar laslappies van Israel se nedersettings op die Wesoewer (die gewaande gebrek aan lewensvatbaarheid van laslappies is nog ‘n gunstelingbeswaar.) Die Baske in Spanje geniet heelwat outonomiteit, maar Spanje se grondgebied is nie verdeel in twee afsonderlike lande nie. Die Duitse volk is nie ‘n sinoniem vir die Duitse grondgebied nie. Die Afrikanervolk is ook nie noodwendig gebiedsgebonde nie. Daar bly immers sowat 150,000 jong Afrikaners op enige tydstip in Londen. Die Jode is stellig die beste voorbeeld van ‘n volk wat dwarsoor die wêreld versprei is, en tot 1948 toe geen grondgebied gehad het nie. Wat verhoed Afrikaners om ‘n eie owerheid tot stand te bring? Beslis nie die huidige gebrek aan ‘n grondgebied nie, behalwe natuurlik as iemand my wil vertel dat ons nie sulke goeie bestuurders as die Palestyne kan wees nie.
Al is hy tans in die praktyk hoogstens louwarm teenoor die gedagte van selfbeskikking, bly die VF+ nietemin steeds ‘n sleutelrolspeler in hierdie verband. Die VF+ se prestasie by die stembus is hoeka reeds op ‘n afwaartse trajek. Vernuwing is duidelik nodig. Die beste stuurmanne staan mos altyd aan wal, maar as hierdie stuurman die VF+ van raad kon bedien, sou ek die volgende voorstel.
1. Beweeg weg van die gedagte van onmiddelike territoriale onafhanklikheid, en lê klem op selfbeskikking, in teenstelling met ‘n eie land of ‘n volkstaat as ‘n mediumtermyndoelwit. Kry sodoende eindelik iets wat ‘n differensiator is tussen die VF+ en die DA: waar die DA ‘n multi-kulti ANC-lite is, hoort die VF+ na my mening sy naam gestand te doen en hom te beywer vir selfbeskikking, soortgelyk aan dié wat die Baske en Katalane in Spanje geniet, of dan die PO.
2. Die heel eerste stap in hierdie proses is die totstandkoming van ‘n Afrikanerowerheid, ‘n verkose liggaam wat onafhanklik van ‘n politieke party staan, en wat ten doel het om van die regeringsfunksies wat die ANC regime in elk geval nie kan lewer nie, aan Afrikaners te verskaf. Veiligheid is die aangewese beginpunt.
3. Drink maar die onaangename medisyne en stap af van die Orania / Noordkaapgedagte. Dis doodgebore en ‘n albatros om die nek.
4. Maak ‘n eie grondgebied of, na my mening, grondgebiede rondom Pretoria en in die Weskaap, die langtermyndoelwit.
Beeld se peiling het getoon dat iets tussen 50% en 70% van Afrikanerkiesers reg is om die gedagte van selfbeskikking te steun. Die VF+ se stempersentasie is onder die 9%, wat beteken dat iets tussen 40 en 60% van die Afrikanerkiesers reg is om selfbeskikking te ondersteun, maar in weerwil daarvan vir ‘n liberale reënboognasieparty stem. Is dit net ek, of wink hier ‘n gróót geleentheid vir die VF+?
Lees gerus ook Anton Barnard se woernaal, SAmizdat.
| < Vorige | Volgende > |
|---|
Beeld se volkstaatpeiling: ‘n geleentheid vir die VF+?




